Die Bosveldstollingskompleks
DIE BOSVELDSTOLLINGSKOMPLEKS
François Durand

Die Bosveldstollingskompleks (BSK) is die grootste gelaagde stollingsgesteente-liggaam wat in die aardkors ingedring het. Ongeveer 2.10-1.92 Ga het plutone binne die rotsformasies van die Transvaal Supergroep ingedring en toe stadig afgekoel. Dit is moontlik dat lawas in die Hekpoort Formasie, die Machadodorp lid van die Silverton Formasie en die Dullstroom Formasie van die Rooiberg Groep wat in die vroeë Transvaalkom uitgestroom het, voorlopers van die magmatiese aktiwiteit was wat uiteindelik tot die plutone van die Bosveldstollingskompleks gelei het.
Die BSK beslaan ‘n elliptiese gebied van nagenoeg 65 000 km3 en kom in die Noordwes, Limpopo en Gauteng Provinsies voor en wissel in dikte van ‘n paar meter tot 9 km dik. Daar is ‘n oostelike en westelike lob en ‘n noordelike uitbreiding.
Ongeveer twee miljard jaar gelede het groot hoeveelhede magma vanuit die mantel opgewel en deur lang vertikale krake as reuse boogvormige lopoliete in die kors ingedring. Twee groot gebeurtenisse van magmatiese aktiwiteit het die BSK gevorm: die eerste was die inpersing van tholeiïtiese magma waaruit die gelaagde opeenvolging van ultramafiese en mafiese gesteentes van die Rustenburg Gelaagde Suite gevorm is, en ‘n tweede felsiese fase van granitiese magma waaruit die Rashoop Granofier Suite en die Lebowa Graniet Suite gevorm het.

Die intrusie van die BSK plutone het die gesteentes van die Rooiberg Groep en die Leeuwpoort en die Smelterskop Formasies van die Transvaal Supergroep opgelig om die dak van die BSK te vorm.
Na die intrusie plaasgevind het, het elk van hierdie plutone om die beurt afgekoel en sekere minerale het uitgekristalliseer en na die bodem gesak. Hierdie beurtelingse uitkristallisering van minerale was vir die gelaagde geaardheid van die Rustenburg Gelaagde Suite verantwoordelik.
Die BSK beslaan ‘n elliptiese gebied van nagenoeg 65 000 km3 en kom in die Noordwes, Limpopo en Gauteng Provinsies voor en wissel in dikte van ‘n paar meter tot 9 km dik. Daar is ‘n oostelike en westelike lob en ‘n noordelike uitbreiding.
Die BSK bevat die wêreld se grootste bekende konsentrasie van platinumgroep metale (na beraming 90%) naamlik platinum, palladium, osmium, iridium, rhodium en ruthenium. Daar is ook groot neerslae van chroom, yster, tin, titaan, vanadium en veldspaat in hierdie gesteentes gevind. Oral waar die BSK dagsoom, is daar myne en myndorpe waar honderde duisende mense bly. Hierdie myne maak ‘n groot bydrae tot die ekonomie en welvaart van Suid-Afrika.

Die afkoeling van hierdie ondergrondse inpersings het veroorsaak dat die omliggende geologiese lae saam met dit dieper in die aardkors ingetrek word. Dit het veroorsaak dat die randgebied van die BSK deur die Magaliesberge in die suide en die Waterberge in die noorde begrens word. Oorspronklik was die sandsteen en moddersteenlae binne hierdie bergreekse horisontaal afgeset maar met die opkanteling van die rotsformasies kantel die lae wat in die Magaliesberg voorkom na die noorde in die rigting van die BSK en die lae van die Waterberg na die suide in die rigting van die BSK. Oor die laaste 2 miljard jaar het die rotsformasies wat die BSK bedek het mettertyd wegverweer wat veroorsaak het dat die BSK gedeeltelik dagsoom of te wel bogronds ontbloot is.

