BOU ‘N VLERMUISHUIS

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

BOU ‘N VLERMUISHUIS

May 6, 2021 Doen dit self 0

Soos met die Goggahuis, sal meeste mense waarskynlik eerstens wil vra: “hoekom op aarde wil ek so iets doen?”, of: “vlêrmuise is gross en hulle vlieg in mense se hare in”, of: “vlêrmuise dra siektes – ek wil hulle nie naby my hê nie!”

Ja, daar is inderdaad ‘n hele berg van kulturele vooroordele jeens vlêrmuise wat ons eers sal moet oorkom voordat mense sal verstaan hoekom die bewaring van vlêrmuise belangrik is.  Eerstens: vergeet alles wat mense jou tot dusvêr van vlêrmuise vertel het – veral die vampier en Halloween en gruwelfliek nonsens.

Die ekologiese belang van vlêrmuise

Raai watter soogdiergroep is die grootste in getalle en spesies?  Die antwoord is knaagdiere!  Maar dit kon jy seker maklik raai want daar is muise en rotte net waar jy kyk en nie soveel olifante en leeus nie.  Rondom 40% van soogdierspesies is knaagdiere en hoort aan die Orde Rodentia.

Die tweede grootste groep is die vlêrmuise (Orde Chrioptera) wat ongeveer 25% van die wêreld se soogdierspesies beslaan.  Daar is natuurlik ‘n goeie rede hiervoor.  Knaagdiere het saam met die diversifisering van grasse vanaf 60 miljoen jaar gelede gediversifiseer en vermeerder.  Knaagdiere is grotendeels graanvreters en hulle toename in spesies en getalle weerspieël die wêreldwye toename van grasse.  Iets soortgelyks het met die graanvretende Sangvoëls (Orde Passeriformes) gebeur wat ongeveer 60% van al die voëlspesies bevat.  Die oorsprong van grasse was die laaste groot evolusionêre sprong van plante wat tot hul suksessie oor ander plantgroepe aanleiding gegee het.  Diere het bloot daarby aangepas en van die nuwe kosbron gebruik gemaak.  Ongeveer helfte van alle soogdierspesies, die graanvreters en grasvreters, is van gras as kosbron afhanklik.

Wat bly oor onder soogdiere wat spesifieke eetgewoontes het?  Onder die groot soogdierordes is daar vleisvreters en aasvreters onder die Carnivora en Cetacea en daar is vrugtevreters onder die Primata en hoofsaaklik grasvreters onder die Artiodactyla en Lagomorpha.  Die res van die soogdierordes is hoofsaaklik of gedeeltelik insekvreters.  Amper helfte van die soogdierspesies is insekvretend.  Dit sluit echidnas, talle marsupiale, molle, goue molle, skeerbekmuise, krimpvarkies, klaasneuse, boomskeerbekke, en natuurlik ‘n spul van die orde Carnivora (meerkatte, muishonde, aardwolf ens.) en baie Primata (nagapies, lemurs, tarsiers, die ai-ai ens.) in en dan natuurlik die vlêrmuise!

Sangvoëls (Orde Passeriformes), wat hoofsaaklik sade vreet, vang reuse hoeveelhede insekte in die somermaande om hul kuikens te voer want die kuikens het ‘n hoë-proteïen dieët nodig om vinnig te groei.  Die res van die voëls, met uitsonderings soos pikkewyne en pelikane en aasvoëls seker, eet insekte – sommiges soos swaeltjies doen dit voltyds en ander soos bromvoëls en volstruise doen dit opportunisties.

So waar pas die vlêrmuise in die prentjie in?  Om dit botweg te stel – vlêrmuise is maar bietjie pateties wanneer dit by kompetisie met voëls kom.  Voëls is sterker, slimmer en meestal groter as vlêrmuise en hulle vlieg vinniger, hoër en verder as vlêrmuise en hulle het ‘n baie hoë metabolisme teenoor vlêrmuise en moet dus meer vreet.  Vlêrmuise staan eenvoudig nie ‘n kans teen voëls nie.  Maar voëls is gelukkig meestal daglewend wat ‘n evolusionêre skuiwergat vir vlêrmuise gelaat het.  Vlêrmuise, soos meeste soogdiere, het die naglewende nis bemeester.

By verrre meeste soogdiere is naglewend.  Om te dink dat jy ‘n klomp “diere” (bedoelende soogdiere) in die Krugerwildtuin gesien het, is pleinweg ‘n belaglike wanpersepsie want jy het amper alles gemis.  Die goed wat jy gesien het soos kameelperde, olifante, buffels, rooibokke, zebras, renosters en leeus is eenvoudig te groot om in gate in die dag weg te kruip soos wat amper al die soogdiere doen.  Gaan tik maar daardie 10 soogdierspesies wat jy laas in die Krugerwuldtuin gesien het van jou lys van die 145 soogdierpesies wat in die Krugerwildtuin voorkom af en vra jouself die vraag af of jy regtig verstaan wat aangaan.

