Chromista: Bruinwiere
- deur François Durand
Die klassifikasie van Chomista word heeltyd hersien en verfyn soos wat nuwe genetiese inligting bekend word. Volgens een van die nuutste klassifikasies val die bruinwiere onder die Filum Ochrophyta. Die Filum Ochrophyta vorm saam met die Filums Bigyra en Pseudofungi die Superfilum Heterokonta (Ruggiero et al., 2015)
Die ongeveer 1800 spesies bruinwiere kom meestal in mariene omgewings voor waar hulle ‘n belangrike voedselbron vir verskeie organismes is en waar hulle ‘n woonplek vir kleiner organismes vorm. Kelp, een van die bekendste bruinwiere word ook deur mense benut.
Bruinwiere kom in ‘n verskeidenheid groottes en vorme voor. Die kleinstes vorm drywende bondeltjies draadagtige stringe wat uit langwerpige selle bestaan. In sommige spesies kom daar mikroskopiese lewenstadia voor wat maar uit ‘n paar selle bestaan. Ander bruinwier-spesies word heelwat groter. Kelp kan wissel in grootte vanaf die 60 cm lange seepalm Postelsia tot die reuse kelp Macrocystis pyrifera wat tot oor die 60 m lank kan word.
Die tallusse van bruinwiere wissel ook baie in vorm. Daar is byvoorbeeld sommige wat soos
klein kussingtjies op rosse voorkom tot blaaragtige drywende matte, ander bestaan uit fyn seldrade, terwyl nog ander uit waaiervormige plat verlengde blaaie of lamina bestaan. Kelp bestaan uit langwerpige afgeplatte vertakkende blaaie wat tientalle meter lank kan word. Sommige bruinwiere het talle gasgevulde lugblase of pneumatosiste wat die tallus regop in die water laat dryf.
Alhoewel bruinwiere nie plante is nie, het hulle ‘n paar analoë kenmerke in gemeen met plante wat hulle deur konvergerende evolusie ontwikkel het. Aangesien bruinwiere se tallusse uit ongedifferensieërde parenchiemagtige selle bestaan en nie verskillende weefseltipes en organe soos dié van plante besit nie, kan dieselfde benamings vir soortgelyke strukture nie gebruik word nie. In sekere groepe bruinwiere word die tallus met ‘n hegstuk, wat uit wortelagtige risoïede bestaan, in die seevloer of op rotse vasgeanker, maar anders as in plantwortels, word water en minerale nie daardeur opgeneem nie. In kelp word die tallus in drie dele verdeel – die risoïede wat die tallus vasanker en die stamagtige stipe waaraan die blaaragtige blaaie of lamina vasgeheg is.
Op sellulêre vlak is daar ook ooreenkomste tussen bruinwiere en plante en dit is dus nie snaaks dat sommige bioloë selfs vandag, die morfologiese en genetiese inligting ten spyt, steeds bruinwiere as plante beskou nie. Bruinwiere het sellulose in hul selwande, wat reeds vir meer as ‘n honderd jaar as een van die kenmerkene eienskappe van plante beskou word. Daar is ook vakuole in bruinwiere se selle, nes dié van plantselle en om als te kroon het hulle ook plastiede wat vir fotosintese verantwoordelik is – nes dié in plante.
Dit is egter juis hier waar die bruinwiere (soos die res van die Chromista) van plante verskil. Die plastiede wat bruinwiere besit bevat nie chlorofil b soos plantselle nie, maar benewens chlorofil a (wat plante ook het), bevat bruinwierselle ook chlorofil c. Dit blyk dat chlorofil c vanuit rooiwiere se fotosintetiserende pigmente ontstaan het wat opsigself ‘n baie interessante verskynsel is, want rooiwiere word as lede van die Protista beskou en vorm nie deel van die Koninkryke Plantae of Chromista nie.
