Meteoriete

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Meteoriete

May 31, 2021 geologie 0

GEOLOGIE VAN SUID-AFRIKA 5:

Meteoriete

François Durand

Soorte meteoriete

Meteoriete kan uit ys, rots en metaal of mengsels daarvan bestaan.  As ‘n soliede liggaam vanuit die ruimte die oppervlakte van ‘n hemelliggaam tref word dit ‘n meteoriet genoem.  Meteoriete is gewoonlik ‘n komeet, ‘n asteroïede, of ‘n brokstuk van ‘n ander hemeliggaam wat weens ‘n impak in die ruimte ingeslinger is.  Meestal is meteoriete klein maar soms, soos in die geval van die meteoriete wat die Vredefort Koepel en Chicxulub Krater gevorm het, was hulle kilometers in deursneë.

Die meteoor kan vanaf ‘n paar kilometer per sekonde tot 72 km per sekonde deur die ruimte beweeg voor dit in die Aarde se atmosfeer kom.  Wanneer die oorspronklike brokstuk die atmosfeer binnedring, veroorsaak verskeie faktore soos druk en wrywing en chemiese interaksie met atmosferiese gasse, dat dit verhit en energie uitstraal om ‘n vuurbal of bolied te vorm.  Op hierdie tydstip word dit ‘n meteoor of, in leketaal, ‘n verskietende ster genoem.  Wanneer dit die oppervlakte van die hemelliggaam tref word dit ‘n meteoriet genoem.  Meeste klein meteore brand in die atmosfeer uit en tref nooit die grond nie.  Meeste van die verskietende sterre wat mens dikwels in die nag kan sien is maar so groot soos ‘n ryskorrel.

Die meerderheid meteoriete is rotsagtig en word as chondriete of achondriete geklassifiseer.  Ongeveer 86% van meteoriete is chondriete wat uit klein ronde korrels of chondrules bestaan, terwyl achondriete geen chondrules bevat nie.  Die chondrules bestaan hoofsaaklik uit 4.55 miljard jaar oue silikaatmateriale wat waarskynlik in die ruimte as losdrywende partikels ontstaan het.  Sekere chondriete mag klein hoeveelhede organiese materiaal, insluitende aminosure, bevat (sien die artikel: Ontstaan van lewe in die Paleontologie Afdeling).  Chondriete word soms as die boustene van die planete beskou want dit bevat, soos komete, van die oudste materiaal in die Sonnestelsel.

Ongeveer 8% van meteoriete is achondriete en sommige van hulle is baie soortgelyk aan stollingsgesteentes wat op Aarde voorkom en is waarskynlik die brokstukke van planetesimale wat tydens botsings met mekaar en asteroïede opgebreek het.  Twee klein groepies jong achondriete is, volgens hulle chemiese samestelling, van die Maan en Mars afkomstig.

Omtrent 5% van meteoriete is ystermeteoriete.  Hierdie meteoriete kom heelwaarskynlik van die kerne van planetesimale.  Net soos op die Aarde, het die digter, swaarder materiaal van ‘n planetesimaal na die middel van die hemelliggaam gesink en die kern gevorm terwyl die ligter silikaryke materiaal bo bly dryf het en die kors gevorm het.

Die oorblywende 1% van meteoriete is ‘n mengsel van metaal (gewoonlik yster-nikkel) en silikaatmateriale wat tussen die kern en die kors van die planetesimale gevorm het, voor die planetesimaal met ‘n impak verbrokkel het.

Wat is ‘n meteorietimpakstruktuur?

‘n Meteorietimpakstruktuur of astrobleem (“ster wond” in Grieks) is enige geologiese struktuur op Aarde, of enige ander hemelliggaam, wat deur ‘n meteorietimpak gevorm is, wat natuurlik kraters insluit.  Impakstrukture kom op rotsagtige planete, mane en selfs asteroïede voor.

Impakstrukture is baie opsigtelik op mane en planete waar daar nie ‘n atmosfeer voorkom nie want atmosfere gaan gepaard met wind en reën wat die oppervlakte van hemelligame erodeer en sodoende kraters mettertyd wegverweer.  Die effek van tektoniese kragte, ys en lawa en lewensvorme sal ook kraters mettertyd vernietig.  Hierdie verwering veroorsaak dat amper alle bewyse van impakstrukture van die Aarde se oppervlakte vernietig is terwyl die Maan en Mercurius, wat geen atmosfeer het nie, se hele oppervlakte met meteorietimpakkraters oortrek is.

‘n Impakstruktuur verwys na die verwringing van die kors (gewoonlik in ‘n ronde en hol vorm), en in sommige gevalle die gedeeltelike smelting van die korsmateriaal en uitskot, of ejekta, wat uit verbrokkelde rots bestaan.  Die woord impakstruktuur verwys na enige teken wat ‘n meteorietimpak in die kors gelaat het, ongeag die stadium van verwering.  Met ander woorde selfs al is die krater wegverweer en daar is genoegsame geologiese getuienis van so ‘n impak, word dit nog steeds ‘n impaktruktuur genoem.  ‘n Impakkrater verwys daarenteen slegs na die herkenbare krater.  In meeste gevalle, op Aarde, is die oorspronklike krater deur verwering vernietig maar die vervormde rots, en in sommige gevalle die gedeeltelik gesmelte rots, splinterkeëls en uitskot van die impakstruktuur, mag steeds sigbaar wees.

