Maak jou eie soldaatvliegplaas

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Maak jou eie soldaatvliegplaas

July 6, 2020 Doen dit self 0

deur François Durand

As jy per ongeluk op hierdie artikel afgekom het, sal jy dalk wonder hoekom op aarde mens met vlieë sou wou boer.  Hier is die kort antwoord: as jy gratis proteïene vir die res van jou lewe wil hê en op die koop toe jou organiese afval vir altyd gratis laat verwyder, dan moet jy soldaatvlieg-boerdery oorweeg.  Dit klink amper te goed om waar te wees, want dit klink amper soos om ‘n masjien te ontwerp wat vir ewig sonder energie sal loop.

As ‘n mens net bietjie wegstaan en objektief na hierdie onderwerp kyk, sal jy merk dat dit in elk geval is wat die ekologie vir ons gee – die natuur skep vir ons kos en suurstof en onttrek koolsuurgas uit die lug terwyl dit ons organiese afval verbruik.  Maar toe dons ons dit mos op deur gif, chemikalieë en onafbreekbare rommel in die natuur te pomp, die ekologiese diversiteit te vernietig en so vinnig aan te teel dat die natuur nooit weer kon herstel nie.  Maar ons het darem nog die vlieë oor.

Die volwasse soldaatvlieg

Vlieë is gewoonlik ‘n pes – hulle kom in ons huise in, sit op ons kos, braak hulle verteringsensieme, saam met die bakterieë wat hul so flussies van iets septies opgesuig het, oor jou kos uit.  Na ‘n rukkie suig die vlieg die verteerde kos op, maar baie bakterieë bly op jou kos en so versprei brommers en huisvlieë dan siektes.

Die soldaatvlieg (Hermetia illucens) van die Familie Stratiomyidae doen bogenaamde dinge glad nie.  Eerstens – die volwasse vlieg, wat soos ‘n swart perdeby lyk, eet glad nie, maar drink net water en nektar.  Dit is nie so vreemd nie, want daar is baie insekspesies waarvan die volwassenes nie voed nie, maar slegs bestaan om voort te plant – dink maar aan sywurms.  Dus word soldaatvlieë nie soos huisvlieë en brommers deur die reuk van kos na jou huis gelok om te vreet nie.

Volwasse soldaatvlieë word egter deur die reuk van verottende organiese materiaal aangelok waar die wyfies dan hulle eiers lê.  Aangesien mens nie verottende organiese materiaal in die huis aanhou nie, kom soldaatvlieë nooit in die huis in nie.

Die volwasse vlieë word na plekke soos vrot komposhope, mis en karkasse gelok waar hulle hul eiers lê om sodoende te verseker dat hul nageslag kos het.  Die wyfie lê 200-600 eiers op ‘n slag net bokant die verottende organiese materiaal.

Soldaatvlieg-maaiers

Onder optimale omstandighede broei die eiers na ongeveer 4 dae uit.  Wanneer die vlieglarwe of maaier uitbroei is dit ongeveer 1 mm lank.

Die soldaatvlieg-maaiers het ‘n ongelooflike voedingsdrang en kan letterlik enige verrottende organiese materiaal verorber.

Die maaier bly binne die kos en ontwikkel daar tot by die sogenaamde voorpapie (prepupa) in 22 dae. Die maaier vervel vyf keer tydens sy ontwikkeling soos wat dit al groter word.  Daar is dus altesaam ses maaierstadiums.

Tydens hulle ontwikkeling word die maaier ook al hoe hariger en gebruik die hare om te beweeg en teen goed op te klim terwyl hulle hul liggaam wikkel.  Hulle gebruik hulle hare om teen goed uit te klim en om sodoende uit die kos te klim wanneer hulle hulle finale papiestadium, die voorpapie, bereik.  Die voorpapie klim uit die kos om ‘n plek te soek om in ‘n papie te verander.  Die voorpapiestadium duur een week en in hierdie tydperk eet hulle glad nie.

