‘n Goggahotel vir jou tuin

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

‘n Goggahotel vir jou tuin

May 26, 2020 goggahotel 0

deur François Durand

Jy sal jouself dalk die vraag vra:  “Hoekom op aarde sal ek goggas in my tuin wil hê?” Of dalk is jy een van daardie mense wat sê: “Ek haat goggas, ek wil juis van hulle ontslae raak!”

Nou hier is die ding – sonder goggas sal ons nie kan bestaan nie.

Insekte is deel van die Filum Arthropoda, of soos ons dit in algemene taal ken, die geleedpotiges.  Daar is meer insekspesies bekend as al die plant en dier en swamspesies saam en dan bereken entomoloë dat die meer as ‘n miljoen bekende spesies maar dalk so min as 10% van bestaande insekspesies kan wees.  Insekte het ooglopend ‘n geweldige belangrike rol in die ekologie anders sou daar nie so ‘n reuse verskeidenheid spesies en getalle gewees het nie.

Elke organisme, selfs die mens, bestaan slegs omdat dit ‘n rol in die ekologie vervul.  Dit beteken ook dat die verdwyning van ‘n spesie ‘n geweldige impak op die res van die ekologie het.  As insekte verdwyn dan sal lewe op land bykans onherkenbaar verander en dit sal glad nie meer lekker wees om hier te bly nie.  Ongeveer helfte van alle soogdierspesies is heeltemal of gedeeltelik van insekte as kos afhanklik.  Bykans alle amfibieërs, meeste akkedisse en duisende spesies voëls en sogdiere eet insekte.

Met ander woorde, as insekte verdwyn, verdwyn meeste vlêrmuisspesies (ongeveer 27% van alle soogdierspesies is vlêrmuise), meeste skeerbekmuise, krimpvarkies, molle en hul verwante (hierdie groep maak ongeveer 10% van alle soogdierspesies uit), erdvarke, ietermagogge, meerkatte, muishonde, miervreters, nagapies, lemurs, buideldiere, goue molle en die lys gaan net aan en aan.  Ongeveer helfte van alle soogdierspesies eet insekte.

Amfibieërs eet deur die bank insekte – van paddavissies wat akwatiese inseklarwes eet tot volwasse paddas, salmanders, molge en die rubberwurms wat grootliks van insekte as kos afhanklik is.  Talle voëls eet insekte.  Selfs saadvreters soos die sangvoëls (Passeriformes) wat die grootste groep voëls uitmaak, vang insekte om vir hul kleintjies te voer.  Akkedisse, varswatervisse en spinnekoppe is ook grootliks van insekte as kosbron afhanklik.

As insekte verdwyn sal meeste landdiere verdwyn want die roofdiere wat weer van die kleiner insekvretende diere as kosbron afhanklik is, sal dan ook uitsterf as hulle kos verdwyn.

Maar dit is net ‘n klein deel van die storie.  Insekte het veel meer nut in die ekologie as om slegs ‘n bron van voedsel te wees.  As mens na die Planteryk kyk sal dinge net so sleg gaan as insekte verdwyn.  Tagtig persent van alle plantspesies is blomplante wat hoofsaaklik deur insekte bestuif word.  Hierdie plante sal uitsterf sodra daar nie meer insekte is om hulle te bestuif nie.  Kan jy jou ‘n wêreld indink wat nie meer tropiese woude, bosveld of fynbos het nie?  En as daardie plante verdwyn sal net nog meer diere uitsterf.

Dan het ek nog nie eens gepraat oor die grondekologie en waterekologie waarin insekte as aasdiere, roofdiere, omnivore en herbivore en kosbron ‘n geweldige belangrike rol speel nie.  Baie insekte het gespesialiseerde aanpassings wat hulle die enigste organismes is wat hulle in staat stel om sekere take in die ekologie te verrig.

Ek gaan hier net een aspek van grondekologie noem waarby insekte in onontbeerlike rol speel – insekte soos die piepklein springsterte (deesdae word hulle as ‘n sustersgroep van insekte beskou maar meer daaroor later), miere, termiete, krieke en kewers dolwe die boonste 15 cm van die grond om.  Dit is allerbelangrik vir die belugting en bemesting van die grond en vir die indringing van reënwater.