Hoe word impakstrukture gevorm?

Oorspronklik, met die ontstaan van ons Sonnestelsel, het die Son, Aarde, Maan en al die ander planete, mane en meeste van die asteroïede in die protoplanetêre skyf deur akkresie gevorm.  Asteroïede het met mekaar gebots en algaande groter massas gevorm, en hoe groter die massa van die hemelliggaam geword het, hoe groter het sy aantrekkingskrag geword wat daartoe gelei het dat dit nog meer gas, stof, ys en asteroïede uit die ruimte daarna aangetrek het.  So het asteroïede al groter geword, mikro-planete en planete in die protoplanetêre skyf ontstaan en mettertyd in stabiele formasie rondom die son in hulle huidige wentelbane om die Son en mekaar gevestig geraak. 

Oorspronklik, 4.6 tot 4 miljard jaar gelede, het meteoriete op die jong aarde, ook bekend as die Hadeïese Aarde, se oppervlakte neergereën soos wat asteroïede uit die planetere skyf deur die Aarde se gravitasieveld aangetrek was.  Groot meteoriete (tot 500 km in deursneë) het gereëld die jong Aarde tydens die Groot Bombardement getref.  Mettertyd, soos wat die grootste asteroïede naaste aan die planete, hul mane en die Son deur die aantrekkingskrag van daardie hemelliggame aangetrek is, het die interplantêre ruimtes al hoe leër geword en die meteorietimpakte het algaande al hoe minder geword.  Komplekse lewe op aarde -soos diere en plante sal oombliklik uitgewis word as ‘n reuse meteoriet, tiene tot honderde kilometers in deursneë, die Aarde tref. 

In baie gevalle is die meteorietimpak so groot dat die meteoriet en die impaksone vergas.  Die meteoriet mag in sekere gevalle die aardkors teen 700 km per sekonde tref – veel vinniger as ‘n koeël wat maar ‘n paar honderd meter per sekonde trek. Temperature van tot 2370°C word tydens so ‘n impak gegenereer.  Dit verklaar hoekom daar dikwels geen meteoriet in die middel van ‘n impakstruktuur gevind word nie.  Soms spat gesmelte aardkors uit so ‘n impakkrater en vorm tektiete wat dikwels met brokstukke van die meteoriet verwar word, tot mens die chemiese samestelling daarvan toets om te bepaal of dit uit aardkors of meteorietmateriaal bestaan.

Twee van die beste impakstrukture ter wêreld

Suid-Afrika besit twee van die bes-bewaarde impakstrukture ter wêreld – Tswaing Krater en die Vredefort Koepel.  Tswaing Krater is wes van Pretoria geleë terwyl die Vredefort Koepel in die omgewing van Parys, Koppies en Vredefort geleë is.  Dit is een van die groot tragedies van ons land dat ons van die interessantste geologiese verskynsels ter wêreld het waarna selfs in geologie handboeke wêreldwyd verwys word, maar tog weet meeste Suid-Afrikaners niks hiervan nie.

Beide die Tswaing Krater en Vredefort Koepel is uiters geskik vir toerisme want beide is naby die N1 geleë en beide het genoeg infrastruktuur soos gastehuise, hotelle en restourante en paaie om die toerismeverkeer te hanteer.  Jy gaan egter bedroë daarvan afkom as jy inligting oor plekke soek waar mens besieningswaardighede soos splinterkeëls, pseudotacheliet of mantelmateriaal kan besigtig.  Jy moet ook maar nie op die uitkyk wees vir padwysers wat jou ‘n aanduiding sal gee waar enige van hierdie kraters, uitkykpunte, besieningswaardighede is nie, want nes enige van ons Wêrelderfenisgebiede, maak ons dit nie vir toeriste maklik om die plekke te kry of te sien nie.  Die beste raad is om goed voor die tyd navorsing te doen sodat jy weet waarheen jy wil gaan en wat jy wil sien.

 

Tswaing Krater

Die Tswaing Krater het ongeveer 220 000 jaar gelede gevorm toe ‘n rots-meteoriet of chondriet, van ongeveer 30-50 m in deursneë, die aardkors, 40 km noordwes van waar Pretoria vandag geleë is, getref het.

Die slag het ‘n krater van 1.13 km in deursnee en honderde meter diep gelaat.  Oor die honderde duisende jare heen het die kraterwand verweer en die krater het gedeeltelik met sediment opgevul sodat die hoogte van die kraterrand ongeveer 100 m bo die middelpunt van die krater uittroon.

Die middelpunt van die krater is egter nog steeds laer as die omringende landoppervlak geleë wat veroorsaak dat die grondwater en reënwater ‘n meer binne die krater vorm.  Minerale wat uit die omliggende gesteentes oplos en nie in riviere na die see toe kan wegspoel nie, bou binne die meer op wat die water baie sout maak.  Soutkristalle vorm rondom die meer waar die water opdroog.