Die rede hoekom die maaier uit die kos uitklim is omdat hulle kos basies uit verrottende organiese materiaal bestaan.  Hierdie verottende materiaal bevat baie bakterieë wat hulle mettertyd sal aanval en verteer as hulle lank genoeg daarin bly.  Soos ander vlieë verkies soldaatvlieg-maaiers los grond om in te pupeer.

Soldaatvlieg-papies

Nadat die voorpapies  in klam losserige grond ingewurm het, verander hulle in papies.  Onder ideale toestande (regte vog en temperatuur) ontpop die volwasse vlieg ‘n week later uit die.

Onder optimale omstandighede duur die hele lewensiklus van die soldaatvlieg ongeveer 40-44 dae.  D.w.s. toestande wat genoeg klam, verrottende kos, ‘n humiditeit van ongeveer 70% en ‘n temperatuur van tussen 25-40°C insluit.

 

 

 

Soldaatvlieë as onuitputbare gratis kosbron

Soldaatvlieë word reeds wêreldwyd geteel en word hoofsaaklik vir voer vir varke, hoenders en visse gebruik.  Daar is ook ter plaatse studies oor die effektiwiteit van soldaatvlieglarwes vir dierkos gedoen (Driemeyer, 2016; Van Schoor, 1027; Jansen, 2018).  Soldaatvlieg-maaiers bevat ongeveer 43% proteïene en is volop vet en kalsium.  Die maaiers word gewoonlik gedroog en in ‘n poeier gemaal wat vir diervoer gebruik word.

https://www.facebook.com/BSFL-For-Sustainable-Future-2343057072642885/

Daar is groot aanlegte wat duisende tonne larwes per jaar produseer, tot boere wat dit vir hoendervoer teel tot mense wat dit vir hul visse in hulle akwakultuur-aanleg of vir hul werfhoenders teel.  Een van die mees inspirerende videos wat ek tot dusver teëgekom het is This London Farm Is Growing Millions of Soldier Fly Larvae for a Very Good Reason van Keiran Olivares Whitaker.

 

Whitaker gebruik die uitdrukking: “the engineers of today are the farmers of tomorrow” wat ek volmondig mee saamstem.

Insekte is egter heeltemal geskik vir menslike gebruik ook.  Insekte word hier in Suid-Afrika, soos trouens regdeur Afrika, die Ooste, die Amerikas en Australië deur mense geëet.  Ons almal is vertroud met mopaniewurms, maar hulle is maar een van tientalle eetbare insekspesies in Suid-Afrika.  Jy sal dalk nou dink dat mense in Europa nie so laag sal daal nie, totdat jy die berugte casu marzu van Sardinië raakloop en agterkom dat heuning niks meer as goggabraaksel is nie!  En as jy daarvoor gril kan jy maar ‘n eier gaan eet.

Die Suid-Afrikaanse besigheid Gourmet Grubb vervaardig roomys van ‘n produk wat hulle entomilk noem.  Mens kan entomilk by sekere spesialis gesondheidswinkels koop.  En soos jy al kan raai, word entomilk van insekte gemaak, en spesifiek van soldaatvlieg-maaiers.  Hierdie roomys is baie gewild, veral onder spoggerige restourante wat iets meer eksoties en volhoubaar vir hulle kliënte wil aanbied.

Dit is hoogs waarskynlik dat rooivleis, nes vis, binnekort nie meer vir die massas bekostigbaar sal wees nie.  Daar is egter terselfdertyd ‘n eksponensiële aanwas van mense wat moet eet en terselfdertyd net soveel organiese afval vervaardig.  Binnekort gaan entrepeneurs hierdie geleentheid raaksien en benewens heerlike roomys vir spog-restourante te maak, ook maaierworsies en patties sal maak.  Soja en pienk slym word reeds in verwerkte vleis vanaf boeliebief tot worsies gesit en net so min as wat mense hulle neus daarvoor optrek, so sal honger mense eendag hul neuse vir maaierproteïen in vleisprodukte optrek.  Daar is ‘n toneel in die fliek Bladerunner 2049 waar die proteïenboer in ‘n kweektonnel deur ‘n trog met afval (waarskynlik rioolafval) loop en ‘n handvol maaiers daaruit optel.  Jy kan jouself maar nou al daarvoor voorberei.