Die plastiede in bruinwiere is net soos die res van die Chromista s’n deur vier membrane, wat in chemiese samestelling verskil, omring. Lees Chromista 1: Inleiding om uit te vind hoe hierdie vier membrane ontstaan het. In kort: die plastiede in Chromista is afkomstig deur die ingestie van rooiwiere deur die Chromista se voorouer tydens voeding. Die rooiwier het in plaas van om deur die verteringsensieme van die Chromista voorouer verteer te word, endosimbioties in die gasheer-sel bly voortbestaan. Die gasheer trek uiteraard voordeel uit hierdie simbiotiese samesyn deurdat dit voedingstowwe, wat deur die plastied deur middel van fotosintese, ontvang.
Die tweede groot verskil tussen bruinwiere en plante kom in hul voortplantingwyses voor. Bruinwiere het, net soos plante, ‘n ongeslagtelike diploïede sporofiet generasie wat deur ‘n geslagtelike haploïede gametofiet generasie afgewissel word. Die manlike gametofiet vervaardig sperms en die vroulike gametofiet vervaardig eiers. In sommige bruinwiere vind bevrugting buite die tallus in die water plaas terwyl in ander bevrugting in oögoniums op die blad van die tallus plaasvind. Na bevrugting plaasgevind het, kom die sigoot tot rus op ‘n oppervlakte en begin dan in ‘n nuwe blaaragtige tallus ontwikkel.
Sekere bruinwierspesies plant ook ongeslagtelik deur middel van motiele soöspore voort wat in ‘n plurilokulêre sporangium op ‘n sporofiet gevorm word. Die soöspoor ontwikkel direk in ‘n nuwe sporofiet. Dit is dan ook die unieke bou van hierdie soöspore wat die bruinwiere se verwantskap met ‘n diverse groep organismes vanaf bruinwiere, tot dinoflagellate tot waterskimmels bevestig.
Die soöspoor het twee tipes flagella – vandaar die naam Heterokonta. Die een flagellum is sweepagtig terwyl die ander in meestal soos ‘n borseltjie lyk of op ander maniere van die eerste verskil. Eensellige heterokonta soos Ochramonas lyk baie soos die soöspore van bruinwiere (sien Chromista 3: Waterskimmels vir ‘n voorbeeld van ‘n soöspoor). ‘n Interessante verskynsel is dat brakwater-lewende bruinwiere hoofsaaklik ongeslagtelik deur middel van soöspore voortplant.
Bruinwiere word in drie groepe volgens hul voortplantingmetodes verdeel:
- Isogeneratae se sporofiet en gametofiet generasies is identies en kan net van mekaar op grond van hulle selkerne onderskei word.
- Heterogeneratae se sporofiete is baie groter as die gametofiete en bevat eensellige en meersellige sporangia.
- Cyclosporae, het geen gametofietgenerasie nie maar slegs sporofiete wat gamete vorm wat in die water vrygestel word.
Die ander waarop die bruinwiere van plante verskil is dat die selwande van bruinwiere benewens sellulose, ook algien en fukodien bevat. Meeste bruinwiere bevat die pigment fukoxantien wat hulle hul kenmerkende groenbruin kleur gee. Die soutkonsentrasie van die seewater kan veroorsaak dat die wiere van rooi tot verskillende kleure van bruin kan wissel. Tydens fotosintese vorm die bruinwier nie glukose soos plante nie maar mannitol (suikeralkohol), lamarien en koolhidrate.
Anders as in plante en die res van die Chromista, is bruinwiere altyd meersellig en alhoewel daar buiten vir die voortplantingstukture nie gespesialiseerde weefselstrukture soos vate nie in bruinwiere voorkom nie, is daar tog ‘n verskil in die rangskikking van die parenchiemselle aan die kant en in middel van die stipes van sekere bruinwiere.
Bruinwiere speel ‘n baie belangrike rol in die ekologie en kom in ‘n wye verskeidenheid mariene nisse voor – vanaf getypoele, die intergetysone en diep kuswaters. Sekere bruinwiere kom vanaf die trope tot kouer water voor – trouens hulle is meer volop en divers in kouer water. Bruinwiere vorm ‘n belangrike deel van brakwater ekosisteme en kom selfs in varswater voor. Kelpwoude wemel van ander organismes wat daar leef en voed. Sargassum speel ‘n soortgelyke rol in die tropiese Sargasso See waar dit drywende wiermatte vorm en talle organismes dit as ‘n blyplek gebruik.