Die steenwerktuie wat binne en om die krater ontdek is dui daarop dat mense reeds vir ten minstens 100 000 jaar na die krater gekom het om sout te versamel.  Soutpan word ook Tswaing genoem wat “Plek van sout” bedoel.  In die eerste helfte van die vorige eeu was die water van die meer vir sout en natriumkarbonaat deur SA Alkali Ltd. gemyn.

Die Tswaing Kraters is een van die bes-bewaarde impakkraters in die wêreld en is digby Pretoria geleë.  Toegang tot die Tswaing Krater is spotgoedkoop in vergeleke met ander besienswaardighede in die land en dis regdeur die jaar oop behalwe op Goeie Vrydag, Kersfees, die dag na Kersfees en Nuwejaarsdag.

Aanwysings: Van Pretoria neem die R80, rigting Soshanguve.  Draai noord op Mopanieweg (M35) vanuit die R80 en links op Soutpanweg.  Die Tswaing Krater ingang is aan jou linkerkant.

 

Vredefort Astrobleem of Impakstruktuur

Die Vredefort Astrobleem is die oorblyfsel van die grootste bekende meteorietimpak op Aarde.  Die oorspronklike meteorietimpakkrater was 160-300 km wyd met ‘n rand van ten minstens 5 km hoog.

Die Aarde was 2.023 miljard jaar gelede, naby waar die dorp Vredefort vandag is, deur ‘n meteoriet van ongeveer 10-15 km in deursneë teen ongeveer 10 km per sekonde (36 000 km per uur) getref.

Na bykans 2 miljard jaar se verwering is die oorspronklike kraterwand wegverweer maar daar is talle strukture van die meteorietimpak wat nog steeds sigbaar is.  Die mees opmerklike struktuur, wat selfs vanuit die buitenste ruimte sigbaar is, is die sogenaamde kraaggebied waar die oorspronklike koepel in die middel van die krater was.  Hierdie reekse sirkelvorminge heuwels, met ‘n deursnit van ongeveer 70 km, bestaan uit geologiese lae wat deur die impak vertikaal opgebuig is.  Nadat die sentrale koepel grootliks wegverweer het, het hierdie kraaggebied van heuwels oorgebly.

Slegs die noordwestelike helfte van die Vredefortimpakstruktuur is sigbaar aangesien die suidoostelike helfte nog steeds deur die lae van die heelwat jonger Karoo Supergroep (die sedimentêre gesteentes van die Dwyka, Ecca en Beaufort Groepe bedek word).  In die noordwestelike helfte het die Karoo Supergroep, wat eens op ‘n tyd die hele Suider-Afrika bedek het, reeds wegverweer en so is die ouer onderliggende lae ontbloot.

Die impak het die onderliggende geologiese lae wat die Ventersdorp en Witwatersrand Supergroepe, wat tussen 950 en 700 miljoen jaar vroeër neergeset was, verwring.  Dit verklaar twee verskynsels – eerstens die feit dat die rotslae wat die kringe heuwels in die kraaggebied vorm, vertikaal geöriënteer is en tweedens dat die rotslae waarin die goudriwwe van die Witwatersrand, die Verre Wes Rand en die Vrystaat in die rigting van die Vredefortkoepel toe hel.

Een van die interessantste aspekte van hierdie krater is dat die impak so geweldig groot was, dat die onderliggende mantelmateriaal, wat normaalweg gemiddeld 40 km onder die kontinentale aardkors geleë is, in die lug opgebons het en in die middel van die krater, op die oppervlakte as ‘n koepel versteen het.  Hierdie mantelmateriaal, waarop Vredefort en Parys geleë is, bestaan hoofsaaklik uit granietgneis. 

Valhalla Krater op Callisto, een van Jupiter se mane, met sy kraterrand wat uit konsentriese berge bestaan en Herschel se Krater op Saturnus se maan Mimas met sy middelste koepel, dien as ‘n goeie voorbeelde van hoe die Vredefort Krater eens op ‘n tyd gelyk het.

Die konsentriese ringe heuwels in die kraaggebied bestaan uit rotse van verskillende ouderdomme en samestellings.  Die binneste en hoogste ring heuwels, wat sowat 25 km van die middelpunt van die impakstruktuur lê, behoort aan die Witwatersrand Supergroep, wat verweringbestande kwartsietlae en groensteen bevat.  Die tweede ring heuwels wat ongeveer 35 km van die middelpunt van die impakstruktuur lê, bestaan uit Ventersdorp lawas.  Die Transvaal Supergroep gesteentes vorm die derde 25-30 km wye buitenste ring rondom dit.  As mens verder noord en wes weg van die kraaggebied reis dan draai die orde van die opeenvolging van geologiese lae om en sal mens weer oor die Ventersdorp lawas reis voor mens by die gesteentes wat die Witwatersrand Supergroep vorm waar die Witwatersrand geleë is.  Die enigste rede hoekom die geologiese lae van die Witwatersrand Supergroep met sy massiewe goudreserwes bestaan en nie oor die laaste 2 miljard jaar wegverweer het nie, is omdat die uitskot van die meteorietimpak dit vir so lank bedek het.