Ek verkies om ‘n ander dier tussen my en die maaier te sit en dus vervaardig ek maaiers vir my hoenders.  Met enige dier-boerdery is kos jou grootste onkoste.  My skoonpa het dekades gelede ‘n plaas gehad en hulle het onder andere eiers verkoop, tot my skoonma die boeke oorgeneem het en uitgewerk het dat hulle meer vir hoendervoer betaal as wat hulle geld uit die eiers maak.  Hulle het net daar en dan die projek gestaak.  Dieselfde probleem word deur elke ander voornemende boer in die gesig gestaar of jy met hoenders, vis of varke boer.  Nou het jy die geleentheid om vir ewig kos vir jou hoenders te skep en na jou oorspronklike uitleg, nie weer ‘n sent daarvoor te betaal nie.

Maar het die maaiers al die voedingstowwe wat my hoenders benodig?  Die antwoord is beslis ja.  Waar kom hierdie obsessie om heeltyd net mielies vir diere te wil voer in elk geval vandaan?  Weet jy dat daardie mielies waarskynlik met glifosaat (glyphosate) bespuit is? https://usrtk.org/pesticides/glyphosate-health-concerns/

Mielies kom oorspronklik van Meso-Amerika en hoenders kom oorspronklik van die woude van Pakistan.  Hoenders het dus vanaf hulle ontstaan tot so ‘n paar eeue gelede, toe mense die twee spesies by mekaar gebring het, nog nooit mielies geëet nie.  Die feit dat hoenders mielies eet is bloot ‘n aanduiding dat hulle as batteryhoenders geen ander keuse het nie,  In hierdie video kan jy sien hoe ‘n  ‘n boer slegs brommer-maaiers vir sy hoenders voer.  Of beter nog – hy gee sy vrylopende hoenders toegang tot ‘n mishoop waar hulle self die maaiers uitpik.


Begin jou eie soldaatvliegboerdery

Hou in gedagte dat jy regtig enige houers vir jou soldaatvlieë kan gebruik.  Daar is soldaatvliegfabrieke wat gaasslope van ongeveer 2 m lank en 1 m beed van die dak van die aanleg bo-oor die voedingsbakke laat afhang, dan is daar mense wat bloot soldaatvlieë uit die omgewing na kaste met verrottende organiese materiaal lok om daar hul eiers te lê.  Die vliegkas en maaierdrom wat ek hier uitbeeld is my eie ontwerp wat ek met julle deel en enigeen is welkom om dit te kopieër, daarop te verbeter, self te gebruik en te bou om aan ander mense te verkoop.

Een van die grootste probleme wat ek moes aanspreek is die beheer oor die  omgewingsfaktore wat soldaatvlieë nodig het om optimaal te funksioneer.  In soldaatfliekfabrieke word die temperatuur en humiditeit beheer.  Mense met maaierdromme en kaste in die agterjaart moet noodgedwonge seisoenaal met soldaatvliegmaaiers boer.  Die realiteit waarmee jy werk is dat soldaatvlieë tropies en semi-tropies is en koue winters met behulp van dormante papies oorleef.  Soldaatvlieë funksioneer optimaal tussen 25-40°C.

