Virusse 2: Pandemies
VIRUSSE 2: PANDEMIES
François Durand
Klimaatverandering en nuwe aansteeklike siektes is die twee grootste bedreigings wat die mensdom in die gesig staar.
Virusse, epidemies en selfs pandemies is niks nuuts nie. Trouens, virusse en bakterieë is verantwoordelik vir ‘n groot deel van die geskiedenis van die mensdom. Boerdery en epidemies het op dieselfde tyd as die vroegste beskawings ontstaan. Van hierdie epidemies het in pandemies ontaard. ‘n Epidemie is wanneer ‘n siekte baie mense in ‘n gebied affekteer. ‘n Pandemie is wanneer ‘n siekte oor verskeie kontinente versprei en wat ‘n groot hoeveelheid mense siekmaak en waarvan baie mense sterf.
Natuurlik het mense van die eerste beskawings tot vandag toe pandemies as ‘n vloek van die gode beskou, as ‘n straf vir die volk wat afgedwaal het beskou, of iets wat die gode gestuur het om hulle vyhand uit te wis.

Die tragedie is dat mense nie toe, en meeste mense vandag nog steeds, nie begryp dat hulle self die skeppers van hierdie nagmerrie is nie. Dit was makliker om dit aan die toedoen van die gode toe te skryf en weereens so ons verantwoordelikheid te ontduik.
Maar daar was ‘n tyd toe mense nie griep, masels, pokke, tering, kinkhoes, VIGS, varkgriep of corona gehad het nie. Dit was die tyd toe ons nog jagter-versamelaars in die Steentydperk was. Natuurlik het diere, soos die mens, nog altyd siektes gehad, maar soönotiese siektes soos pokke, masels, melaats, builepes, tifus en griep het die mens eers vanaf ongeveer 8000 jaar begin afmaai.
Waar kom hierdie siektes dan vandaan en hoe het hulle ontstaan? Die antwoord is dat 62% van die siektes waaraan die mensdom ly, sogenaamde soönotiese siektes is. Met ander woorde dit is siektes wat van die dier na die mens toe gespring het om ons permanent te teister (sien die artikel oor Virusse). Soönose is die ergste en mees gevreeste aansteeklike siektes op Aarde teenoor virusse wat onder mense ontstaan het soos koorsblare en vratjies en waarvan mens selde doodgaan. Alle pandemies sovêr bekend, was deur soönose veroorsaak.
Normaalweg jag en eet mense nie sieklike diere nie en dus kom mense selde in kontak met diere wat ‘n virus onder lede het, buiten as hulle so uitgehonger is dat hulle enigiets sal eet en dit half-rou sal eet en dis wanneer hulle met siektes soos hemorargiese koors in vlêrmuise en VIGS in bosvleis of corona in die dieremarkte van China in kontak kom.
Maar dis nie waar die grootste siektes, wat ten minstens helfte van die mensdom soms op ‘n slag uitgewis het, vandaan gekom het nie. Die grootste siektes ooit – die pandemies – wat die meeste mense ooit op ‘n slag uitgewis het sluit griep, masels, tering en pokke in. Hierdie siektes het ons almal van ons plaasdiere gekry – met ander woordes diere wat ons makgemaak het en vir duisende jare mee saamgeleef het (Harari, 2014).
‘n Paar voorbeelde van soönose:
VIGS was in 1975 van ape van Afrika deur mense na die res van die wêreld versprei. In 25 jaar het daar reeds meer as 25 miljoen mense daaraan gesterf.
Masels het vanuit rinderpes in vee ontstaan. Reeds meer as 200 miljoen mense het in die laaste 150 jaar daaraan gesterf.
Tussen 1331 tot 1353 het die Swart Dood na beraming tussen 75 tot 200 miljoen mense in Europa uitgewis. Na die Swart Dood aan die einde van 1353 was daar net 370 miljoen mense op Aarde oor.
Pokke is ‘n siekte wat deur die Variola virus veroorsaak word. Dit blyk dat dit van kamele na mense versprei het toe kamele na Oos Afrika geneem is (Babkin & Babkina, 2015) Eende is waarskynlik die grootste bron van griep en melaats het van waterbuffels gekom (Kirchheimer, 1964).