Daar was vir lank bespiegel of die Vredefort Koepel die oorblyfsels van ‘n baie groot vulkaan was en of dit ‘n meteorietimpakstruktuur was.  Uiteindelik het geoloë in die 1990’s drie verskynsels gevind wat uiteindelik die meteorietimpak-oorsprong van Vredefort Koepel bewys het:

  1. Pseudotacheliet – die intense hitte van die impak het rotslae daaromheen gesmelt wat ‘n swart smeltrots gevorm het. Brokstukke van ander gesteentes het hierin rondgedobber tot dit alles weer gestol het.  Geen oorblyfsels van die oorspronklike meteoriet word hierin gevind nie.
  2. Splinterkeëls het in rotse gevorm soos die skokgolwe van die impak rotse ondergrond laat splinter het maar waar hulle te diep in die kors was om te verbrokkel en in die lug in te skiet.
  3. ‘n Rotstipe wat Vredefort granofier genoem word wat bestaan uit swart smeltrots met brokstukkies van verskillende rotstipes en die chemiese oorblyfsels van die meteoriet daarin.

Die Vredefort Koepel was in 2005 deur UNESCO as ‘n Wêrelderfenisgebied verklaar.

 

Lees meer oor meteoriete:

Reimold, W.U.; Brandt, D.; De Jong, R. & Hancox, J. (1999). Tswaing Meteorite Crater, Council for Geoscience, Pretoria.

Reimold, W.U. (2008). Geology of the Vredefort Impact Structure – a guide to sites of interest. Memoir 97, Council for Geoscience, Pretoria.

Reimold, W.U. & Gibson, R.L. (2009). Meteorite Impact! The danger from space and South Africa’s mega-impact the Vredefort Structure. Council for Geoscience, Pretoria.

 

Woordelys:

Aardkors (Earth’s crust) verwys na die dun kors wat die buitenste laag van die Aarde vorm.  Die kors beslaan ongeveer 1% van die aarde se massa.  Die kors vorm die boonste deel van die litosfeer.  The litosfeer is verdeel in tektoniese plate wat op die mantel beweeg.  Die grens tussen die ligter kors en die swaarder en digter mantel word deur die Mohorovicic diskontinuïteit aangedui.  Die kontinentale kors is dikker (30-45 km) as die oseaanvloerkors (5-10 km).

Achondriet (achondrite) 8% van meteoriete is achondriete en sommige van hulle is baie soortgelyk aan stollingsgesteentes wat op Aarde voorkom en is waarskynlik die brokstukke van planetesimale wat tydens botsings met mekaar en asteroïede opgebreek het.  Twee klein groepies jong achondriete is, volgens hulle chemiese samestelling, van die Maan en Mars afkomstig.

Akkresie (accretion): is die akkumulasie (versameling) van materie (gas, stof, rotse, ys) deur gravitasieaantrekkingskrag waaruit hemelliggame soos asteroïede, mane, dwergplanete, planete en sterre vorm. 

Aminosure (amino acids) is die boublokke van proteïene.  Aminosure en proteïene saam vorm die boublokke van lewe.  Aminosure is organiese verbindings wat uit ‘n amino (-NH2) en karboksiel (-COOH) funksionele groepe saam met ‘n syketting (R-groep) bestaan.  Die R groep is uniek aan elke aminosuur.  Daar is ongeveer 500 aminosure bekend, alhoewel slegs 20 in die genetiese kode voorkom.  Aminosure speel ook ‘n rol in talle lewensprosesse soos neurotransmissie en biosintese.

Asteroïed (asteroid) is ‘n voorwerp in die ruimte wat wissel tussen rotse van 1 m in deursneë tot die dwergplaneet Ceres wat 1000 m in deursneë is.  Asteroïede bestaan hoofsaaklik uit koolstof, silikate of metaal.  As dit hoofsaaklik uit ys bestaan word dit as ‘n komeet beskou.

Astrobleem (astrobleme) of “ster wond” in Grieks.  Sien Meteorietimpakstruktuur.

Atmosfeer (atmosphere) is ‘n laag of lae gas wat ‘n hemelliggaam soos ‘n planeet omring en deur daardie hemelliggaam se gravitasieaantrekkingskrag in plek gehou word.  Die Aarde se atmosfeer bestaan uit 78% stikstof, 21% suurstof, 0.9% argon, 0.04% koolsuurgas en ‘n paar ander spoorelemente.  Eukariotiese organismes benodig suurstof vir respirasie, stikstof word deur nitrifiserende bakterieë gebind, ammoniak wat vir die produksie van nukleotiede en aminosure gebruik word, word deur weerlig in die atmosfeer vervaardig, koolsuurgas word deur plante, chromiste en sianobakterieë vir fotosintese gebruik.  Die atmosfeer beskerm organismes teen ultraviolet bestraling, sonwind en kosmiese strale.  Die samestelling van die huidige atmosfeer is die produk van miljarde jare se biochemiese verandering van die paleoatmosfeer deur organismes.