Ligte en hittelampe in die vliegkas en maaierdrom

Ek wil graag maaiers regdeur die jaar vir my hoenders voer en het dus ‘n hittelamp en ‘n lig in my vliegkas ingebou en ‘n halogeenlig in my maaierdrom ingebou sodat ek die temperatuur op ongeveer 30°C kan hou.  Ek het die vliegkas en maaierdrom in die winter in ‘n buitekamer gesit want die temperatuur was bedags ongeveer 20°C en snags net bo vriespunt.  Daar is termometers in die vliegkas en die maaierdrom sodat ek die temperatuur regdeur die dag kan monitor.  Ek het ‘n hittelamp in die maaierdrom uitgetoets maar omdat daar nie ventillasie is nie, het dit die temperatuur tot 50°C opgestoot en ‘n gewone gloeilamp (nie ‘n LED lig nie) het die temperatuur op 15°C gehou.  ‘n 42 Watt halogeenlig het die temperatuur binne die maaierdrom regdeur die dag en nag op ‘n gerieflike 30°C gehou.  Ek skakel die lig in die vliegkas in die dag aan en die hittelamp in die nag.  Op ‘n besondere koue dag kan mens beide die lig en die hittelamp aanhou.  Insekte kan nie rooi sien nie en dus sal die vlieë se dag-nag ritme nie deur die hittelamp gesteur word nie en hulle sal nie na die hittelamp aangelok word nie.  Die lig is daar om tydens die dag sonlig in die andersins donkerige buitegebou na te boots.  Insekte gebruik die helderste ligbron sigbaar om mee te navigeer – wat onder normale omstandighede die son, maan of ‘n helder ster is – en dus word hulle na kunsmatige ligte aangelok.  Die insek hou die helder lig in een van sy ocelli en aangesien natuurlike ligte miljoene kilometers weg is, vlieg die insek in ‘n reguit lyn terwyl dit in ‘n sirkel om ‘n ligbron na aan hom begin vlieg tot dit by die ligbron uitkom.  Ek gebruik dus ‘n buitelig met ‘n glaskoepel sodat die vlieë nie hulself op die gloeilamp doodbrand nie.  Die hittelamp en lig is natuurlik onnodig in die somermaande wanneer die vlieë en maaiers buite aangehou word.

Die vliegkas

My vliegkas is reghoekig en het gaas op drie kante en ‘n deur agter.  Die dak, vloer en deur is van hout.  Ek gebruik die hittelamp en gloeilamp net wanneer dit koud is.  In die warmer maande van die jaar is dit natuurlik onnodig en kan ek die kas en drom buite sit.   Dit is belangrik om nie die maaierdrom in direkte son te sit nie want die maaiers sal doodbak.

Die vliegkas word gebruik om die vlieë die geleentheid te gee om uit te broei, te paar en eiers te lê.  Sommige bronne beweer verkeerdelik dat soldaatvlieë nie eet nie omdat hulle nie monddele het nie.  Soldaatvlieë het monde met onderontwikkelde monddele.  Hulle kan vir ‘n paar dae sonder kos en water leef en op die vette in hul liggame wat hulle as maaiers opgebou het, oorleef.  Maar hulle kan vir 8-10 dae leef as jy hulle water gee en langer as twee maande as jy vir hulle suikerwater gee.

Die wyfies word deur verottende organiese afval aangelok om hul eiers daar te lê.  Hulle verkies ook klein gaatjies (van ‘n paar millimeter in deursneë) om hul eiers in te lê.  Vir hierdie doel plaas mens stukkies riffelkarton net bo die afval wat die wyfies dan as eierlêplek gebruik.  Mens oes dan die karton met die eiers net so in die maaierdrom gooi waar die maaiers self hul weg na die kos sal vind.

Die maaierdrom

Ek gebruik die maaierdrom nes ‘n asblik en ek het dus ‘n 70 liter asblik met ‘n vasknipbare deksel daarvoor gekry.  Maak net seker dat jy slegs organiese afval daarin gooi.  Moet egter nie blare en stokkies of hout daarin gooi nie – blare is egter heeltemal in orde vir jou erdwurms wat saam met swamme leef omdat swamme sellulose verteer.  Soldaatvlieg-maaiers kan egter nie sellulose verteer nie.