Bruinwiere word deur talle mense wêrelwyd gebruik. Verskeie spesies is eetbaar en is hoog in Vitamiene A, B en C en word veral in Amerika en Asië as kos gebruik. Bruinwiere beval alginaat wat onder andere as kosverdikker, insluitend roomys, gebruik word. Algineensuur wat in bruinwiere voorkom word ook in akwakultuur gebruik waar dit gebruik word om jong visse se immuunstelsel te ondersteun. Bruinwiere het ook hoë vlakke van die elemente jodium en kalium en word op plekke as bemesting gebruik. Algineensuur word ook in vervaardiging van batterye gebruik. Die algien en fukoïdien in bruinwiere word in die tekstiel- en kosmetiekbedryf (onder andere in die vervaardiging van lipstif) gebruik.
Verwysing:
Ruggiero, M.A.; Gordon, D.P.; Orrell, T.M.; Bailly, N.; Bourgoin, T.; Brusca, R.C.; Cavalier-Smith, T.; Guiry, M. D. & Kirk, P. M. (2015). A higher level classification of all living organisms. PLoS ONE 10(4): e0119248.
Lees meer oor bruinwiere in Afrikaans:
https://af.wikipedia.org/wiki/Bruinwier
Bruinwiere. Wêreldspektrum, Vol 4, pp.63-65.
WOORDELYS
Alg – sien wier.
Akwakultuur (aquaculture) is ‘n tipe bedryf waar daar met varswater of mariene visse, krustaseë, weekdiere, plante, wiere en ander organismes geboer word.
Algineensuur of algien (alginic acid, algin) is ‘n polisakkaried wat in die selwande van bruinwiere voorkom. Dit is hidrofilies en vorm ‘n dik gom wanneer dit gehidreer is. Wanneer dit met natrium of kalsium verbind vorm dit soute wat as alginate bekend staan.
Blad of lamina (blade, lamina) is die dun plat deel van ‘n seewier se tallus wat verantwoordelik is vir meeste van die fotosintese. Dit is gewoonlik aan die stipe vasgeheg.
Brakwater (brackish water) is water wat ‘n hoër soutgehalte as varswater het, maar minder as seewater. Dit vorm dikwels wanneer seewater met varswater in riviermondings of strandmere meng.
Chlorofil a (chlorophyll a) is die fotosintetiserende pigment wat in die chloroplaste van meeste plante, chromiste en sianobakterieë voorkom. Volgens die endosimbiont-teorie het sianobakterieë, wat deur die voorsaat van eensellige plante geïngesteer is, oorsprong aan chloroplaste gegee. Chlorofil a absorbeer meeste energie van die pers-blou en oranje-rooi deel van die ligspektrum. Dit weerkaats groen-geel lig wat veroorsaak dat plante groen is.
Chlorofil b (chlorophyll b) is ‘n fotosintetiserende pigment wat saam met chlorofil a in die chloroplaste van groen plante voorkom. Chlorofil b absorbeer hoofsaaklik blou lig. Daar is ‘n groter persentasie van chlorofil b as chlorofil a in die chloroplaste van plante wat aangepas is om in die skadu te groei.
Chlorofil c (chlorophyll c) is die groen-blou fotosintetiserende pigment wat saam met chlorofil a net in die plastiede van fotosinterende Chromista (bv. bruinwiere, diatome en dinoflagellate) voorkom. Alle bewyse dui aan dat dit vanuit die rooiwier pigment ontstaan het.
Chlorofil d (chlorophyll d) is die fotosintetiserende pigment wat in sianobakterieë voorkom. Rooiwiere se chloroplaste bevat chlorofil a en d. Chlorofil d absorbeer lig in die diep rooi deel van die spektrum, net buite menslike sig. Dit laat sianobakterieë toe om in redelike diep water, waar daar nie baie lig deurdring nie, te kan fotosintetiseer.