In Jared Diamond se boek Guns, Germs & Steel noem hy dat 95% van die inheemse Noord Amerikaanse Indiane deur Europese siektes uitgewis is. Wanneer mens so iets lees moet jy dadelik met alles stop en baie hard begin dink. Eerstens, na jy jouself vergewis het dat hierdie feit korrek is, moet jy jouself twee goed afvra: hoekom wys Europeërs bykans geen simptome van hierdie dodelike virusse wat in hulle lywe leef nie? En: hoekom het die Noord-Amerikaanse Indiane nie soortgelyke maar ander dodelike virusse na Europeërs oorgedra nie?
Eerstens: Europeërs het oor duisende jare in hul honderdmiljoene van vlaag na vlaag van soönotiese siektes gesterf. Slegs die sterkstes van die sterkstes het oorleef – hierdie siektes het oor duisende jare net die mees weerstandiges onder ons geselekteer wat veroorsaak dat ons met al hierdie virusse besmet mag wees en geen tot matige simptome van hierdie siektes toon.
Tweedens: Noord-Amerikaanse Indiane het geen gedomestiseerde diere nie en het dus geen soönotiese siektes nie. Hulle het geen virusse gehad om die Europeërs aan bloot te stel nie.
Il Morbetto (die plaag) deur Marcantonio Raimondi (1515-1516) (let op die nabyheid van die diere en die mense)
Met ander woorde Europeërs is soos biologiese oorlogmasjiene. Die Europese nasies van daardie tyd het net ‘n paar priesters in die wildernis ingestuur om mense te kersten en dan kon hulle die handjievol inboorlinge wat die priesters se virusse oorleef het, met die wapen tem.
Baie meer mense het van virusse as koeëls gesterf – om maar een voorbeeld te noem: in die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het ongeveer 20 miljoen mense gesterf. Die Spaanse griep (1918-1920) het net daarna 50 miljoen mense in minder as drie jaar afgemaai. Ondanks die naam wat Amerikaners daaraan gegee het, dui die virus se genetika aan dat dit oorspronklik van watervoëls soos eende gekom het en dat dit toe in ‘n vark na iets dodelik gemuteer het wat beide mense en varke doodgemaak het. Aangesien die heel eerste geval van hierdie siekte in die Amerikaanse Midweste opgeteken is, is dit waarskynlik dat dit daar op ‘n varkplaas ontstaan het en toe met Amerikaanse soldate, wat na Europa tydens die Eerste Wêreldoorlog ontplooi is, versprei is https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC2720273/
Die mens veg terug
Virusse was vir die eerste keer in 1892 deur die Russiese plantkundige Dmitri Ivanovsky ontdek wat ook die naam daarvoor gegee het. Toe mense uiteindelik kon bepaal wat die oorsaak van virale siektes was, het hulle met mening begin terugveg. Op hierdie punt moet ek net noem dat Chinese innokulasies duisende jare voor Pasteur ontdek het. Maar nóg die Chinese, nóg Pasteur het geweet dat virusse bestaan.
In die beginjare van virologie het navorsers reeds bepaal dat daar iets was wat kleiner as bakterieë was wat plante en diere siek maak. Bakterieë was reeds deur Antonie van Leeuwenhoek in 1676 ontdek. Pasteur het ‘n vae idee gehad dat daar ‘n mikroskopiese agent was, wat nog kleiner as die bakterieë moes wees, wat ook mense en diere siek maak. Hy het gedink dat dit moontlik baie, baie klein bakterieë kon wees, wat te klein was om met die mikroskope van daardie tyd raak te sien. Ons kon, eers na die koms van die elektronmikroskoop in 1940, vir die eerste keer sien hoe virusse lyk.