Chicxulub-meteorietimpakkrater (Chicxulub meteorite impact crater) is ‘n impakkrater, van ongeveer 150 km wyd en 20 km diep, wat onder die see, op die seevloer langs die Yucatán Skiereiland van Meksiko voorkom.  Dit was gevorm toe ‘n meteoriet van 10 – 15 km in deursneë die Aarde ongeveer 66 miljoen jaar gelede getref het.  Hierdie impak het ‘n geweldige effek op die Aarde se klimaat gehad en was verantwoordelik vir die einde van die Kryt Periode wat gekenmerk word aan die uitwissing van tot ongeveer 75% van alle plant en dierspesies, insluitende die reuse reptiele soos dinosauriërs, pterosaurërs en mosasauriërs verdwyn het.

Chondriet (chondrite) is die mees algemene tipe meteoriet wat bestaan.  Ongeveer 86% van meteoriete is chondriete.  Chondriete bestaan uit klein ronde korrels of chondrules wat gevorm word wanneer klomp stof en sandkorreltjies in die planetêre skyf deur akkresie bymekaar kom om primitiewe asteroïede te vorm wat nog nie deur hitte of differensiasie gemodifiseer is nie.

Chondrules (chondrules) bestaan hoofsaaklik uit 4.55 miljard jaar oue silikaatmateriale wat waarskynlik in die ruimte as losdrywende partikels ontstaan het.  Dit is van die oudste materiaal in ons Sonnestelsel en is die hoofbestanddeel van chondritiese meteoriete.

Dolomiet (dolomite) bestaan uit kalsium-magnesiumkarbonaat (CaMg(CO3)2). Dit ontstaan deur die chemiese metamorfose van kalksteen.

Dwergplaneet (dwarf planet) of mikro-planeet is ‘n hemelliggaam wat dikwels groter as ‘n maan maar kleiner as ‘n planeet is.  Dit het ‘n wentelbaan om die son.  Pluto is ‘n goeie voorbeeld van ‘n dwergplaneet.  Pluto is terloops kleiner as ons Maan.

Ga (Ga) – Latyn: giga annum, m.a.w. miljard jaar gelede.

Geologie (geology) is ‘n aardwetenskap wat op hemelliggame (veral die Aarde) se struktuur, samestelling en die prosesse wat dit gevorm het, fokus.  Geologie oorvleuel met verskeie ander vakgebiede soos fisika, chemie, hidrologie, atmosferiese wetenskappe, ekologie en planetêre wetenskappe.  Geologie verskaf inligting oor minerale, aardbewings, vulkane, ouderdom van gesteentes, paleontologie die magneetveld van die aarde, plaattektoniek en die ontstaan en evolusie van lewe op aarde.

Granitietgneis (granitic gneiss) vorm wanneer intense hitte en druk graniet in ‘n gebande rots metamorfiseer.  Hierdie verandering is ‘n strukturele verandering eerder as wat dit ‘n mineralogiese verandering.  Granitietgneis kan ook deur die metamorfose van sedimentêre gesteentes vorm.  Die eindresultaat daarvan is ‘n gebande gesteente met dieselfde mineralogiese samestelling as graniet.

Groensteen (greenstone) is ‘n mafiese tot ultramafiese gesteente wat ‘n groenerige kleur het weens die groot hoeveelheid chloriet, aktinoliet en ander groen amfiboliete wat daarin voorkom.

Groot Bombardement (Heavy Bombardment) of Maankataklisme, het tussen 4.1 – 3.8 miljard gaar gelede tydens die Hadeïese en Argeïese Eon plaasgevind toe besonder baie en groot meteoriete die rotsagtige plante (Mercurius, Venus, Aarde en Mars) gebombardeer het.  Hierdie bombardement het plaasgevind net nadat die binneste planete van die Sonnestelsel gevorm het.

Hadeïese Aarde (Hadean Earth) (4.6-4 Ga) verwys na die Jong Aarde toe die eerste rotse op Aarde, 4.6-4 miljard jaar gelede, gevorm het.

Hemelliggaam (celestial object): ‘n natuurlike voorwerp soos ‘n ster, planeet, natuurlike satelliet, asteroïed, komeet, die Maan of die Son.

Karoo Supergroep (Karoo Supergroup) is die grootste geologiese eenheid in Suid-Afrika en bedek bykans twee derdes van die land.  Dit was eerste in die Karoo beskryf en het dus die naam van daar gekry, maar dieselfde lae (met die gepaardgaande fossiele) kom tot in Zimbabwe, Zambië, Malawi, Namibië, Suid-Amerika en Antartika voor.  Dit is die grootste terrestriële en lakustriene afsettings van die Perm en Trias Periodes ter wêreld.  Dit word van onder na bo (van oudste na jongste) in die Dwyka, Ecca, Beaufort, Stormberg en Drakensberg Groepe opgedeel.  Dit bied ons ‘n ongeëwenaarde blik van die oertyd vanaf die Laat Karboon tot die Vroeë Jura Periodes – ‘n tydperk van ongeveer 120 miljoen jaar.