Ek vermoed dat soldaatvlieg-maaiers bakterieë, en die materiaal waarin dit voorkom en en afgebreek het vreet.  Dit sal hul voorliefde vir verottende organiese materiaal verduidelik.  Dit is ook die rede hoekom die maaierdrom nie met ventillasiegate soos die erdwurmplaas toegerus is nie, want terwyl swamme onder hoë suurstofvlakke gedy, sal bakterieë onder dieselfde omstandighede vrek.  Soldaatvlieë is ook aangepas om onder laer suurstofvlakke as baie ander inseklarwes te funksioneer.

Wanneer die maaiers volgroeid is klim hulle uit die kos.  Dit is hier waar mens hul gedrag gebruik om hulle te oes.  Ek het gate in ‘n swembadpyp geboor, die onderste helfte bo-op die kos geplaas en die ander punt by ‘n gat in die kant van die drom laat uitsteek.  Die maaiers wat in die pyp inval, beweeg dan binne die pyp op na die gat.  Jy kan ‘n leë melkbottel aan die pyp se punt vasmaak, of ‘n emmer of ‘n voedingsbak onder dit sit.  Sommige mense sit sommer die maaierhouer direk in die hoenderhok sodat die hoenders dadelik die maaiers kan oppik soos hulle uitval.

Hierdie maaiers is die sogenaamde voorpapies wat vir ‘n plek soek om te pupeer.  Hierdie lewensstadium voed nie en leef vir ongeveer ‘n week so voordat hulle papies vorm.  Dit bedoel ook dat hulle vir ‘n week lank as voorpapies kan leef, en as jy die papie bytel, twee weke, waartydens hulle gestoor kan word voor jy dit vir diere voer.

Oes ‘n handvol voorpapies om die teelproses voort te sit.  Plaas hulle in ‘n bakkie wat halfvol potgrond is.  Die voorpapies boor onmiddelik in die los grond in om daar te pupeer.  Sorg dat die grond klam bly deur om dit elke dag of twee nat te sproei maar waak daarteen om dit te nat te maak.  Plaas hierdie houer in die vlieghok sodat die vlieë daar kan uitbroei.  Plaas ‘n houer (ek gebruik ‘n ou 2 liter roomyshouer hiervoor) half-vol verottende afval met die kartonblokkies bo-op in die vliegkas sodra die vlieë begin ontpop.  Sit ‘n houer met suikerwater vir die vlieë om te drink ook in die vliegkas.

Wanneer jou vliegkas en maaierdrom reg is moet jy nou sekerlik soldaatvlieë of -maaiers in die hande kry.  Noudat jy weet hoe hulle lyk en waar om hulle te soek, kan jy vir soldaatvlieë in jou omgewing gaan soek.  Onthou egter dat dit bykans onmoontlik gaan wees om vlieë in die wintermaande op te spoor en hulle kom baie meer algemeen in warmer as in kouer gebiede voor.  Jy kan ook kroek deur sommer ‘n houervol soldaatvlieg-maaiers by Jozibugs https://jozibugs.co.za/ te koop om jou boerdery te begin. Ek is seker daar is ook ander verskaffers maar hierdie maatskappy lewer regoor Suid-Afrika af .  Hulle verkoop ook die komposwurms waarna ek in by artikel oor wurmboerdery verwys.

Verwysings:

Van Schoor (2017). The assessment of black soldier fly (Hermetia illucens) pre-pupae, grown on human faecal waste, as a protein source in broiler and layer diets. Tesis, Universiteit van Stellenbosch.

Driemeyer, H. (2016). Evaluation of black soldier fly (Hermetia illucens) larvae as an alternative protein source in pig creep diets in relation to production, blood and manure microbiology parameters. Verhandeling, Universiteit van Stellenbosch.

Jansen, Z. (2018). The nutritional potential of black soldier fly (Hermetia illucens) larvae for layer hens. Tesis, Universiteit van Stellenbosch.

 

 

error: Content is protected !!