Saam met erdwurms sorg hierdie insekte dat lug in die boonste laag van die grond – die risosfeer – indring waar swamme en stikstofbindende bakterieë voorkom en wat van lug afhanklik is om te leef.  Hierdie organismes verskaf weer voedingstowwe aan plante waarsonder plante beswaarlik sal kan leef (lees artikel: Maak jou eie wurmplaas vir meer oor grondekologie).

As daar nie meer insekte is nie, sal grond binne weke kompakteer en die bestaande lug-afhanklike lewensvorme in die grond uitsterf.  Water sal ook nie soos gewoonlik die grond kan binnedring nie en op die oppervlak wegvloei wat die grond nog verder sal laat verhard en uitdroog en plante sal begin vrek.  Die grond sal voor jou oë in ‘n woestyn verander.

Dikwels vra mense my: “Hoekom bestaan kakkerlakke of brommers of muskiete?  Hulle irriteer my so ek gryp sommer ‘n blikkie Boom en spuit alles!” Een van die hooffunksies in die ekologie van insekte soos kakkerlakke, brommers, vlieë, talle kewers (en hul larwes), kleremotte ens. ens. (ek sal later oor muskiete praat) is om dooie plant- en diermateriaal en mis af ge breek.

Dis ‘n ondankbare werk wat meeste mense voor gril, maar sonder hierdie nuttige insekte, wat gelukkig vir ons geen skaamte (of smaak) het nie, sou die wêreld veel grilliger gewees het – vol mis, vrot karkasse en stadig verottende plantmateriaal.  Insekte soos brommers land op dooie vleis so gou soos nou, of dit nou jou rou biefstuk by die braai is, en of dit ‘n dier wat pas doodgegaan het, en lê hul eiers in ‘n oogwink.  Die vleisvlieg is so fluks dat sy haar maaiers soos ‘n bomwerper oor die vleis, sommer so in die vlieg, uitspuit.  Die maaiers begin dadelik in die vleis intonnel en so vinnig verorber as wat hulle kan.  Uiteindelik verander die karkas of bol mis in maaiers en van daar na volwasse brommers wat die wêreld vol vlieg.  So versprei die voedingstowwe oral heen waar hulle dan as maaiers of volwassenes weer as kosbron talle ander organismes onderhou.

Inseklarwes speel ‘n baie belangrike rol in die ekologie, soms meer as die volwassenes.  Die volwassenes van baie insekspesies soos die eendagsvlieg en kleremot voed glad nie of drink net nektar soos in die geval van die langbeen-muggie.  Die larwes doen meeste van die werk en poog om al daardie dooie materiaal – of dit nou jou woltrui of Persiese mat is (in die geval van die kleremot), of watter organiese afval ookal, in insekvleis te verander.  Die langbeenmuggie-larwes bly in modder of water en vreet die verottende plantmateriaal daar.

En onthou – die kakkerlakke en miere en vlieë is net daar om jou te help om skoon te maak waar jy nie kon bykom nie.

Meeste mense verstaan hoekom bye bestaan maar sukkel om te aanvaar dat peste soos kakkerlakke, miere, brommers en muskiete nie spesifiek daar is om die mens te verpes nie.  As jy die mens verwyder sal al daardie organismes voortbestaan asof die mens nog nooit bestaan het nie.  Mens kan natuurlik nie dieselfde vir mensvlooie, kop- en pubiese luise sê nie want hierdie parasiete behoort spesiaal net aan die mens en dus het die mens eintlik tog ‘n rol in die natuur, al is dit net ‘n nederige een.

Die natuur kan sonder die mens voortbestaan en floreer maar die mens kan egter nie sonder die natuur leef nie.  Die beste wat mens kan doen is om eerstens jou impak op die natuur so klein as moontlik te hou en dan om als te doen wat jy kan om die natuur en natuurlike prosesse ongehinderd te laat voortgaan.  Die ideaal is vir die mens om te poog om so na aan die natuur as moontlik te leef.

So kom ons gaan na jou tuin ek kyk wat daar aangaan.  As jy ‘n netjies gesnyde grasperk het, pragtige rose en petunias en watter uitheemse plante ookal, ‘n swembad en plaveisel om die huis en die ergste van als: ‘n goggablitser (bug zapper) buite die huis het, dan het jy waarskynlik net bietjie probleme met miere onder die plaveisel want daar gaan amper niks natuurlik in jou steriele tuin aan nie.