Die BSK is reeds in 1897 deur Dr. Gustaaf Molengraaff ontdek. Molengraaf was toe pas deur Pres. Paul Kruger aangestel om die Geologiese Opname op die been te bring en om Transvaal se geologie te karteer. Die Geologiese Opname van die ZAR was in 1912 in die nuutgestigte Geologiese Opname van Suid-Afrika opgeneem is en wat in 1993 na die Raad vir Geowetenskap verander is. Hy was ook een van die ondersteuners van Alfred Wegener se Kontinentale Drywingsteorie (lees meer daaroor in die hoofstuk Gondwanaland in die Paleontologie Afdeling). Hy was ook verantwoordelik vir die totstandkoming van die Geologie Museum waar minerale, kristalle en fossiele uitgestal was. Die Geologie Museum is nog steeds op die grondvloer van die Transvaal Museum – nou die Ditsong Museum – te siene.
Ongelukkig word daar niks van die BSK in ‘n enkele skoolhandboek genoem nie.
Verwysings:
Molengraaff, G.A.F. (1904). Geology of the Transvaal, Edinburgh en Johannesburg (vertaling van ~1902 Franstalige uitgawe), pp. 42-57.
Snyman, C.P. (1996). Geologie van Suid-Afrika, Vol. 1, Departement Geologie, Universiteit van Pretoria.
Woordelys:
Aardkors (Earth’s crust) verwys na die dun laag wat die buitenste laag van die Aarde vorm. Die kors beslaan ongeveer 1% van die aarde se massa. Die kors vorm die boonste deel van die litosfeer. The litosfeer is verdeel in tektoniese plate wat op die mantel beweeg. Die grens tussen die ligter kors en die swarder en digter mantel word deur die Mohorovicic diskontinuïteit aangedui.
Bosveldstollingskompleks (BSK), (Bushveld Igneous Complex) is die grootste gelaagde intrusie in die aarkors ter wêreld en beslaan ‘n area van ongeveer 65 000 km2. Dit is in die noordoostelike gedeelte van die Kaapvaal Kraton in suidelike Afrika geleë. Dit bestaan uit die rotse van die Rooiberg Groep, die Rustenburg Gelaagde Suite, die Rashoop Granofier Suite en die Lebowa Graniet Suite. Dit is een van die rykste mineraalafsettings in die wêreld en bevat die wêreld se grootste konsentrasie van platinum-groep minerale wat platinum, palladium, osmium, iridium, rhodium en ruthenium insluit en op die koop toe bevat dit ook ‘n reuse hoeveelheid yster, tin, chromium, titanium en vanadium.
Diapier (diapir) is ligte gesmelte materiaal wat vertikaal boontoe deur krake of areas met strukturele swakhede in digter oorliggende rotse deur gebeur het. Die verskynsel word diapirisme genoem. Diapirisme kom veral in reuse stollingsgebiede en sekere mantelpluime voor. Hierdie ligter materiaal word gevorm wanneer plooibare materiaal in bros oorliggende rotse indring. Diapiere kan van ‘n tipiese paddastoelagtige vorm tot smal dyke in krake in die omliggende gesteentes wissel. Daar word vermoed dat diapiere ook op Neptunus se maan Triton, Jupiter se maan Europa, Saturnus se maan Enceladus en Uranus se maan Miranda voorkom.
Ekstrusiewe gesteentes (extrusive rocks) is vulkaniese gesteentes wat vorm wanneer magma op die aardoppervlak uitvloei of uitbars. Dit verskil van inpersings waar magma in die kors indring en onder die oppervlakte afkoel om rotse te vorm. Een van die grootste verskille tussen ekstrusiewe en intrusiewe gesteentes is dat die lawa vinniger op die aardkors of onderwater kan afkoel as onder die aardoppervlakte. Dit veroorsaak dat die kristalle oor ‘n langer tydperk in intrusiewe gesteentes (soos in graniet) kan groei en groter as dié in ekstrusiewe gesteentes (soos in rioliet) is.