Kern (core) is die binneste deel van ‘n planeet.  Planeetkerne kan heeltemal solied wees of uit ‘n vloeistof bestaan.  Planeetkerne bestaan meestal uit die swaarste materiaal wat op ‘n planeet voorkom, naamlik metaal, wat deur middel van swaartekrag na die middel van die planeet beweeg wanneer die planeet nog in ‘n vloeibare vorm is. 

Kraaggebied (collar area) verwys na die reekse sirkelvorminge heuwels rondom die sentrale gebied van die Vredefort Koepel.  Dit het ‘n deursnit van ongeveer 70 km en bestaan uit geologiese lae wat deur die impak vertikaal opgebuig is. 

Krater (crater) is die skottelvormige en meestal ronde holte wat deur ‘n meteorietimpak gevorm word.  Kraters kan ook deur vulkane gevorm word.

Koepel (dome) verwys na die bolvormige struktuur wat direk na ‘n meteorietimpak gevorm word wanneer van die mantelmateriaal, na ‘n meteorietimpak, in die lug opgeskiet word.

Komeet (comet) is ‘n klein hemelliggaam wat hoofsaaklik uit ys en stof bestaan en ‘n eksentriese wentelbaan om die Son het.  Wanneer ‘n komeet naby die Son verbybeweeg, sublimeer die ys van die komeetkern en begin dan gas afgee.  Die gas vorm ‘n sigbare atmosfeer of koma en soms ook ‘n stert of sterte wanneer die sonwind die gas van die komeet wegwaai.  Die komeetstert wys dus altyd weg van die son af en dui nie die rigting van beweging van die komeet aan nie.  ‘n Komeetkern kan van honderde meter tot tientalle kilometer in deursneë wissel terwyl ‘n koma tussen duisende tot miljoene kilometer breed kan wees, terwyl die stert of sterte tot 150 miljoen km (een astronomiese eenheid (1 AE)) lank kan wees.

Kors (sien Aardkors).

Maan (moon): ‘n natuurlike satelliet wat rondom ‘n planeet wentel.

Mafies (mafic) verwys na ‘n silikaatmineraal of ‘n stollingsgesteente wat ryk aan magnesium en yster is.  Meeste mafiese minerale is donkerkleurig en sluit algemene minerale soos olivien, pirokseen, amfiboliet en biotiet in.

Mantel of Aardmantel (mantle) is die laag van silikaatryke gesteentes tussen die kors en die buitekern.  Dit vorm twee derdes van die Aarde se massa, beslaan 87% van die Aarde se volume en het ‘n dikte van 2900 km.  Dit is grotendeels solied maar oor geologiese tyd van miljoene jare tree dit soos ‘n dik vloeistof op.

Meteoor (meteor) verwys na die asteroïed wat in die atmosfeer van ‘n planeet begin verhit weens die wrywing en chemiese interaksie met die gasse in die atmosfeer.  Die meteoor begin dan om te verhit en energie uitstraal, wat soms veroorsaak dat die meteoor verbrokkel en uitbrand nog voor dit die oppervlakte tref. 

Meteoriet (meteorite) is ‘n soliede stuk ruimtepuin soos ‘n komeet of asteroïed wat op ‘n groter hemelliggaam soos ‘n ster, ‘n planeet of maan neerstort.  ‘n Stuk ruimtepuin wat uit ys, yster of klip of mengsels daarvan bestaan, word eerstens deur ‘n groter hemelliggaam se gravitasieveld aangetrek.  Wanneer dit die oppervlakte tref word dit ‘n meteoriet genoem al vergas die meteoriet op impak. 

Meteorietimpakstruktuur is enige geologiese struktuur op Aarde, of enige ander hemelliggaam, wat deur ‘n meteorietimpak gevorm is, wat natuurlik kraters insluit.  Impakstrukture kom op rotsagtige planete, mane en selfs asteroïede voor.  ‘n Geologiese vervorming, wat die gevolg van ‘n meteorietimpak is, word ‘n astrobleem of impakstruktuur genoem.  Meteoriete vorm dikwels kraters, maar kraters word dikwels wegverweer sodat slegs die verwronge geologiese lae en ander geologiese strukture wat deur die meteoorimpak veroorsaak is, oorbly.

Organiese materiaal (organic matter) verwys na die koolstofryke materiaal wat in die natuur voorkom, veral as dit ‘n organiese oorsprong het.

Planeet (planet): ‘n hemelliggaam wat groter as 1000 km in deursneë is en wat om ‘n ster wentel.

Planetesimaal (planetecimal) is die kerne waarom groter hemelliggame soos planete, mane en asteroïede vorm.  Planetesimale vorm in die protoplanetêre skyf deur middel van die akkrese van kosmiese stof en later, soos hulle gravitasieaantrekkingskrag vergroot, trek hulle mekaar aan en klomp saam om al hoe groter hemelliggame te vorm totdat mane en planete so vorm.

Protoplanetêre skyf (protoplanetary disk) is ‘n afgeplatte ronde skyf van materie (hoofsaaklik digte gas en stof) wat rondom ‘n nuutgevormde jong ster draai.  Die planete, mane, meteoriete en komete sal uit die materie van hierdie protoplanetêre skyf ontstaan.