As jy egter in ‘n tent in die middel van die veld woon, dan is daar ‘n getjir en gekriek en gekarring van insekte oral om jou, en jy sal maar kan let – hulle is meestal weinig gepla met jou en jy kan met hartelus na die goggas kyk wat in die oggendson verbyflikker, twee miskruiers wat oor ‘n misbal veg, naaldekokers wat soos ‘n blits op hul prooi toeslaan, na tonele waar daar tientalle vlinders van verskeie spesies met een oogopslag gesien kan word, die klank van sonbesies galm om jou en vanaand kompeteer die krieke en paddas weer met mekaar terwyl die vlermuise oral om jou rondfladder.

Weet nou dit – alles wat ek hierbo beskryf het was eens op ‘n tyd ook so in die plek waar jy nou woon en as dit nie meer so is nie, is daar mos duidelik iets fout.  Jy het nou een van drie keuses:

a) draai om en gaan weer in jou huis in om verder voor jou skerm te sit om van jou verantwoordelikhede te onstnap terwyl jy jouself verbeel dat dit nie jou skuld is dat alles moer toe is nie;

b) kyk krities na alles om jou en vra jouself of jy sonder dit (die swembad, blomtuine, grasperk, uitheemse plante, plaveisel, kunsmis, insekgif) kan leef en of jy sonder die natuur kan leef. Dit is dan wat jy ook moet besef dat jy die mag het om die regte keuse te maak en dat niks jou dwing om met die ou gewoontes voort te gaan nie;

c) gaan werk saam met jou gesin in julle kostuin want dit is die beste ding wat jy na ‘n dag se harde werk op kantoor en na skoolwerk kan doen. Dit is heerlik om saam met jou familie in buitelug in die koel tyd van die dag fisiese oefening te kry terwyl jy iets nuttigs doen. En die beste is as julle vanaand vir aandete van die kos, wat julle self sonder gifstowwe gekweek het, te kan eet.  Hierdie stuk het ek vir Persoon (b) en (c) geskryf en ek kan regtig nie omgee wat Persoon (a) verder doen nie.

 

 

 

 

 

 

 

Die diere in jou tuin is jou beste vennote in die herstel en volhoubare benutting van die natuur en onder hierdie diere is die insekte sekerlik die belangrikste skakel tussen jou en die natuur.  Ek gaan elders oor die nut van paddas, akkedisse, voëls, spinnekoppe ens. in die tuin gesels (lees solank die stuk Maak jou eie wurmplaas om uit te vind watter belangrike ekologiese rol erdwurms speel).

Elke organisme bestaan slegs omdat dit ‘n rol in die ekologie speel en in die geval van diere eet elke dier en word om die beurt geëet.  Die reuse diversiteit van insekte is ‘n aanduiding van hoeveel ekologiese nisse hulle vul en dus hoe belangrik hulle in die ekologie is.

“Maar wat van peste?” vra mense my, “ons moet iets aan die ruspes, plantluise en roosbesies doen wat ons groente en vrugte opvreet!  Gee raad!”

Ja ek het raad: moet eerstens nie gif spuit nie, plant inheemse plante en skep ‘n verskeidenheid habitatte in jou tuin en al die natuurlike roofdiere van daardie sogenaamde pesspesies sal na jou tuin terugkeer en jou peste in bedwang hou.

Natuurlik sal die karnivoriese insekte verdwyn as hulle kos verdwyn en dus moet hulle dit net in bedwang hou en nie uitwis nie.  As daar nie plantluise is nie sal jou liewenheerbesies net so verdwyn as wat leeus sal verdwyn as jy al die bokke en zebras uit die veld verwyder.

Jy moet poog om die ekologie in jou tuin te laat herstel.  Snaaks genoeg is daar geen peste in die natuur nie – net in jou groentetuin en net omdat dit ‘n probleem geword het omdat die res van die ekologie in jou tuin opgedons is.  Die ruspes wat jou lemoenboom vreet word skoenlappers wat dieselfde lemoenboom bestuif.  Jy kan daardie paar blare aan hulle afstaan as jy lemoene wil hê.  Buitendien, roofdiere soos perdebye en voëls en akkedisse staan reg om jou met jou ruspes te help – as jy hulle toelaat.

Jy moet eerstens besef dat alles in die natuur in ‘n fyn balans is en dat dit nie eerstens vir die mens geskep is nie.  Die mens is net ‘n tydelike deel van die ekologie, nes enige ander spesie.  Ons het geen reg om dit te verander om ons te pas en alles anders uit te wis nie.  Ek weet egter ook dat meeste mense verkies om nie so te dink nie en dat ons vernietiging van die natuur dus onomkeerbaar is en ek praat meer oor hierdie onderwerp in die bydraes wat in die Klimaatverandering afdeling sal verskyn.