Eustasie (eustacy) is die wêreldwye verandering in seevlak. Dit sluit die daling in seevlak in wat veroorsaak word deur die opgaar van water in die vorm van ys op die kontinente en die poolkappe, die styging van die seevlak weens die smelting van die kontinentale ys en die poolkappe of ‘n verandering in die diepte van die oseaankomme en dus die opgaarvermoë van die oseaankomme.
Felsies (felsic) verwys na silikaatminerale, -magma en -rotse wat met ligter elemente soos silikon, suurstof, aluminium, natrium en kalium verryk is. Felsiese rotse is gewoonlik ligkleurig. Felsiese fase verwys na die fase tydens die afkoeling van magma wanneer hierdie silikaatminerale vorm.
Ga (Ga) – giga annum, m.a.w. miljard jaar gelede.
Geologiese Opname van Suid-Afrika (Geological Survey of South Africa) van die Departement van Mineraal en Energiesake, is die voorloper van die Raad vir Geowetenskap wat in 1993 tot stand gekom het. Die Geologiese Opname was in 1912 saamgestel deur die amalgamasie van die drie geologiese opnames wat in die Britse kolonies en die ZAR bestaan het. Die taak van die Geologiese Opname en oorspronkik ook van die Raad vir Geowetenskap was om die geologie van Suid-Afrika te karteer en bestudeer.
Graniet (granite) is ‘n algemene tipe suur of felsiese stollingsgesteente wat hoofsaaklik uit drie minerale bestaan: kwarts, veldspaat en mika. Die onderlinge verhouding tussen hierdie minerale kan van een tipe graniet na die ander verskil, maar kwarts is altyd die dominante komponent en maak gewoonlik ongeveer helfte van die graniet op. Graniet is gewoonlik grys maar die veldspaat kan in verskillende kleure soos room, pienk en wit voorkom terwyl die mika gewoonlik bruin of liggrys van kleur is. Graniet kom meer algemeen in die kontinentale kors as in die oseaankors voor. Die felsiese aard van graniet veroorsaak dat hulle minder dig as mafiese rotse is en dus styg graniete stadig boontoe na die oppervlakte terwyl mafiese gesteentes soos basalt en gabbros wat digter en swaarder is, gewoonlik dieper na onder in die mantel insink. Granitiese magma is die tipe magma waaruit graniet tydens afkoeling ontstaan.
Granofier (granophyre) is ‘n subvulkaniese gesteente met ‘n sekere tekstuur wat uit kwarts en alkaliveldspaat bestaan wat langwerpige hoekige ineengegroeide kristalstrukture vorm. Hierdie tekstuur word gevorm wanneer kwarts en veldspaat terselfdertyd op die eutektiese punt uit ‘n silikaatoplossing kristaliseer. Granofiere is kenmerkend van intrusiewe rotse wat vlak in die aardkors, naby die oppervlakte, uitgekristalliseer het. Granofiere vorm ook met die stolling van gesteentes in meteorietimpakkraters.
Inpersings of intrusies (intrusions) vorm wanneer magma vanuit die mantel oor ‘n tydperk van tot miljoene jare deur krake in die aarkors ingepers word. Inpersings kan op baie maniere plaasvind en ‘n verskeidenheid van geologiese strukture vorm vanaf dolerietgange en -plate soos dié wat ons in die Karoo-gesteentes teëkom tot berge wat deur batoliete gevorm word soos wat ons in die Barberton gebied sien. Inpersings is een manier waarop stollingsgesteentes kan vorm, die ander manier waarop stollingsgesteentes kan vorm is deur ekstrusies wanneer lawa op die oppervlakte van die aarde uitvloei of uitbars.
Kieselagtig (siliceous) verwys na die silikainhoud van magma, lawa of gesteentes. Weens die relatiewe ligte aard van silika (SiO2), is dit een van die mees algemene bestanddele in die aardkors.
Kontinentale Drywingsteorie (Continental Drift Theory) was die eerste deur Abraham Ortelius geformuleer en later deur Alfred Wegener voortgebou op grond van die verspreiding van fossiele. Die geologiese gemeenskap (met uitsondering van mense soos Dr Alex du Toit van die Geologiese Opname van Suid-Afrika) dit grootliks verwerp terwyl die paleontologiese gemeenskap dit grootliks aanvaar het. Arthur Holmes het voorgestel dat konveksie van magma in die mantel die kontinentale plate laat beweeg en dit was die kern van die gedagte waarom die teorie van plaattektonika, wat vandag algemeen deur wetenskaplikes aanvaar word, gebou is.
Kruger, Stephanus Johannes Paulus (Paul) (1925-1904) was ‘n leiersfiguur onder die Boere van die Transvaal. Hy het hom vanaf ‘n jong ouderdom as krygsleier onderskei en het die weerstand teen Britse besetting van die Transvaal vir dekades gelei. Tydens Paul Kruger se presidentskap was die Nasionale Dieretuin. die Transvaal Museum, die Geologiese Opname en die Geologie Museum op die been gebring en die Sabie Reservaat, wat later tot die Krugerwildtuin vergroot was, geproklameer. Hy het nadat verskeie pogings om die oorname van die Transvaal deur Brittanje misluk het op 11 Oktober 1899, as President van Transvaal, oorlog teen Brittanje, wat op daardie stadium die grootste wereldmoontheid was, verklaar. Hy is op 14 Julie 1904 as banneling in Clarens in Switserland oorlede.
Lebowa Graniet Suite (Lebowa Granite Suite) is die laaste fase van die magmatiese siklus wat in die sentrale deel van die Kaapvaal Kraton tydens die Vroeë Proterosoïese tydperk na die inpersing van die Rustenburg Gelaagde Suite plaasgevind het. Die Lebowa Graniet Suite sluit die Nebo, Makhutso, Bobbejaankop, Lease en Klipkloof Graniete in. Die Nebo Graniet is op plekke tot 4 km dik. Dit blyk dat dele van die kors gesmelt het toe mafiese tot ultramafiese magmas dit binnegedring het. Hierdie gesmelte kwartsoveldspatiese kristallyne rots het kieselagtige smeltend-presipiterende selle gevorm. Hierdie massa kieselagtige magma het die opstyging van digter mafiese magmas hoër op in die kors gestuit, wat veroorsaak het dat die rotse van die Rustenburg Gelaagde Suite tot ‘n reeks lobbe rondom die rand van die Bosveldstollingskompleks beperk is. Diapiere het vanuit die kieselagtige smeltend-presipiterende selle in die middel van die Bosveldstollingskompleks opgestyg en sywaarts langs die boonste kontakte van die Rustenburg Gelaagde Suite gesprei het om sodoende die Nebo Graniet te vorm.
Lopoliet (lopolite) is ‘n tipe inpersing of intrusie wat ‘n plat bokant het maar ‘n vlak ronde onderkant het.
Mafies (mafic) verwys na ‘n silikaatmineraal of ‘n stollingsgesteente wat ryk aan magnesium en yster is. Meeste mafiese minerale is donkerkleurig en sluit algemene minerale soos olivien, pirokseen, amfiboliet en biotiet in.
Magma is die gesmelte of semi-gesmelte materiaal waaruit alle stollingsgesteentes gevorm word. Magma kom onder die oppervlakte van planete en mane voor. Die temperatuur van magma is gewoonlik tussen 700 – 1300°C. Magmatisme is die proses van magmavorming. Magmatiese aktiwiteit verwys na tydperke van opwelling van magma vanuit die mantel. ‘n Magmaseries is ‘n chemies kenmerkende reeks magmasamestelliings wat in mafiese magma evolveer.