Virologie en immunologie het saam ontwikkel en teen die 20ste eeu, het ons ‘n kuur vir meeste van die aansteeklike siektes gehad. Die Geneesheer-generaal van die VSA het in 1968 selfversekerd gesê: “The war of infectious diseases has been won”. Die dekaan van die Mediese Skool van Yale Universiteit het in 1975 gesê: “No new diseases to be discovered”. Die bekende viroloog Professor Macfarlane Burnet het in sy boek: Natural History of Infectious Disease in 1962 die volgende stelling gemaak: “to write about infectious disease is almost to write of something that has passed into history”. In die 1972 uitgawe van hierdie boek, wat ‘n bekende mediese handboek van die tyd, is geskryf: “On the basis of what has happened in the last thirty years, can we forecast any likely developments for the 1970s? If for the present we retain a basic optimism and assume no major catastrophes occur […] the most likely forecast about the future of infectious disease is that it will be very dull. There may be some wholly unexpected emergence of a new and dangerous infectious disease, but nothing of the sort has marked the past fifty years”.
En toe was almal verkeerd – selfs die voorste viroloë was verkeerd. Aansteeklike siektes het vanaf die ontwikkeling van antibiotikas en inentings afgeneem tot en met die 1970’s… maar toe het daar onverwags van die ergste aansteeklike siektes hul opwagting gemaak. Dit was maar net die begin, want die verskyning van hierdie nuwe aansteeklike siektes het eksponensieël begin toeneem. Talle siektes het teen ‘n ongeëwenaarde tempo uitgebreek – 30 nuwe siektes het in 30 jaar uit die bloute verskyn. Daar is tans soveel nuwe siektes, wat oor die laaste paar dekades verskyn het, dat daar vir die eerste keer inrigtings en departemente by mediese skole is wat in Nuwe Aansteeklike Siektes (Emerging Infectious Diseases) spesialiseer.

Die Era van Nuwe Plae
Die Era van Nuwe Plae het in 1975, met die aankoms van HIV, in die VSA aangebreek. Daarna het honderde siektes uit die bloute verskyn, die een erger as die ander – van Lassakoors, Slenkdalkoors, Ebola, SARS, varkgriep, tot Covid. Die meerderheid van die nuwe siektes is soönoties van aard (Fong, 2017).
Die vraag is hoekom nou en hoekom so erg? Ons het weerstand opgebou teen die virusse van diere wat ons vir 10 000 jaar mee saam geleef het en daar was elke paar dekades, of selfs eeue uit mekaar, ‘n ernstige pandemie wanneer ‘n nuwe siekte onder gedomestiseerde diere uitbreek en na ons toe spring, maar oor die laaste paar dekades het talle soönotiese siektes uit die bloute verskyn.
Die een rede is dat hierdie virusse van diere kom waaraan ons nog nie voorheen blootgestel was nie, met ander woorde – wilde diere. Daar is twee maniere hoe ons met wilde diere in kontak kom – ons dring in hulle habitatte in en ons verorber hulle.
Die tweede rede is dat ons self met ons onsinnige boerderypraktyke net so effektief virusse as hoenders en varke teel. Met ander woorde dit is ons, en slegs ons, wat die oorsaak vir hierdie gruwel is en die tyd het aangebreek dat ons uiteindelik moet betaal vir ons onkunde, verwaandheid, gierigheid, selfgeregtigheid en bygelowigheid.
Daar is verskeie maniere waardeur aansteeklike siektes van diere na mense kan gebeur:
- Direkte kontak met diere of dierkarkasse,
- Indirekte kontak deur middel van besmette dierprodukte soos melk of eiers,
- Tussengangerkontak via ‘n vektor soos ‘n vlooi, bosluis of muskiet wat die virus, bakterie, protist of chromist na jou oordra,
- Lang-afstand kontak deur middel van besmette water, grond of lug.

https://en.wikipedia.org/wiki/File:Global_Examples_of_Emerging_and_Re-Emerging_Infectious_Diseases.jpg
Die drie hoofoorsake vir die Era van Nuwe Plae is:
- Oorbevolking – die baie mense eet baie diere en doen net wat hulle wil.
- Oorbevolking – die baie mense benodig baie blyplek en hulpbronne en doen net wat hulle wil.
- Oorbevolking – die baie mense bly dig opmekaar en doen net wat hulle wil.