Maar hopelik dink jy anders en jy kan iets daadwerklik doen selfs al bly jy in die stad in ‘n woonbuurt deur om habitatte in jou tuin vir ‘n verskeidenheid diere te skep deur om die volgende te doen:

Verwyder uitheemse plante (insluitende sierplante) en veral indringers soos katteklou, yellowbells en lantana.

Laat inheemse gras toe om in ‘n deel van jou erf wild te groei en trek indringers soos kakiebos en knapse kêrels, wat in die begin tussen dit gaan opkom, uit.  Kort voor lank sal jy die vlinders en hottentotsgotte en spinnekoppe en naaldekokers daar sien boer.

‘n Dammetjie sal baie diere lok – van voëls, tot paddas, tot insekte.  Natuurlik sal daar muskiete uitbroei maar die waterskerpioene, vlêrmuise en skurwepaddas sal jou daarvoor bedank.

‘n Rotstuin verskaf blyplek vir akkedisse, dwergskerpioene en ander diere.  Enigiets wat die omgewing sal verryk soos sand waar voëls en ander diere kan sandbad, en mynerbye en mierleeus neste kan bou, sal tot die biodiversiteit in jou tuin bydra.

Moenie dooie boomstompe verwyder nie – jy sal verbaas wees hoeveel duisende insekte – insluitende alleenloper bye – in dooie hout leef.  Selfs die swamme wat op die verrottende hout groei (trouens dit verteer) dien as ‘n kosbron vir talle organismes.

Moenie diertjies soos skinke, geitjies, perdebye en muurspinnekoppe (“flatties”) wat reeds in en om jou huis blyplek gevind het, verwilder of hul neste afbreek nie – hulle is juis die diere wat hul bes doen om te keer dat kakkerlakke en miere jou huis oorneem.  Perdebye is soos wilde leeus en luiperds van die insekwêreld en is woeste roofdiere.  Hulle is jou beste raad teen ruspes en hulle is nie aggressief as jy hulle uitlos nie.

Daar is ‘n verskeidenheid reptiele, amfibieërs en voëls wat in stadstuine voorkom – mits die regte lewensmiddele daar is.  Die dwerggeitjie, tropiese geitjie, spikkel rots-gladdeakkedis en skurwepaddas en ‘n verskeidenheid voëls soos janfrederikke, lysters, hoep-hoepe, houtkappers, kakelaars en nog baie meer sal na jou tuin (en huis) gelok word as hulle daar kos kan kry.

 

 

 

 

 

 

 

 

As ‘n reël dui die hoeveelheid en verskeidenheid roofdiere aan hoe gesond ‘n ekostelsel is – hoe meer, hoe beter.  Net soos wat verskillende plante deur verskillende bestuiwers bestuif word, net so voed verskillende roofdiere op verskillende organismes en as daardie organismes nie daar voorkom nie, sal die roofdier ook nie daar kan oorleef nie.  En die teenoorgestelde is ook waar – as jy die roofdiere uitwis dan het jy skielik peste.

Plant inheemse bome, struike en blomme.  Inheemse diere sal hierdie plante herken en dit as kosbron, boumateriaal en nesplek benut (ek sal meer hieroor in die artikel Die eetbare tuin skryf).  Inheemse plante is van nature meer bestand teen insekte as uitheemse plante wat jou van die versoeking sal weerhou om dit met gif te spuit.  Mense spuit byvoorbeeld nie gif op maroelas nie maar wel op perskes.

Inheemse plante is ook aangepas by die natuurlike reënval en temperatuur en het dus nie soveel sorg en water as uitheemse plante nodig nie.

Inheemse plante lok ook ‘n verskeidenheid van insekte waaronder bestuiwers en in sekere gevalle spesifieke bestuiwers wat andersins van tuine waar uitheemse plante heers, uitgesluit is.  Voëls verkies om hulle neste in inheemse bome te maak en die vrugte te eet.  Insekte natuurlik ook en daardie insekte dien weer as kos vir ander diere.