Chomista of die bruinwiere was oorspronklik as deel van die plante (Koninkryk Plantae) geklassifiseer maar nou word dit as ‘n aparte Koninkryk beskou. Die Chromista word in die Subkoninkryke Hacrobia en Harosa verdeel. Die Harosa word in die Infrakoninkryke Halvaria en Rhizaria verdeel. Die Superfilums Alveolata en Heterokonta verdeel. Die Heterokonta word in die Bigyra en Ochrophyta en Pseudofungi (Oomycota) verdeel. Die Chromista word gekenmerk deur die feit dat hulle plastiede bevat wat deur vier membrane omhul is. Hierdie plastiede is soortgelyk aan dié wat in rooiwiere voorkom. Alles dui daarop dat die Chromista se plastiede verkry is deur die insluiting van enkelsellige rooiwiere binne die sel net soos wat sianobakterieë deur die plantvoorouers binne hul selle opgeneem is. Chromista bestaan uit eensellige tot reuse meersellige organismes wat plastiede met chlorofil c besit en gewoonlik twee flagella besit wat in vorm en lengte van mekaar verskil.
Dinoflagellate (dinoflagellates) behoort aan die Filum Dinoflagellata van die Infrakoninkryk Alveolata wat deel van die Koninkryk Chromista vorm. Dinoflagellate vorm deel van die mariene plankton maar kom ook algemeen in brak- en varswater voor. Hulle verspreiding en getalle hang van die seeoppervlak-temperatuur, soutgehalte en diepte van die water af. Dinoflagellate besit plastiede en fotosintetiseer dus, maar meeste is miksotropies want hulle verkry voeding van fotosintese en die ingestie van prooi deur middel van fagotropie en musokitose. Dinoflagellate is een van die grootste groepe mariene eukariote. Sommige spesies kom as endosimbionte binne die weefsel mariene blompoliepe (Filum Cnidaria: Klas Anthozoa) voor en speel ‘n belangrike rol in koraalbou. Sekere dinoflagellate, veral dié wat hul plastiede verloor het (dit staan ook as ongepigmenteerde dinoflagellate bekend) en dus nie kan fotosintetiseer nie, is predatore van protiste terwyl ander parasiete geword het. Dinoflagellate besit twee flagella wat van mekaar in vorm en grootte verskil. Sekere dinoflagellate kan in groot massas in die see voorkom wat die see rooi verkleur wat as rooigety bekend staan. Hierdie tipe dinoflagellaat kan diere soos mossels en ander skulpdiere vergif en so mense laat sterf as hulle die vergiftigte skulpdiere eet. Sekere dinoflagellate vervaardig lusiferien wat blou-groen gloei as dit met suurstof verbind en onder sekere omstandighede die see in die nag laat gloei – die verskynsel word bioluminisensie genoem.
Diploïed (diploid) verwys na die chromosoomgetal wat gewoonlik in protiste, bruinwiere, plante en diere voorkom waar die individu diploïede selle besit. Met ander woorde elke kern bevat twee stelle chromosome – een stel chromosome wat dit van elke ouer verwerf het. Die diploïede toestand word deur middel van meiose gehalveer om die haploïede sperm en eierselle te vorm en in die geval van swamme die kerne wat normaalweg in hifes voorkom. Wanneer die haploïede sperm en eiersel versmelt word die diploïede sigoot (bevrugte eier) gevorm wat dan in ‘n diploïede individu ontwikkel. Daar is egter ‘n hele reeks ploïedieë soos monoploïed, triploploïed, tetraploïed, mixoploïed ens. Haploïed en diploïed is bloot die mees algemene toestande bekend.