Oorbevolking – die baie mense eet baie diere en doen net wat hulle wil
Diere het nog altyd siektes gehad maar dit was hier en daar en jagters het waarskynlik in die verlede, net soos vandag, nie dooie goed opgetel om te eet nie en eerder gesonde diere, wat goeie kondisie is, geskiet om te eet. Indien ‘n uitgehongerde persoon die eerste beste dooie ding wat hy gekry het geëet het, kon hy inderdaad baie siek daarvan word en doodgaan. Dalk sou hy sy hele nedersetting aansteek en almal sou waarskynlik siek word en kon daarvan doodgaan, maar weens hulle isolasie kon hierdie siekes nie maklik by ander nedersettings uitkom nie. Trouens dit werk vandag nog so in die geval van Ebola en het dit, ten spyte van sy aansteeklikheid, nog nie ‘n pandemie geword nie.
Die massas mense vandag benodig massas kos en deel van mens se dieët is dier-proteïen. Ongelukkig trek baie mense op hierdie stadium nog hul neuse op vir insek- proteïen en dring op werweldierproteïen aan. Dekades gelede was vis die goedkoopste vleis wat mens in die winkel kon kry maar na die uitwissing van die groot vispopulasies wêreldwyd deur oorvissery, is dit vandag die duurste vleis wat mens kan kry. Soogdiere soos skape, beeste en veral vark bly populêr maar is steeds duurder as hoender.
Hoender is die goedkoopste vleis beskikbaar en dus vorm hoenders meer as helfte van die mensdom se vleisinname. Tans word daar ongeveer 136 miljoen hoenders per dag in die wêreld geslag – dit is ongeveer 50 miljard hoenders per jaar. Die produksie van hoenders hou tred met die bevolkingsaanwas van die mens en elke jaar word daar net meer en meer hoenders geproduseer om die groterwordende menspopulasie te voer. Hoenderplase met meer as ‘n miljoen hoenders is nie meer vreemd nie. In China is daar al hoenderplase met meer as tien miljoen hoenders.
Industriële hoenderplase se hoenders word in hul derduisende in skure aangehou waar die ligte dag en nag brand sodat die hoenders aanhou vreet en dus vinniger groei as dié wat in die nag slaap. Die hoenders wat nie in draadhokkies aangehou word nie word as sg. “free range” hoenders verkoop. Die ander hoenders – die sg. “broilers”, word in hokkies aangehou maar word nie as hokkiehoenders geadverteer nie. As ‘n reël word die voorste deel van die hoenders se bekke geknip om kannibalisme, kloaak-pikkery, verminking en veeruitplukkery in hierdie stresvolle, beknopte en oorbevolkte omstandighede te verminder.
Die vleishoenders is mutasies wat spesiaal vir hul onnatuurlike vermoë om vinnig te groei geselekteer is. Maar hulle groei nie op die normale manier nie – hulle vleismassa vermeerder vinniger as wat hul skelette met die groter wordende gewig kan bybly en binne nege dae is hulle so swaar dat hulle dun beentjies nie hulle gewig meer kan ophou nie. Maar moenie hieroor bekommerd wees nie want hulle word in sulke klein hokkies aangehou – dit is trouens so wyd en breed as ‘n A4 papier en so klein dat hulle nie kan omdraai of regop kan staan nie. Daar word tipies 38 kg hoender per vierkante meter vervaardig. Dit is om te verhoed dat die hoenders nie energie verbrand deur om rond te loop en oefening kry nie maar die kos wat hulle inneem optimaal in vleis te kan omskakel. Voor die ry hokke is daar ‘n trog wat permanent vol kos gehou word en die ligte word ook nooit afgeskakel nie wat veroorsaak dat hulle aanmekaar eet en dus so vinnig moontlik groot genoeg word om na ses weke geslag te word.
Dit is egter nie die einde van die storie nie.