Dit is ook belangrik om ‘n verskeidenheid van blomplante te plant sodat die bestuiwers regdeur die jaar kos het.  Dit help niks as daar slegs kos in die lente is, en dan vir die res van die jaar is daar niks vir die bestuiwers om op te voed nie.  Byvoorbeeld: aalwyne blom in die winter en dit is soos ‘n reddingsboei vir bestuiwers in die winter.  Kareebome blom weer tussen Junie en September.  Dit is ook belangrik om te weet dat daar talle bestuiwers is en nie net heuningbye en vlinders nie.  Suikerbekkies, pylstertmotte, byvlieë en alleenloperbye is in sommige gevalle meer effektiewe bestuiwers en meer volop as heuningbye.  Hierdie diere moet ook blyplek in jou tuin kry.

Een van die ergste goed wat mens kan doen is om ‘n goggablitser (“bug zapper”) te installeer – daardie ding wat so pers gloei in die nag wat mense by hulle lapa of huis aanbring.  Insekte gebruik lig om te navigeer – selfs nie naglewende insekte doen dit.  Iets wat min mense weet is dat daar meer insekte snags swerm as bedags.  Dit is ‘n spesiale gedragsaanpassing sodat hulle predasie deur voëls kan vermy.  Natuurlik is daar vlêrmuise snags wat hierdie insekte vreet, maar daar is ‘n ekwilibrium tussen die hoeveelheid vlêrmuise en die hoeveelheid insekte.

Snags sal insekte die helderste lig in die hemelruim, die maan of ‘n ster, as navigasiebaken gebruik om in ‘n reguit lyn te kan vlieg.  Hulle hou die ligbron met een van hulle ocelli van hul saamgestelde oë dop en so hou hulle koers.  Natuurlik is ‘n hemelliggaam so ver weg dat die insek dit nooit sal bereik nie.  Onthou die doel is nie om na die lig te vlieg nie maar net om die vlugbaan op ‘n sekere hoek ten opsigte van die lig te hou.  Dit is hoekom insekte nie direk na ‘n kers of lig vlieg nie maar rondom dit begin sirkel tot hulle daarin vasvlieg.

Ongelukkig is dit vir insekte asof die son opkom as daardie goggablitser aangeskakel word omdat dit ‘n reuse hoeveelheid ultravioletlig uitstraal wat alle ander natuurlike ligbronne uitdoof.  Dit is so erg dat selfs die daglewende insekte soos naaldekokers en hottentotsgotte, vlinders en bye wakker word en daarin vasvlieg en vrek.  Kyk maar na die hope karkasse onder die goggablitser die volgende dag en soek die muskiete onder hulle, want dit is die eintlike rede hoekom mense goggablitsers gebruik – sodat hulle van daardie lastige muskiete ontslae kan raak.  Maar ongelukkig vir die mense en al die onskuldige insekte en gelukkig vir die muskiete, kom hulle juis uit snags om te jag.  Muskiete, nes bedluise en bosluise, gebruik nie ligte om te navigeer nie maar volg die koolstofdioksied wat jy uitasem en jou liggaamshitte om jou op te spoor.

As jy al hierdie dinge in jou tuin en huis doen wat ek hier voorstel, sal jy sien hoe die naaldekokers, geitjies, wespe, hottentotsgotte, vlinders, voëls, skurwepaddas, swamme en nog baie meer na jou tuin terugkom.  Kortom: hoe meer jou tuin soos die veld lyk, hoe meer het die ekologie in jou erf herstel.  En ja, jy kan met die natuur saamleef – ons het dit vir miljoene jare gedoen maar net oor die laaste paar eeue vergeet hoe om dit te doen.  Vir die van ons wat bietjie langer hierdie planeet met die res van die natuur wil deel moet leer om dit weer te doen.

Bou jou eie Goggahotel

Nou kom ons by die deel uit waarvoor jy nou eintlik gewag het – alles voorafgaande was net die inleiding.  Die rede hoekom jy ‘n goggahotel wil bou is omdat dit ‘n vinnige manier is om veral die alleenlopende bye te akkommodeer deur om vir hulle huisvesting te gee, terwyl jy aan jou tuin werk om dit in ‘n natuurtuin te omskep.  Dit is egter ook ‘n wonderlike tuis-eksperiment om te doen en mens kan baie daaruit van insekgedrag leer.

Die rede hoekom jy ‘n goggahotel wil bou is omdat jy nie dooie bome en stompe in jou tuin het waarin die alleenloper bye hulle tonneltjies kan maak nie.  As jy wel genoeg nesgoed vir hulle het, sal hulle dalk hulle neuse vir jou goggahotel optrek.

Daar is ongeveer ