Chromista: Filum Pseudofungi: Waterskimmels (Oomycetes) & Hyphochytridiomycetes
deur François Durand
Waterskimmels (Oomycetes) en die 16 bekende spesies van die Hyphochytridiomycetes, is eukariotiese nie-fotosintetiserende organismes wat soöspore vervaardig wat twee verskillende tipes flagellas besit.
Waterskimmels is swamagtige filamentvormende organismes wat vir lank as lede van die Koninkryk Fungi beskou was. Hulle was egter uit die Koninkryk Fungi verwyder omdat hulle verskeie kenmerke het wat hulle van die ware swamme onderskei. Weens sekere morfologiese kenmerke en unieke lewenswyse was hulle toe as Chromista geklassifiseer.
Daar was egter ook al vir lank die vermoede dat Waterskimmels eintlik van ‘n fotosinterende organisme soos ‘n bruinwier of diatoom
gestam het omdat hulle selwande sellulose bevat soos wat mens in plante kry, eerder as chitien soos wat mens in swamme se selwande vind. Die hifes en spore van die waterskimmel het diploïede kerne soos wat plante het, terwyl dié van swamme haploïed is. Maar die deurslaggewende kenmerk, wat hul doppie as Fungi geklink het, was dat meeste van die waterskimmel soöspore twee flagellas het wat verskillend lyk – die een lyk soos ‘n swepie terwyl die ander soos ‘n harige borseltjie lyk wat ‘n kenmerk is wat uniek aan die bruinwiere is. Die vermoede is dat ‘n bruinwier in die oertyd sy plastiede (wat vir fotosintese verantwoordelik is) verloor het en dat hierdie mutasie oorsprong aan die eerste Waterskimmel gegee het. Die Oomycetes word deesdae onder die onder die Koninkryk Chromista ingedeel wat onder andere ook bruinwiere, dinoflagellate en die malariaparasiet Plasmodium insluit.
Waterskimmels benodig klam omstandighede om te bestaan. Sommige waterskimmels kom as enkel selle voor maar ander vorm ongesepteerde hifes. Hulle pant geslagtelik en ongeslagtelik (vegetatief) voort. Geslagtelike voortplanting vind plaas wannner hifes met ‘n manlike antheridium en ‘n groot vroulike oögonium (waaruit die naam van die groep afgelei is) met mekaar versmelt om ‘n oöspoor te vorm. Ongeslagtelike voortplanting vind plaas deur die vorming van chlamydospore en sporangiums wat soöspore vorm.
Waterskimmels is saprofiete wat op dooie plantmateriaal voed of patogene wat op lewende organismes voed. Verskeie waterskimmelspesies parasiteer op alge en visse terwyl Pythium insidiosum veroorsaak die vleisvretende tropiese velsiekte pythiosis in soogdiere wanneer hulle met besmette water in aanraking kom. Een van die patogene wat landplante aanval is Phytophthora infestans wat aartappelroes veroorsaak en vir die Ierse Hongersnood van 1845-1849 verantwoordelik was. Daar is selfs een waterskimmel, Pythium oligandrum, wat ander swamme aanval en wat vir die biologiese beheer van plantpatogeniese swamme gebruik word.