Die hokkiehoenders se gesondheid is maar power omdat hulle mutasies is en die feit dat hulle onder hierdie omstandighede moet leef vererger alles en lei na erge siektetoestande. Hulle skelette, harte en longe kan beswaarlik met die uitdagings waaraan hulle blootgestel is byhou. Hulle bene is dikwels skeef en vergroei weens die onnatuurlike wyse wat hulle aangehou word, omdat hulle nie oefening kry nie, omdat hulle te vinnig groei en ook weens die feit dat hulle mutasies is wat bloot vir hul vermoë om kos in vleis te verander geselekteer is. Hulle moet vir weke in hulle eie afval hurk tot hulle geslag word – die rooi vlekke op hul bene van die hoenderkarkas is die gevolg van velinfeksies. Die daadhokkies in baie hoenderplase is bo-op mekaar wat veroorsaak dat die boonste hoenders bo-op dié onder hulle mis. Die skuur waarin die hoenders aangehou word, word eers na hulle geslag is, weer skoongemaak. Teen daardie tyd is die vloer bedek met hoendermis en die lug hang dik van ammoniak en swamspore.
In ‘n poging om siektes wat maklik onder hierdie oorvol en stresvolle omstandighede kan uitbreek te beperk, word massiewe hoeveelhede antibiotikas in die kos en water gevoeg om bakterieë in bedwang te hou, benewens die gifstowwe wat gebruik word om parasiete te onderdruk. Trouens, daar word baie meer antibiotikas vir plaasdiere gevoer as wat deur mense gebruik word. Ongelukkig word die sterkste bakterieë op hierdie manier geselekteer en daar is nou al verskeie bakterieë wat so weerstandbiedend geword het dat geen antibiotika dit kan keer nie – soos die antibiotika-weerstandbiedende bakterieë wat juis in hospitale voorkom. Salmonella en Campylobacter is deel van die normale dermflora van voëls, maar onder hierdie omstandighede kan die weerstandbiedende vorme van hierdie gewone bakterieë ‘n reuse gesondheidsprobleem vir mense word.
Hierdie deel is nie om vir jou te verduidelik onder watter haglike omstandighede die hoender op jou bord vervaardig is nie, maar om vir jou te verduidelik hoekom daar siektes soos voëlgriep uitbreek. As mense soveel diere, onder sulke stresvolle omstandighede, so dig bymekaar aanhou en dit dan as kos vir mense aanbied, dan soek jy vir moeilikheid. Siektes sprei soos veldbrande deur hierdie hoenderplase en deur besmette karkasse na die mensdom.
Daarbenewens spring sekere virale siektes soos griep en Covid van dier na dier en uiteindelik na die mens. Die virus muteer elke keer binne een van die gashere en word in die proses aansteekliker en gevaarliker. Dikwels ontstaan die virus in ‘n voël en versprei dan onder voëls en dan sprei dit na varke en van daar na die mens soos wat met die Spaanse Griep die geval was. Die beste teelplek vir pandemies is plase met plaasdiere waar baie diere dig op mekaar in die teenwoordigheid van mense voorkom.
Oorbevolking – die baie mense benodig baie hulpbronne en blyplek en doen dan net wat hulle wil
Blyplek
Nuwe gebiede moet heeltyd “skoongemaak” word om nuwe woongebiede vir mense voor te berei. Met ander woorde ons moet vleilande drooglê, riviere kanaliseer, woude afkap en velde van die natuurlike plantegroei stroop om vir mense plek te maak. Dit bring mense dieper en dieper in natuurlike gebiede in waar wilde diere voorkom waaraan die mens gewoonlik nie blootgestel word nie.
Soms oorleef een van daardie spesies sonder om soos al die ander te vrek nadat ons hulle habitat vernietig het. Een so ‘n spesie is die wilde witvoet-muis van Noord Amerika.
Ontwikkelaars het bosse in die wildernis afgekap om nuwe woonbuurtes daar te vestig. Lyme siekte was vir die eerste keer in 1975 in Conneticut in die VSA geïdentifiseer. Dit word veroorsaak deur bakterieë wat deur bosluise van ontsteekte wilde witvoet-muise na mense oorgedra word. Die rede hiervoor was dat die karnivore wat die muise se getalle in bedwang gehou het, weggevlug het toe die ontwikkeling begin het. Hierdie muise kom in mense se erwe en huise in en dra die siekte na mense oor. Tans het 100 000 Amerikaners in 50 state Lyme siekte.