Endosimbiose (endosymbiosis) verwys na die insluiting van ‘n kleiner organisme in ‘n groter een. Prokariote soos pers bakterieë, spirokeet bakterieë en sianobakterieë het deur endosimbiose oorsprong binne die gasheersel aan onderskeidelik mitochondria en flagella, en in plante en chromiste, ook chloroplaste gegee. Hierdie selle met die endosimbiotiese mikroorganismes het uiteindelik die voorsate van eukariotiese organismes (swamme, chromiste, plante en diere) geword. Sekere rooiwier en dinoflagellate was ook op soortgelyke wyse deur groter organismes geïngesteer en het onderskeidelik sekondêre en tersiêre endosimbionte geword.
Eukariote (eukaryotes) is organismes wat aan die Divisie Eukarya hoort. Eukariotiese organismes se selle bevat ‘n kern wat met ‘n kernmembraan omhul is en dubbelmembraan organelle. Eukariotiese organismes kan eensellig soos protiste of sekere lede van die bruinwiere en groenwiere wees of meersellig soos plante, diere en fungi wees.
Fagotropie (phagotropy) voedingswyse waar die sel se membraan die kospartikel of kleiner organisme met behulp van fagositose verswelg en in ‘n fagositiese vakuool omsluit wat dan deur middel van ensieme verteer word. Dit kom algemeen in protiste en eensellige chromiste voor.
Flagellum is ‘n lang sweepagtige struktuur wat sperms en eensellige organismes laat voortbeweeg. Dit bestaan uit ‘n bundel mikrotubuli (gewoonlik 9 pare in ‘n sirkel gerangskik met een paar in die middel) wat deur die selmembraan omsluit is.
Fotosintese (photosynthesis) is die proses waardeur plante, sianobakterieë, rooi- en bruinwiere, ligenergie gebruik om koolsuurgas en water in suiker te omskep met suurstof as neweproduk. Hierdie proses omskep ligenergie in chemiese energie. Fotosintese is sekerlik, naas die ontstaan van lewe, die belangrikste biologiese proses wat ooit op aarde ontstaan het. Plante en ander fotosintetiserende organismes word as primêre produseerders beskou en verskaf voedsel aan ‘n groot deel van die voedselweb asook die suurstof in die atmosfeer as neweproduk.
Fukoxanthien (fucoxanthin) is ‘n xanthofiel met die formule C42H58O6. Dit is ‘n bykomstige pigment wat in die chloroplaste van Heterokonta soos bruinwiere voorkom, wat dit ‘n bruin tot olyfgroen kleur gee. Fukoxanthien absorbeer lig hoofsaaklik in die blou-groen tot geel-groen deel van die sigbare spektrum.
Fukoïdien (fucoidan) is ‘n gesulfineerde polisakkaried wat in talle spesies bruinwier voorkom.
Gametofiet (gametophyte) is die stadium in die lewensiklus van meersellige organismes wat met die sporofietgenerasie afwissel. Die gametofiet is ‘n haploïede meersellige organisme wat uit ‘n haploïede spoor ontwikkel. Die gametofiet is die geslagtelike deel van die lewensiklus van organismes en bevat manlike en vroulike geslagsorgane wat sperms en ova vorm.
Groenwiere (green algae) is die primitiefste lede van die Koninkryk Plantae of te wel die groen plante. Groenwiere is see- en varswaterlewend en kan as enkel selle tot groot meersellige organismes voorkom. Hulle word as die voorsate van landplante beskou. Die voorsate van groenwiere het sianobakterieë in hul selle opgeneem waar dit in chloroplaste a en b omskep is.
Haploïed (haploid) verwys na die toestand waar ‘n kern, ‘n sel of ‘n organisme die helfte van die getal chromosome wat normaalweg in die organisme mag voorkom besit. Gewoonlik (in protiste, bruinwiere, plante en diere) besit die individu diploïede selle, met ander woorde een stel chromosome wat dit van elke ouer verwerf het. Die diploïede toestand word deur middel van meiose gehalveer om haploïede sperm en eierselle te vorm. Wanneer die haploïede sperm en eiersel versmelt word die diploïede sigoot (bevrugte eier) gevorm wat dan in ‘n diploïede individu ontwikkel. Daar is egter ‘n hele reeks poïedieë soos monoploïed, triploploïed, tetraploïed, miksoploïed ens. Haploïed en diploïed is bloot die mees algemene toestande.