Moddersteen (mudstone) is ‘n tipe modderrots wat uit fynkorrelrige sedimente bestaan wat oorspronklik as klei of modder uit suspensie neergeset is.
Molengraaff, Gustaaf Adolf Frederik (1860 – 1942) was ‘n Nederlandse geoloog, bioloog en ontdekkingsreisiger. Hy het ‘n gesaghebbende geword oor die geologie van Suid-Afrika en Nederlands-Indië. Hy het sy PhD in geologie by die Utrecht Universiteit ontvang en het eers as onderwyser gewerk tot hy uiteindelik as professor eers by die Universiteit van Amsterdam en later by die Universiteit van Delft aangestel is. Tydens sy aanstelling in Amsterdam Universiteit het hy verskeie navorsingsekspedisies onderneem, onder andere na Suid-Afrika en Nederlands-Indië. Hy het in 1891 in Suid-Afrika goudneerslae bestudeer en was in 1897 deur Paul Kruger as staatsgeloog van die Transvaalse Republiek (ZAR) aangestel om die Geologiese Opname op die been te bring en die Transvaal se geologie te karteer. Hy het die Bosveldstollingskompleks tydens sy kartering van die geologie van Transvaal ontdek. Een van sy uitvindings was die identiteitsplaatjie wat soldate om hul nekke tydens oorloë moet dra. Hy en Alexander du Toit (later direkteur van die Geologiese Opname) was van die weinige geoloë wat Alfred Wegener se Kontinentale Drywingsteorie ondersteun het.
Rashoop Granofier Suite (Rashoop Granophyre Suite) het 2.05 Ga in die kors ingedring en is dus ouer as die Rustenburg Gelaagde Suite. Dit bestaan uit ‘n plaat granofiere wat in die Rooiberg rioliete en die rotse van die Transvaal Supergroep ingepers het. Die Rashoop Granofiere is ‘n vlakker kontemporêre ekwivalent van die stollingsgesteentes van die Rooiberg Groep. Die granofierriolietmagma waaruit die Rashoop Granofier Suite onststaan het was afkomstig van ‘n gedeeltelike smelting van die granietryke laer gedeeltes van die kors. Sommige variëteite van granofier blyk die metamorfe produk te wees wat veroorsak was deur die indringing van die Rustenburg Gelaagde Suite in die Pretoria Groep wat die dak van die lopoliet vorm of deur die gedeeltelike smelting van die rioliete van die Rooiberg Groep. Die Rashoop Granofier Suite bestaan uit drie gedeeltes: die Stavoren Granofier, die Zwartbank Pseudogranofier en die Rooikop Granietporferie.
Plaattektoniek (plate tectonics) word deur prosesse wat in die kors van ‘n rotsagtige planeet of ‘n maan met ‘n vloeibare mantel aangedryf. Tektoniese prosesse vind hoofsaaklik rondom die kante van die tektoniese plate wat die kors opmaak plaas. Tektoniese prosesse beheer die struktuur en vorm en eienskappe van die kors van rotsagtige hemelliggame. Dit sluit die vorming en herwerking van tektoniese plate in, bergvorming (orogenese), kontinentale beweging in. Tektoniese prosesse sluit ook vulkaniese aktiwiteit, tsunamis en aardbewings in.
Platinumgroep metale (platinum group metals) sluit platinum, palladium, osmium, iridium, rhodium en ruthenium in. Die Bosveldstollingskompleks is die grootste bron van planinumgroep metale op Aarde.
Plutoon (pluton) is ‘n intrusiewe stollingsgesteente-liggaam of plutoniese gesteente. Dit bestaan uit materiaal wat stadig uit magma gekristalliseer het soos dit onder die aardoppervlak afgekoel het. Plutone is kleiner as batoliete. Die mees algemene gesteentes wat mens in plutone kry is graniet, granodioriet, tonaliet, monsoniet en kwartsdioriet.
Porferities (porphyritic) verwys na die opmerklike verskil in die verskil tussen die grootte van kristalle in sekere stollingsgesteentes. Groot kristalle of fenokriste kom dikwels in ‘n matrys van mikroskopiese kristalle in ekstrusiewe rotse voor. In porferitiese graniet is daar een groep kristalle wat heelwat groter as die ander groepe se kristalle is. Porferitiese rotse word gevorm wanneer ‘n kolom magma wat na boontoe deur die kors opstyg in twee stadiums afkoel. Tydens die eerste stadium begin die lawe diep in die kors afkoel wat die groot kristalle met ‘n deursnit van 2 mm of groter vorm. In die finale stadium wanneer die magma naby die oppervlakte is, of as vulkaniese materiaal op die oppervlakte uitmars, koel die magma so vinnig af dat die kristalle in die matrys, wat die groot kristalle omring, mikroskopies klein is.
Rioliet (rhyolite) is die mees silikaryke van alle vulkaniese gesteentes. Dit is meestal glasagtig of fynkorrelrig in tekstuur maar kan soms porferities wees met groter kristalle (fenokriste) wat binne ‘n andersins fynkorrelrige matrys voorkom. Die mineraalsamestelling van rioliet is gewoonlik kwarts, sanidien en plagioklaas. Dit is die ekstrusiewe ekwivalent van graniet. Die magma waaruit rioliet onstaan is besonder viskoos weens die hoë silikainhoud daarvan en rioliet word dus meer algemeen deur lawa uitbarstings as deur lawavloei afgeset.
Rooiberg Groep (Rooiberg Group) vorm die dak van die Bosveldstollingskompleks. Die 2.06 Ga Rooiberg Groep en bevat die grootste versameling van riolitiese rotse in die wêreld. Die stollingsgesteentelae van die Rooiberg Groep wissel van die hoofsaaklik mafiese Dullstroom Formasie, tot ‘n reeks felsiese gesteentes wat in die Damwal, Kwaggasnek en Schrikkloof Formasies voorkom.
Rustenburg Gelaagde Suite (Rustenburg Layered Suite) was vlak onder die aardkors onder die Rooiberg felsiete en die Rashoop granofiere as plate binne die Transvaal Supergroep ingepers. Die Rustenburg Gelaagde Suite is sigbaar in vier dele van die Bosveldstollingskompleks wat dagsoom. Hierde dele staan as die Oostelike Lob, die Westelike Lob en die Noordelike Uitbreiding. Daar is nog ‘n kleiner Ver-Westelike Lob noord van Zeerust en ondergrondse Suid-Oostelike Lob by Bethal wat deur jonger sedimente bedek word. Die Westelike en Oostelike Lobbe word deur koepels en diapiere van die vloergesteentes onderbreek.
Sandsteen (sandstone) is ‘n klastiese sedimentêre gesteente wat hoofsaaklik uit sand-groote korrels bestaan wat uit rotsfragmente (klaste) of organiese materiaal bestaan. Meeste sandstene bestaan uit kwarts of veldspaat want hulle is van die mees weerstandbiedende gesteentes op die aardkors. Sandsteen kan in kwartsiet metamorfoseer as dit aan hitte en druk deur tektoniese kompressie of aan indringings blootgestel word.
Stollingsgesteentes (igneous rocks) is gesteentes wat vorm wanneer lawa of magma afkoel. Magma kom binne ‘n planeet se kors of mantel voor en vorm deur ‘n verhoging in temperatuur en druk of ‘n verandering in samestelling. Wanneer die magma ondergronds stol dan word dit ‘n intrusie genoem en wanneer dit as lawa bogronds stol dan word dit ‘n ekstrusie genoem. Stollingsgesteentes kom in ‘n wye verskeidenheid van geologiese omgewings voor – dit vorm ongeveer 90-95% van die aardkors en die grootste deel van oseaanvloere. Ongeveer driekwart van hierdie stollingsgesteentes op land word deur ‘n dun lagie sedimentêre gesteentes bedek. Stollingsgesteentes is belangrik vir geochronologie aangesien dit die hoofbron van radioaktiewe elemente is wat vir radiometriese datering gebruik word. Stollingsgesteentes is ‘n belangrike bron van minerale wat ontgin word.
Tholeiïtiese magma (tholeiitic magma). Die tholeiïtiese magmaseries is een van die twee hoof magmaseries wat in subalkaline stollingsgesteentes voorkom waartydens die minerale labradoriet, ougiet en pigeoniet in ‘n glasagtige grondmassa vry van potensiële veldspatoïede gevorm word.
Transvaal – “trans” bedoel oorkant in Latyn en “vaal” verwys na die Vaalrivier. Die Transvaal was die informele naam vir die gebied tussen die Vaalrivier en die Limpopo wat deur Voortrekkers in die 19de eeu bewoon was. Die amptelike naam vir hierdie gebied was die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Die Britse koloniale owerhede het die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1852 erken. In 1902 wen die Britte die Anglo-Boereoorlog en die eertydse Boererepublieke word in die Unie van Suid-Afrika ingesluit. Die gebied het vanaf uniewording as die Transvaal Republiek bekend gestaan. Geografiese name is natuurlik erg onder druk wanneer dit by politieke omwentelings kom en die Transvaal Provinsie was in vier provinsies (Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en die westelike deel wat in Noord Wes ingesluit is) opverdeel toe die ANC in bewind gekom het. Die woord Transvaal is egter so diep in die wetenskap en wetenskaplike terme soos Kaapvaal Kraton, Transvaalkom en Transvaal Supergroep opgeneem dat dit waarskynlik vir altyd saam met ons sal wees.
Transvaalkom (Transvaal Basin) is een van die drie komme wat in die Transvaal Supergroep op die Kaapvaal Kraton voorkom. Die ontwikkeling van hierdie 2.65-2.05 Ga Neoargeïese- Paleoproterosoïese kom was hoofsaaklik deur magmatisme, paleoklimaat, eustasie en plaattektoniek gevorm.
Transvaal Supergroep is ‘n statigrafiese eenheid wat hoofsaaklik in die noordelike deel van Suid-Afrika maar ook gedeeltelik in suidelike Botswana voorkom. Die Transvaal Supergroep is op die Kaavaal Kraton geleë. Die Transvaal Supergroep is ongeveer 2.5 Ga en bestaan uit drie dele: die Transvaalkom in die ooste, die Griekwalandkom in die weste en die kleiner Kanyekom in suidelike Botswana. Die onderste en oudste formasies bestaan uit sedimentere gesteentes (Black Reef en Vryburg Formasies) wat deur dolomiet, kalksteen en gebande ystersteen formasies opgevolg word (Chuniespoort, Ghaap, Taupone Groepe). Daarna was die sedimentëre en stollingsgesteentes van die Pretoria, Postmasburg, Segwagwa Groepe in die drie komme afgeset. Heel laaste was die Rooiberg Groep, Loskop Formasie afgeset wat hoofsaaklik uit stollingsgesteentes bestaan.
Ultramafiese gesteentes (ultramafic rocks) is stollingsgesteentes met ‘n baie lae silikainhoud (gewoonlik minder as 45%), gewoonlik meer as 18% MgO, hoë vlakke van FeO, lae vlakke van kalium en wat uit meer as 90% mafiese materiaal bestaan. Die Aarde se mantel bestaan uit ultramafiese gesteentes.
Wegener, Alfred Lothar (1880 – 1930) was ‘n Duitse poolnavorser, geofisikus en weerkundige. Hy het in 1912 sy teorie van kontinentale drywing (Kontinentalverschiebung in Duits) gepubliseer. Hy het sy mening op die voorkoms van tipies Suid-Afrikaanse fossiele in ander lande gegrond.