Hulpbronne
Mense benodig meer en meer hulpbronne soos ons eksponensieël aanwas. Eens op ‘n tyd kon mense alles wat hulle nodig gehad het om te oorleef uit hulle nabye omgewing kry. Plase het in tandem met dorpe en stede begin uitgebrei en graslande, bosse en woude was as deel van die proses van uitbreiding net verder en verder vernietig. Eens op ‘n tyd het al die hout vir die Kasteel in Kaapstad van Houtbaai gekom. Daar is net soveel hout in Houtbaai oor as wat daar leeus teen Leeukop en luiperds in Tygervallei en seekoeie in Zeekoevlei is.
Genoeg was nooit genoeg vir die mens nie, soos ons gemaksug en gierigheid gegroei het, wou ons meer en meer hê en ons het ons soeke na meer en meer hulpbronne uitgebrei tot ons uiteindelik vandag besig is met die totale stroping van elke moontlike nuttige mineraal, energiebron en kosbron. Hierdie soeke na nuwe bronne het ons genoop om dieper en dieper in die laaste oorblywende stukkies wildernis in te dring.
Daarbenewens het die mensdom bly aanwas in so ‘n mate dat ons nie meer genoeg kos en materiaal kan produseer nie en dit dus uit die natuur moet stroop.
Bosvleis
Ek tref hier onderskeid tussen wildsvleis en bosvleis omdat ek ‘n punt wil maak. Wildsvleis is vleis van diere wat mense vir miljoene jare gejag het – gewoonlik bokke, herte, hase, varke ens. Maar die vleis van wilde diere soos ape en ietermagogge en vlêrmuise of wat ook al hulle in die sogenaamde “wet markets” van die Ooste of die bosse in Afrika verkoop noem ek bosvleis.
Wilde diere word wêreldwyd gestroop vir kos. Maar voordat ons te opgewonde en eiegeregtig raak daaroor onthou dat al die wild voor die Anglo-Boereoorlog reeds in die Vrystaat uitgejag was en as die ZAR onder Paul Kruger se bewind nie die Sabi Wildreservaat geproklameer het nie, meeste van die wild in die ZAR op dieselfde manier hul einde sou gesien het.
Wat vandag gebeur wil ek nie jag noem nie want ‘n jagter maak net dood wat hy en sy afhanklikes kan eet, maar wat mense vandag met draadstrikke en pangas in die bosse doen is nie jag nie – dit is stropery in die ergste graad en op die wreedste manier en vir wins.
Maar of jy jag of stroop doen mense dit omdat hulle honger is en moet eet en omdat hulle nie vermoeënd genoeg is om self kos te vervaardig nie. Daarby is daar ook net meer en meer mense en daar is nie genoeg genoeg water of grond om in plase te omskep nie – al wat oorbly is daardie laaste stukkies wildernis.
En dit is waar die natuur vir die stommerikke ingewag het. Lassa-koors, Slenkdalkoors en Ebola het van dier na mens gespring toe die houtkapper- en stroperpaaie diep in die woude van Afrika ingedring het. Mense eet bosvleis van honderde spesies diere, insluitend tientalle spesies ape waaronder chimpanzees. Nou word die mensdom aan siektes blootgestel wat reeds by primate, insluitende grootaap fisiologie aangepas is. MIV is so ‘n siekte (Hahn et al., 2000).

Boerdery
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het van die belangrikste beesvleisproduserende lande hul aandag en hulpbronne in die oorlog belê en het lande soos Argentinië die geleentheid aangegryp om die vleismark oor te neem en hulself so te verryk. Hulle het eenvoudig hulle wildernis in weiding vir hul beeste te omskep. Sodoende het hulle met wilde knaagdiere in die wildernis in kontak gekom waarvan hulle die arenavirus, wat Argentynse hemorargiese koors veroorsaak, gekry het. Die sterftesyfer onder onbehandelde pasiënte is tussen 15 en 30%.
Dieselfde het in Bolivië, Venezuela en Brazilië gebeur waar mense aan soortgelyke arenavirusse in knaagdier-mis en uriene, gewoonlik op besmette kos, blootgestel is en so het ‘n reeks hemorargiese koors-epidemies ontwikkel. Daar is nou reeds Argentynse hemorarigiese koors, Brasiliaanse hemorargiese koors, Venuzueleaanse hemorargiese koors en Boliviese hemorargiese koors. Een van die interessante en gevaarlikste kenmerke van hierdie arenavirusse is dat meeste mense wat daaraan ly asimptomaties is en dus geen kenmerkende siektesimptome ontwikkel nie.
Maar dis nog lank nie die einde nie daar is ook die Tamiami virus in Florida in die VSA, die Whitewater Arroyo virus in Kalifornië en Nieu-Meksiko in die VSA. Ek is oortuig daarvan dat ons eksponensieël nuwe virusse sal teëkom soos die mens eksponensieël aanwas en die oorblywende wildernisse van die wêreld binnedring.
Oorbevolking – die baie mense bly te dig opmekaar en doen net wat hulle wil
Hier het ons ‘n soorgelyke situasie as in die hoenderbatterye – virusse beweeg baie effektief deur ‘n spul mense wat bo-op mekaar bly as tussen gemeenskappe wat ver uit mekaar bly. Ebola is ‘n geweldige virulente siekte wat 25-90% sterftesyfer het, maar die mense gaan vinniger dood as wat hulle dit na die naaste dorpie kan oordra. Mense wat Ebola kry bly meestal in die oerwoude van Afrika waar die dorpies vêr uitmekaar is. Maar wat sal gebeur as ‘n siekte soos Ebola in ‘n digbewoonde gebied uitbreek waar mense toegang tot vervoer soos motors, treine en vliegtuie het en binne ure van kontinent na kontinent kan reis?
Vir die grootste deel van die bestaan van hominiene (aapmense, oermense en die moderne mens) het ons in klein groepies geleef, soos wat moderne jagter-versamelaar groepe nou nog leef. Aangesien hulle van jag en die versamel van wilde kos afhanklik was, sou daar groot ruimtes tussen sulke groepies gewees het om kompetisie te vermy. En as die mensbevolking in die Steentydperk verby die drakrag van die veld aangewas het, sou hulle eenvoudig van honger uitgesterf het.
Met boerdery het alles verander want ons het wilde plante en diere gedomestiseer en oor duisende jare plant- en diermutasies uitgesoek volgens die hoeveelheid nutriënte wat hulle aan ons verskaf. In die natuur kom eetbare bessies net hier en daar voor en ‘n primitiewe jagter sou net elke nou en dan ‘n dier geskiet gekry het. Maar met boerdery vervaardig ons miljarde tonne kos in gebiede wat ons skoongemaak het van al die plante en diere wat oorspronklik daar voorgekom het. Die mensdom het dienooreenkomstig gedy. Hoe vinniger en beter en meer kos ons kan produseer hoe vinniger was die mensdom aan. Indirek teel boere mense.
Die resultaat hiervan is dat daar meer en meer mense is wat digter en digter opmekaar bly. Tans leef meer as helfte van die mense in stede terwyl die bestaansboere voor kommersiële boere die knieg moet buig. Alle stede is nie modern en skoon nie en het nie behoorlike sanitasie, rommelverwydering, watervoorsiening en mediese dienste soos in die rykste Westerse lande nie. Die stede in meeste lande is onbeplande hole waar tot tiene van miljoene mense bo-op mekaar in haglike toestande bly. Hierdie stede skep die perfekte omstandighede vir die uitbreek van pandemies.
Voor die koms van vliegtuie kon mense slegs van kontinent na kontinent per boot reis. Epidemies het egter selfs onder daardie omstandighede oor maande en jare versprei en pandemies geword. Die verspreiding van die siektes het so vinnig plaasgevind as wat mens te voet kon loop of te perd kon ry.
In die 1300’s was die Swart Dood deur seilbote deur middel van die rotte aan boord van die skepe versprei. Tydens die Era van Ontdekkingsreise (15de-17de Eeu) was vinniger en beter seilskepe gebou wat oor oseane kon vaar. Kolonialisme was die fondasie van globalisasie en die totstandkoming van een groot ineengestrengelde wêreldekonomie. Die soönotiese siektes soos griep, masels en pokke wat die Europeërs met hul saamgebring het, het op plekke na beraming tot meer as 90% van die inboorlinge uitgewis. Slawehandel in die 16de en 17de Eeu het die muskiet Aedes aegypti van Wes Afrika na die Amerikas, saam met virale siektes soos Zika, Geelkoors en Dengue, versprei.
Met die koms van die vliegtuig het die spoed waarteen siektes versprei eksponensieël vergroot. Danksy vliegtuie kan ‘n pandemie soos Covid binne ure wêreldwyd versprei. Siektes kan so deur mense, diere, goedere en vektore versprei word. In 1999 was muskiete met die Wes Nyl virus in vliegtuie van Afrika na die VSA versprei.
‘n Paar laaste gedagtes:
Die mens en sy voorsate het vir miljoene jare op die Afrika savanna ontwikkel en is aangepas vir lewe hier in Afrika. Ons was nooit veronderstel om in ander kontinente te gaan leef nie. Maar toe het ons. Die koms van die mens het tot ‘n vlaag uitwissings in elke kontinent gelei waar ons die indringerspesie was.
Vandat die mens sy bewussyn gekry het, het hy ‘n verskoning vir sy gedrag gehad en mettertyd kulture en religieë rondom hierdie verskonings gebou wat hom die reg gee om te doen wat hy wil. Daar was nog nooit iemand wat gedink het dat hy nie die reg het om iets te besit, iewers te gaan, of iets te gebruik nie.
Nog nooit het die mens verantwoordelikheid vir sy dade geneem nie en gode en demone geskep om daarvoor te blameer (sien my lesing: Die vloek van Prometheus – die skakel is op die Lesings en Publikasies blad). Die beste voorbeeld hiervan is die skepping van soönotiese virusse waarvoor die mens 100% verantwoordelik was en waarvoor hy gode en demone blameer.
Ek glo aan twee goed: vrye wil en natuurlike seleksie, maar wanneer dié twee kragte meet sal natuurlike seleksie elke keer wen.
‘n Ou professor wat vir ons Virologie en Bakteriologie gedoseer het, het reeds in 1980 gesê: “Die mensdom gaan nie deur atoombomme uitgewis word nie maar deur ‘n kiem” en hy is waarskynlik reg.
Ons het een van twee keuses:
- óf ons hou op met wat ons doen (oorbevolking, oorbenutting, onkunde en selfgeregtigheid),
- óf ons gaan aan soos nou doen en verdrink uiteindelik in ons eie slym en bloed, wat ten minstens vinniger is as om van honger te sterf.
Dit is net ‘n kwessie van tyd voor ‘n nuwe virus ontstaan. Die kanse daarvoor gaan eksponensieël met die eksponensiële toename van plaasdiere en mense toeneem. Ons sit op ‘n tikkende tydbom. Die Corona epidemie is net ‘n voorsmakie vir wat kom.
Bronne:
Babkin, I.V. & Babkina I.N. (2015) The Origin of the Variola Virus. Viruses 7(3): 1100–1112. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC4379562/
Diamond, Jared (1997). Guns, germs and steel, the fates of human societies. W.W. Norton & Company. ISBN 978-0-393-03891-0.
Fong, I.W. (2017) Emerging Zoonoses: a Worldwide Perspective. Springer International Publishing.
Greger, Michael (2020). Pandemics: History & Prevention.
https://nutritionfacts.org/video/pandemics-history-prevention/
Hahn, B.H.; Shaw, G.M.; De Cock,K.M. & Sharp, P.M. (2000). AIDS as a Zoonosis: Scientific and Public Health Implications. Science 287(5453): 607-614.
Harari, Yuval (2011). Sapiens: A Brief History of Humankind. Harvill Secker, Londen.
Herodotus: The Histories. Vertaal deur Robin Waterfield (1997), Oxford World Classics. ISBN 978-0-19-953566-8.
Kirchheimer, W.F. (1964). Survey of Recent Leprosy Research. Public Health Reports 79(6) pp. 481-487.
Verdere leesstof:
Emerging infectious disease. https://en.wikipedia.org/wiki/Globalization_and_disease. Besoek op 15 Mei 2020.
Globalization and disease. https://en.wikipedia.org/wiki/Globalization_and_disease. Besoek op 15 Mei 2020.