Heterokonta of Stamenopiles is ‘n Infrakoninkryk wat onder die Koninkryk Chromista resorteer. Die naam is van die twee verskillende flagella wat hulle selle besit afgelei. Die reuse bruinwiere, diatome, aartappelroes en waterskimmel is lede van die Heterokonta.
Kelp is bruin tot goud-groen bruinwiere wat in die see en varswater voorkom. Ondanks die oppervlakkige ooreenkomste met plante, is kelpe nie plante nie. Die tallusse van sekere kelpe kan tientalle meter lank word en in ondersese woude groei waar hulle ‘n tuiste vir duisende spesies skep wat tussen hulle bly en voed. Kelp word ook deur mense as kos, as ‘n bron vir chemikalieë en selfs as bemesting gebruik.
Koolhidrate (carbohydrates) is organiese molekules wat uit koolstof, waterstof en suurstof bestaan met die algemene formule (CO2O)n en kom algemeen in organismes voor. Die eenvoudigste koolhidrate is suikers wat uit vyf of ses koolstofatome bevat. Stysels word uit verbindings van suikers gevorm, oligosakkariede word uit styselverbindings gevorm, oligosakkariedverbindings vorm sellulose, selluloseverbindings vorm lignien. Suikers, stysels, oligosakkariede, polisakkariede, sellulose en lignien is dus almal koolhidrate.
Lugblase (pneumatosists) is luggevulde bolvormige strukture van verskillende groottes wat in verskillende spesies bruinwiere voorkom. In sekere groepe soos kelp kom ‘n groot lugblaas aan die onderkant van die blad voor terwyl in ander bruinwiere daar talle kleiner blasies verspreid oor die blad voorkom. Die lugblasies laat die blaaie boontoe gerig bly sodat hulle meer lig kan absorbeer vir fotosintese.
Marien (marine) verwys na die oseane en seë waar die water ‘n hoë soutgehalte het.
Musokitose (myzocytosis) (van die Grieks: μυζεῖν (“muzien”) wat suig beteken en κύτος (“kitos”) wat houer, verwysende na ‘n sel, beteken) is ‘n voedingswyse wat in die Alveolata soos Apicomplexa en Dinoflagellata voorkom. Hierdie organismes is predatore wat die selwand en/of membraan van ‘n prooisel met hulle voedingsbuis, die konoïed, penetreer en dan die selinhoud van hulle prooi daardeur uitsuig. Hierdie voedingswyse word ook “sellulere vampirisme” genoem. (Hier het ek weer my beginsel gebruik om nie die Engelse se onvermoë om C as K uit te spreek, slaafs na te volg nie. C bestaan nie in Grieks nie en C word as K in Latyn uitgespreek. Wat die Engelse met C doen is hulle saak en hoef nie op die res van die wêreld afgedwing te word nie. Dieselfde geld vir die Engelse gebruik van die letter Y wat hulle inprop sodra hulle nie weet wat om met ‘n vokaal te doen nie. U was nog nooit Y nie).
Motiel (motile) bedoel beweeglik of selfaangedrewe. Dit word gewoonlik deur middel van ‘n flagellum of flagellums op die eensellige organisme bewerkstellig.
Ochrophyta is ‘n Filum wat onder die Chromista resorteer. Die taksonomie van hierdie groep word nog hersien en dit is moontlik dat dit mettertyd weer herklassifieseer sal word. Die Ochrophyta bestaan uit 20 klasse seewiere wat chlorofil c in hul chloroplaste het. Die 1800 spesies bruinwiere vorm die Klas Phaeophyceae. Die meeste van die oorblywende Ochrophyta word in die Klasse Dictyotales, Ectocarpales, Fucales en Laminariales verdeel.
Oseaanwentelstroom (ocean gyre) is ‘n sisteem van water wat kloksgewys of anti-kloksgewys stroom dit word hoofsaaklik deur sterk winde gevorm.
Parenchiem (parenchyma) is die weefsel wat uit losgerankskikte selle bestaan wat die sagter dele van strukture in plante en bruinwiere opmaak.
Plante (plants) hoort aan die Koninkryk Plantae wat enkel of meersellige eukariotiese en fotosintetiese organismes insluit. Plante sluit die groenwiere, seegras, lewermosse, wolfskloue, mosse, varings, keëlplante en blomplante in. Rooi- en bruinwiere word nie meer as plante beskou nie. Buiten vir parasitiese spesies verkry die oorgrote plante hul energie en vervaardig suiker deur fotosintese met behulp van chloroplaste a en b. Chloroplaste het vanuit sianobakterieë ontstaan wat deur die eensellige voorouers van plante geïngesteer is. Plante se selwande bevat sellulose. Plante word gekenmerk aan die feit dat hulle geslagtelik voortplant met ‘n afwisseling van ‘n sporofiet en gametofiet generasies. Sommige plante kan ook vegetatief voortplant. Plante speel as primêre produsente ‘n allerbelangrike rol in die ekologie.
Plastied (plastids) is dubbelmembraan organelle wat in die selle van eukariotiese organismes soos plante, rooi- en bruinwiere en sekere protiste voorkom. Hulle het vanuit die sianobakterieë ontstaan (sien chloroplast).
Pseudofungi – sien waterskimmels.
Plurilokulêre sporangiums (plurilocular sporangia) kom op bruinwiere se blaaie voor. Hierdie sferiese sporangiums vorm elk 5-12 diploïede soöspore deur mitose terwyl die unilokulêre sporangiums van bruinwiere slegs een vergrote sel vervaardig wat talle haploïede soöspore deur meiose vorm.
Risoïede (rhizoids) is die uitsteeksels wat onderaan die tallus van bruinwier vorm om die tallus op die seevloer of rotse vas te anker. Die risoïede van bruinwiere neem geen voedingstowwe of water op soos wat plantwortels doen nie. Sekere swamme en ligene vorm soortgelyke strukture uit hifes om hulle aan die substraat te anker.
Rooiwiere (red algae) behoort aan die Filum Rhodophyta is een van die oudste groepe eukariotiese wiere. Daar is reeds meer as 7 000 rooiwierspesies bekend wat dit een van die grootste wierfilums maak. Die meerderheid rooiwiere is meersellig en kom in die see voor terwyl die oorblywende 5% varswaterlewend is. Anders as in die bruinwiere kom daar ‘n groter verskeidenheid rooiwiere in warmer water voor. Rooiwiere is uniek omdat hulle selle nie soos dié van ander eukariote flagella of sentriole bevat nie. Hulle chloroplaste is nie deur die endoplasmiese retikulum omhul nie en die thylakoïede is nie opmekaar gestapel nie. Daar is fikobileen en rooi karoteen in die selle wat rooiwiere hul kenmerkende rooi tot pers kleur gee. Hulle chloroplaste bevat groen chlorofil a en chlorofil d wat saam met die fikobileen en rooi karoteen, hulle in staat stel om die lig van ‘n groter deel van die spektrum, insluitende blou lig te kan absorbeer. Dit stel hulle ook in staat om onder baie lae ligintensiteit nog steeds te kan fotosintetiseer. Dit verklaar hoekom rooiwiere dieper as ander wiere in die see – tot dieptes van 75 m – kan voorkom. Meeste rooiwiere is meersellig en plant geslagtelik en ongeslagtelik voort. Anders as meeste ander organismes is daar ‘n afwisseling van drie generasies in plaas van twee. Rooiwiere vorm diploïede karposporofiete wat deur mitotiese delings diploïede karpospore vorm, wat oorsprong aan diploïede tetrasporofiete gee, wat deur meiose haploïede tetraspore vorm, wat dan oorsprong aan haploïede gametofiete gee, wat deur mitose haploïede gamete vorm, wat na bevrugting weer aan karposporofiete oorsprong gee.