Die dag hoort aan die voëls en dassies en reptiele wat in die son wil bak, maar die wêreld ontwaak wanneer die son sak en dis wanneer die insekvretende soogdiere uitkom want meeste insekte vlieg in die nag – juis om die voëls te vermy.  Aangesien hierdie nis soveel kos bied en hulle nie met voëls vir kos hoef te kompeteer nie, kon vlêrmuise die tweede, en die skeerbekmuise en hul verwante, die derde mees diverse en talrykste soogdiergroepe op aarde word.

Maar aangesien alles in die natuur in balans moet wees, plant insekte so effektief voort dat hulle ondanks die feit dat hul heeltyd gevreet word, nog steeds kan voortbestaan en dus lê ‘n motwyfie honderde eiers en ‘n muskietwyfie so 100-200 eiers.  Jy kan sien waarheen hierdie storie gaan, nê?  As die vlêrmuise nie daar is nie dan word jy in ‘n ommesientjie met hordes insekte oorval.  Na beraming eet die 100 miljoen vlêrmuise, wat die grotte in sentraal Texas bewoon, ongeveer een duisend ton insekte per nag, insluitende talle pesspesies wat op die plase in die omgewing voorkom. Dieselfde verskynsel is by die De Hoop Guano Grot in die Weskaap waargeneem waar ongeveer 300 000 vlêrmuise bly.  Hierdie vlêrmuise vang ongeveer 100 ton insekte jaarliks wat ‘n geweldige groot bydrae tot pesbestryding in die Bredasdorp Distrik lewer.

http://www.scienceinafrica.com/wildlife/bats-natures-agricultural-allies

Hoe kan jy by vlêrmuise baat?

Eerstens is dit ‘n simpel ding om te vra.  Die natuur, die wêreld en die kosmos draai nie om die mens nie al dink party mense so.  Daar is werklik mense wat glo dat die hele kosmos tot stand gekom het om hulle te huisves maar kan nie die vraag antwoord hoekom die kosmos vir miljarde jare voor die mens bestaan het en hoekom dit vir miljarde jare na die mens nog steeds steeds sal bestaan nie.  Mense sukkel geweldig met die idee dat ons deel van die natuur is en by die natuur moet aanpas want anders het ons geen bestaansreg nie.  En dus vra ek hierdie vraag want dikwels is dit die enigste rede hoekom mense iets sal bewaar – naamlik as hulle die direkte voordeel wat hulle daaruit put kan insien.  Dit is moeilik vir mense om die belang van brommers, kakkerlakke en miere in te sien, maar as jy nie self hondemis wil eet en jou kombuiskaste wil aflek nie, dan moet jy maar vir die goggas die werk gee om te doen, wat jy reeds doen, so ontspan nou maar daaroor.  Sorg net dat daar ook ‘n geitjie is wat met die oortollige miere en kakkerlakke kan afreken anders moet jy dit mos ook doen.

Dieselfde reël geld vir vlêrmuise – as jy nie self wil rondvlieg en muskiete en pesspesies vang nie, moet jy dit maar aan die spesialiste oorlaat wat danksy miljoene jare se aanpassings dit beter as enigeen anders kan doen.  Jy kan natuurlik gif gebruik maar dit is seker die afgryslikste daad van alles want jy gaan bloot die vlêrmuise, skeerbekmuise, krimpvarkies en elke ander insekvreter uitwis terwyl jy sterker en chemies meer weerstandbiedende insekte voortbring.

Vlêrmuise is net so belangrik, indien nie belangriker, as die voëls, akkedisse, paddas, spinnekoppe, roofvlieë, perdebye ens. wat in die dag die insekte in jou tuin in bedwang te hou – hulle doen dit bloot in die nag.  Trouens sonder vlêrmuise wat die lugruim bokant jou tuin in die nag skoonhou en bewaak, staan jou groente amper nie ‘n kans nie en dan gaan jy dit weens die peste op jou groente begin oorweeg om gif te gebruik of tou op te gooi.  Dus moet jy alles in jou vermoë doen om jou tuin vlêrmuisvriendelik te maak.