Pseudotacheliet (pseudotachelite) is die swart smeltrots wat weens die intense hitte van ‘n meteorietimpak gevorm het.  Brokstukke van ander gesteentes het hierin rondgedobber tot dit alles weer gestol het.  Anders as ‘n granofier word geen oorblyfsels van die oorspronklike meteoriet in pseudotacheliet gevind nie.

Silikaatmateriale (silicate materials) is die mees algemene rotsvormende materiaal wat mens in die kors van ‘n rotsagtige planeet of maan kry.  Ongeveer 90% van die aardkors bestaan uit silikate (SiO2) wat met ander elemente verbind is.

Sonnestelsel (Solar System) is die son en al die planete en hul mane, asteroïede en komete wat gravitasiegebonde aan die son is.

Splinterkeëls (shatter cones) vorm in rotse wanneer die skokgolwe van ‘n meteorietimpak rotse ondergrond laat splinter het maar waar hulle te diep in die kors is om te verbrokkel en in die lug in te skiet.

Tektiet (tektite) vorm wanneer gesmelte stukkies gesmelte aardkors uit die impaksone spat en wissel vanaf ‘n paar millimeter tot ‘n paar sentimeter in deursneë.  Tektiete lyk oppervlakkig soos obsidiaan (vulkaniese glas) maar bestaan uit gesmelte korsmateriaal wat gewoonlik van sedimentêre oorsprong is en bevat nie die kenmerkende chemiese samestelling wat mens in vulkaniese materiaal kry nie.

Tektoniese prosesse (tectonic processes) is die prosesse wat in die kors van ‘n rotsagtige planeet of ‘n maan met ‘n vloeibare mantel plaasvind.  Tektoniese prosesse vind hoofsaaklik rondom die kante van die tektoniese plate, wat die kors opmaak, plaas.  Tektoniese prosesse beheer die struktuur en vorm en eienskappe van die kors van rotsagtige hemelliggame.  Dit sluit die vorming en herwerking van tektoniese plate, bergvorming, kontinentale beweging in.  Tektoniese prosesse sluit ook vulkaniese aktiwiteit, tsunamis en aardbewings in. 

Transvaal Supergroep (Transvaal Supergroup) is ‘n statigrafiese eenheid wat hoofsaaklik in die noordelike deel van Suid-Afrika, maar ook gedeeltelik in suidelike Botswana, voorkom.  Die Transvaal Supergroep is op die Kaavaal Kraton geleë.  Die Transvaal Supergroep is ongeveer 2.5 Ga en bestaan uit drie dele: die Transvaalkom in die ooste, die Griekwalandkom in die weste en die kleiner Kanyekom in suidelike Botswana.  Die onderste en oudste formasies bestaan uit sedimentere gesteentes (Black Reef en Vryburg Formasies) wat deur dolomiet, kalksteen en gebande ystersteen formasies opgevolg word (Chuniespoort, Ghaap, Taupone Groepe).  Daarna was die sedimentëre en stollingsgesteentes van die Pretoria, Postmasburg, Segwagwa Groepe in die drie komme afgeset.  Heel laaste was die Rooiberg Groep, Loskop Formasie afgeset wat hoofsaaklik uit stollingsgesteentes bestaan.

Tswaing Krater (Tswaing Crater) is een van die bes-bewaarde meteorietimpakkraters in die wêreld.  Dit het ongeveer 220 000 jaar gelede gevorm toe ‘n meteoriet, van ongeveer 30-50 m in deursneë, die aardkors, 40 km noordwes van waar Pretoria vandag geleë is, getref het.  Die slag het ‘n krater van 1.13 km in deursnee en honderde meter diep gelaat.  Oor die honderde duisende jare heen het die kraterwand verweer en die krater het gedeeltelik met sediment opgevul sodat die hoogte van die kraterrand ongeveer 100 m bo die middelpunt van die krater uittroon.

Ultramafiese gesteentes (ultramafic rocks) is stollingsgesteentes met ‘n baie lae silikainhoud (gewoonlik minder as 45%), gewoonlik meer as 18% MgO, hoë vlakke van FeO, lae vlakke van kalium en wat uit meer as 90% mafiese materiaal bestaan.  Die Aarde se mantel bestaan uit ultramafiese gesteentes. 

Uitskot (ejecta) is die materiaal wat uit ‘n impakkrater skiet.  Dit kan stof, sand, grond en klippe en vars gestolde materiaal soos tektiete insluit.  Dit bestaan hoofsaaklik uit die materiaal wat oorspronklk die krater gevul het, maar nou in ‘n verbrokkelde toestand uitgeskiet word om rondom die krater ‘n uitskot-kombers te vorm.

Ventersdorp Supergroep (Ventersdorp Supergroup) is een van die mins-vervormde laat Argeïese-vroeë Proterosoïese suprakrustrale afsettings in die wêreld en word as model vir die tektoniese, geochemiese en vulkaniese evolusie van die kors gebruik.  Die Ventersdorp Supergroep is as mafiese lawas, sedimente en tuf bo-op die Kaapvaal Kraton afgeset.  Daar is ook stromatolitiese chertbevattende kalksteen in die boonste deel van die Ventersdorp Supergroep.

Vergas (vaporise) is wanneer ‘n stof van een fase (vaste stof of vloeistof) in ‘n gas omgeskakel word.  Die energie van duisende grade Celcius, wat tydens impak gegeneer word, is so intens dat meeste meteoriete op impak vergas en dus geen of weinig soliede materiaal agterlaat.

Verskietende ster (shooting star) is ‘n leketerm wat na ‘n mikro-meteoor verwys wat in die atmosfeer uitbrand.  Soms is dit so groot soos ‘n sandkorrel.

Verwering (weathering) is die afbreek (dikwels mikroskopies) van ‘n materiaal.  Verwering moet nie met erosie verwar word nie.  Materiaal word tydens erosie van een plek na ‘n ander op die aardkors verskuif, maar verwering verwys na die afbraakproses wat voor die tyd plaasvind.  Stukkies van die materiaal breek af tydens meganiese verwering, terwyl chemiese verwering plaasvind as die materiaal chemies afgebreek word.  Die verweerde stukkies kan dan met erosie weggedra word.

Vredefort Astrobleem of Impakstruktuur (Vredefort Impact Structure) is die oorblyfsel van die grootste bekende meteorietimpak op Aarde.  Die oorspronklike meteorietimpakkrater was 160-300 km wyd met ‘n rand van ten minstens 5 km hoog.  Die Aarde was 2.023 miljard jaar gelede, naby waar die dorp Vredefort vandag is, deur ‘n meteoriet van ongeveer 10-15 km in deursneë teen ongeveer 10 km per sekonde (36 000 km per uur) getref.

Vredefort granofier (Vredefort granophyre) is ‘n tipe stollingsgesteente wat na die meteorietimpak uit die gesmelte rots gevorm het.  Hierdie granofiere kom in dyke voor wat binne die gebied gevind word.  Dit bestaan uit swart smeltrots met brokstukkies van verskillende rotstipes en die chemiese oorblyfsels van die meteoriet daarin, wat in krake op die kratervloer ingevloei het.

Vredefort Koepel (Vredefort Dome) is die sentrale gebied van die Vredefort Impakstruktuur wat na 2 miljard jaar se verwering, steeds as ‘n reeks sirkelvormige randjies met ‘n deursnee van ongeveer 70 km rondom Vredefort en Parys voorkom.  Hierdie randjies, wat ook as die kraaggebied bekend staan, is egter net die oorblyfsel van ‘n bolvormige koepel wat kilometers hoog in die lug opgestaan het en oor die laaste 2 miljard jaar wegverweer het.

Vulkaan (volcano) is deel van ‘n skeur in die kors van ‘n planeet-grootte hemelliggaam soos die Aarde maar ook mane soos Jupiter se maan Io.  Gasse, vulkaniese as en lawa bars deur middel van vulkane van ondergronds na buite soos wat die druk in ondergrondse magmakamers toeneem.  Op Aarde kom meeste vulkane al langs tektoniese plate, waar plate uitmekaar beweeg, of deur subduksie die een onder die ander inbeweeg, voor.  Op ander plekke op die aardkors, weg van die kontinentale plaat-rande, kom vulkane dikwels in assosiasie met diapiere voor.

Vuurbal of bolied (fire ball or bolide) is ‘n meteoor wat besonder helder brand en soms selfs in die atmosfeer ontplof.  Dit is dikwels so helder soos die volmaan.  Geoloë noem ‘n besondere groot meteoriet ‘n bolied.

Wentel (orbit) is die beweging van ‘n planeet in ‘n sirkel- of ellipsvorminge baan rondom die son, of die beweging van ‘n natuurlike satelliet rondom ‘n planeet.

Witwatersrand Supergroep (Witwatersrand Supergroup) bestaan uit die ouer Wes Rand Groep en die jonger Sentraal Rand Groep.  Die Wes Rand Groep vorm die onderste en dus oudste deel van die Witwatersrand Supergroep.  Dit bestaan uit ‘n 2.5-4.5 km dik laag sedimente wat oor 60 miljoen jaar vanaf amper 3 Ga gelede in ‘n vlak see afgeset is.  Die jonger Sentraal Rand Groep is die ongeveer 2.5 km dik laag sedimente wat oor ‘n tydperk van 200 miljoen deur vlegstrome op ‘n kusvlakte in deltas bo-oor die Wes Rand Groep sedimente afgeset is.  Die belangrikste goudafsettings kom in die konglomerate van die Sentraal Rand Groep voor.  Die Sentraal Rand Groep afsettings was 2.715 Ga skielik deur die massiewe uitstromings van lawa, wat die Ventersdorp Supergroep vorm, onderbreek.

Ystermeteoriete.  Hierdie meteoriete kom heelwaarskynlik van die kerne van planetesimale.  Net soos op die Aarde, het die digter, swaarder materiaal van ‘n planetesimaal na die middel van die hemelliggaam gesink en die kern gevorm terwyl die ligter silikaryke materiaal bo bly dryf het en die kors gevorm het.

 

error: Content is protected !!