Sargasso See (Sargasso Sea) is ‘n gebied in die Atlantiese Oseaan wat deur vier seestrome omring is en dus ‘n oseaanwentelstroom vorm. Die Sargasso See is uniek omdat dit deur die oseaan omring word en nie soos ander seë wat deur landmassas omring word. Die meestal kalm blou water en die Sargassum seewier onderskei die Sargasso See van die res van die Atlantiese Oseaan.
Sellulose (cellulose) bestaan uit honderde tot duisende koolhidraatmolekules wat in plante se selwande voorkom. Diere kan nie sellulose verteer nie terwyl sekere bakterieë en veral swamme sellulose wel kan verteer.
Sianobakterieë (cyanobacteria) of blougroen bakterieë is fotosintetiserende bakterieë wat saam met plastiede aan die Filum Cyanophyta hoort. Sianobakterieë kom as vrylewende organismes in die see, vars water en nat grond voor. Sommige kom in ligene as simbionte saam met swamme voor.
Sigoot (zygote) is die eerste sel wat gevorm word wanneer twee haploïede selle versmelt. Die sigoot kan in swamme enkisteer onder slegte toestande (hitte, koue, droogte) deur om ‘n harde doppie rondom te vorm.
Simbiose (symbiosis) verwys na enige nabye en langtermyn interaksie tussen twee verskillende organismes. Dit sluit mutualistiese, kommenialistiese of parasitiese verhoudings in. Die organismes of simbionte in hierdie verhouding kan aan dieselfde of verskillende spesies hoort.
Soöspore (zoospores) is ongeslagtelike spore wat in sommige fungi, wiere, protiste en bakterieë voorkom wat hulself deur middel van een of meer flagellas versprei. Die flagella word gebruik om deur water te swem.
Sporofiet (sporophyte) is die diploïede meersellige stadium in die lewensiklus van ‘n organisme. Nadat ‘n haploïede sperm en eier versmelt en ‘n diploïede sigoot vorm ontwikkel die sigoot om die sporofiet te vorm. Die sporofiet vorm haploïede spore deur meiose. Spore ontkiem om weer oorsprong aan gametofiete te gee.
Stipe is die stingel- tot stamagtige ondersteuningstruktuur van die wiertallus.
Tallus (thallus) is ‘n woord wat algemeen gebruik word om die liggaam van swamme en ligene en primitiewe plante soos wiere en lewermosse te beskryf. Benewens voortplantingsorgane kom daar nie gespesialiseerde organe soos takke, wortels, stingels en vaatbundels in die tallus voor nie.
Varswater (fresh water) is enige natuurlike waterbron wat nie sout of brak is nie. Vars water kom in die yskappe, ysplate, gletsers, ysberge, moerasse, poele, mere, riviere, strome en grondwater voor.
Waterskimmels (water mould) is lede van die Pseudofungi of Oomycetes. Hulle is swamagtige, filamentvormende protiste. Waterskimmels was oorspronklik as swamme geklassifiseer, maar deesdae behoort hulle aan die Filum Heterokontophyta van die Konkinkryk Chromista. Hulle besit soöspore met twee verskillende flagellas – die een is sweepagtig en die ander lyk soos ‘n lang bottelskoonmaker wat kenmerkend van die Chromista is.
Wiere (algae) verwys na eenvoudige organismes wat of aan die Koninkryk Plantae (plante), of die Konkinkryk Chromista (bruinwiere en verwante), of die rooiwiere wat aan die Koninkryk Protista hoort, verwys. Hierdie groepe is egter glad nie aan mekaar verwant nie en die woord wier verwys eerder na ‘n tipe liggaamsvorm wat uit ‘n meersellige tallus bestaan. Die tallus besit, benewens voortplantingstrukture, geen gespesialiseerde weefsel soos vaatweefsel nie en bestaan hoofsaaklik uit parenchiemagtige selle. Die tallus besit ook nie ware blare, stingels of wortels nie. Meeste alge besit ‘n verskeidenheid van chlorofil in hulle chloroplaste alhoewel daar is sommiges soos waterskimmels wat hul plastiede verloor het.