Daar is natuurlik ‘n probleem wanneer vlêrmuise in mens se dak kom woon.  ‘n Paartjies sal nie regtig saak maak nie, maar as dit ‘n hele kolonie van honderde vlêrmuise is, verander die situasie en kan dit ‘n wesenlike gesondheidsgevaar inhou. Mense raak dan paniekerig en kry sommer pesbestryders in en voor jy “mes” kan sê pluk die ouens giwwe uit en daar is nog ‘n spyker in die Aarde se doodskis.

Maar hoekom is dit dan belangrik om vlêrmuise in stedelike gebiede te bewaar en nie net soos die res van die plante en diere uit te moor nie?  O ja, liewe leser, dit is presies wat ons gedoen het toe ons die grasvelde platgestoot het om huise daar te bou.  Weet jy dat grasvelde ‘n groter biodiversiteit as oerwoude huisves?  Natuurlik moet almal erg ontsteld raak wanneer die Amasone Oerwoud afgekap word, maar almal is veronderstel om net so kwaad te word as ‘n boer ‘n stuk grond ontbos om daar te boer of ontwikkelaars ‘n grasveld in Gauteng vir ontwikkeling gelykmaak.

Vlêrmuise is een van die weinige groepe wat die mens se aanslag op die omgewing tot ‘n mate oorleef het.  Selfs in stede soos Johannesburg sien mens soms in die aand vlêrmuise wat rondom straatligte rondfladder om die insekte wat daarnatoe aangetrek word te vang, terwyl leeus, olifante, bokke, eekhorings, aardvarke en krimpvarkies soos mis voor die son verdwyn het.  Vlêrmuise is, benewens sekere knaagdiere soos rotte en muise, van die weinige soogdiere wat die vermetelheid van die mensdom oorleef het en, anders as rotte en muise, is hulle nuttig vir die mens.

Dolomitiese gesteentes kom vanaf Namibië tot Noodwes, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo Provinsies voor.  Derduisende grotte kom in die dolomiete voor en een enkele grot kan duisende vlêrmuise huisves.  Mense ry heen en weer oor hierdie grotte ondergronds tussen Pretoria, Krugersdorp en Johannesburg byvoorbeeld.  Bykans niemand sien die vlêrmuise wat in hulle duisende na sonsondergang uit die grotte uitborrel nie, veral as hulle in die aande voor hul skerms vasgekluister sit.

Insekte vorm ‘n ander deel van die diereryk wat nog nie heeltemal deur die mens uitgewis is nie.  Inaggenome baie mense se negatiewe houding teenoor insekte sou mens dink dat hulle vlêrmuise en geitjies rondom hul huise sal verwelkom!  Toe nou nie.  Dieselfte antie wat die miere en kakkerlakke in haar huis met gif spuit, kom ook sommer die geitjie in die huis met dieselfde gif by en raak histeries as daar ‘n vlêrmuis in haar huis kom!  As daar nie vlêrmuise was nie, sou ons met muskiete en motte en allerhande vlieënde insekte oorval gewees het en dink net hoe daardie antie met die kannetjie gif dan tekere sal gaan!

Maar nou is dit so dat sekere vlêrmuise soos die Geel dakvlêrmuis gemakliker met mense kan saamleef as ander vlêrmuise wat gewoonlik in die donker koue veiligheid van grotte leef.  Ongelukkig mis vlêrmuise amper net so baie as wat hulle eet en mens kan uiteindelik ‘n plafon vol vlêrmuisguano hê.  Van die siektes wat daar kan uitbroei is grotsiekte wat deur die swam Histoplasma capsulatum veroorsaak word.

Mens kan egter van die vlêrmuise ontslae raak sonder om gif te gebruik deur om uitsluitingmetodes te gebruik.  Die eerste ding wat mens moet doen is om te sien waar die vlêrmuise snags onder die dak uitvlieg – maar kyk versigtig want soms is daar meer as een in-en-uitgang.  Tweedens stop mens gat toe – maar nadat die vlêrmuise die dak verlaat het en nie in die dag terwyl hulle daarbinne is nie!  Want dan het jy mos nou honderde karkasse bo-op die guano hoop bo-op jou plafon en die brommers sal erg baie daarvan hou!  Dit is ook dan die rede hoekom jy nie die kolonie wat in jou dak bly in die somermaande uitsluit nie – want dan is daar baba-vlêrmuise wat vir hul ma’s in die dak wag om terug te keer om te soog.  Die gate kan maklik met opgefrommelde ogiesdraad, pleister, sement of plankies toegemaak word, maar onthou dat ‘n gaatjie, so min as ‘n sentimeter wyd, groot genoeg is vir sekere vlermuise om deur te kruip!

Maar wat van die ontheemde vlêrmuise dan?  Hulle het tot nou toe jou buurt gratis van naglewende vlieënde insekte skoongehou.  Maar mens kan hulle met behulp van ‘n vlêrmuishuis akkommodeer.  Ongelukkig werk dit nie altyd nie, maar as daar eers ‘n kolonie in die vlêrmuishuis ingetrek het, sal vlêrmuise dit jaar na jaar betrek.  Hul reuk en feromone trek in die hout in sodat hulle wanneer hulle in die omgewing is, hulle weer na die vlêrmuishuis kan terugkeer omdat hulle die reuk en feromone herken.  Hulle sien nie die opening nie want dis mos donker wanneer hulle vlieg – dus merk hulle ook die ingang met behulp van ‘n klier wat onder die ken geleë is wat ‘n wasagtige sekresie met feromone afskei wat aan die opening afsmeer.  Dit is hoe die vlêrmuise die ingang na jou dak of die rotsskeur of hol boomstam herken.

‘n Vlêrmuishuis moet aan die behoeftes van die betrokke vlêrmuise voldoen voordat hulle daar gaan intrek.  Die een wat ek in hierdie artikel bespreek is vir vlêrmuise wat in nou krake van tot so 2 cm wyd leef.  Dit is tipies die holte wat mens tussen die boomstam en die bas wat afdop kry, of in skeure en krake in rotse, of natuurlik wat mens tussen die dakbalke binne huise kry.  Die vlêrmuishuis moet binnekant ook redelik donker wees.  Vlêrmuise hou ook van hoë vogtigheid en windstil plekke.

Al bogenoemde eienskappe kan mens in ‘n vlêrmuishuis inbou.  Die vlêrmuishuis op die foto en in die bouplan is vir vlêrmuise wat van smal holtes hou.  Dit is donker binne-in veral soos die vlêrmuis al hoër op verby die spasieërders beweeg.  Dit sal vogtig binne-in wees weens die verdamping van die vog van die uriene en die mis wat op die spasieërders versamel en in die hout intrek.  Die asempies van honderde vlêrmuise sal dit ook goed vogtig maak wanneer hulle bedags daarbinne slaap.

Vlêrmuise is glad nie oor die stank van hul mis en uriene gepla nie.  Dit is trouens moontlik dat hulle die reuk van die mis gebruik om eerstens van ver hul slaapplek te vind en dan, soos hul nader kom, die feromone gebruik om die opening te kry of hul spesifieke kolonie te vind.  Sommige vlêrmuiskundiges gebruik vlêrmuismis uit die dak van die huis om in die vlêrmuishuis te sit om die vlêrmuise soheentoe te lok nadat hulle die dak geseel het.  Dit werk nie so dikwels as wat mens daarvoor hoop nie maar hoofsaaklik omdat niemand voorheen aan die feromoon merker by die ingang gedink het nie.  Ek is seker dat as mens van hierdie donker wasagtige aanpaksel met ‘n mes kan afskraap en op die landingsplatform van die vlêrmuishuis smeer, sal die sukses van bewoning vergroot.

Vlêrmuise land op die landingsplatform voor hulle boontoe dieper in die vlêrmuishuis opklim.  Die rooster op die agterste paneel help hulle om maklik te land sonder om hul greep te verloor.  Groefies word op die ander oppervlaktes aan die binnekant van die vlêrmuishuis aangebring in plaas van roosters om ruimte en geld te bespaar.

Dit is belangrik om die vlêrmuishuis so hoog as moontlik teen ‘n muur langs ‘n huis, skuur of ander gebou op te hang.  Vlêrmuise is nie bang vir hoogtes nie en hulle het trouens dit nodig om te kan vlieg.  Hulle begin verwoed te fladder sodra hulle grond toe val en as daar nie genoeg valruimte is nie land hulle op die grond en ongelukkig is vlêrmuise sulke swak vlieërs dat meeste spesies nie van die grond kan opvlieg nie – hulle waggel ongemaklik oor die grond tot by ‘n boom of iets dergliks waar hulle dan teen dit opklim om so hoog moontlik te kom om van daar weer af te val om verder te kan vlieg.

Daar is natuurlik ook ‘n kans dat bye in die vlêrmuishuis intrek voor die vlêrmuise ‘n kans kry – self dan is dit nie nodig om tekere te gaan en gif te gebruik nie.  Daar is oral byevangers wat die bye vir jou sal kom verwyder.  Maar ek hoop dat jou vlêrmuishuis vinnig deur ‘n groep gelukkige vlêrmuise betrek sal word en dat hulle vir altyd deel van jou lewe sal word want solank daar vlêrmuise is, het die mens ook nog ‘n kans op voortbestaan.

 

error: Content is protected !!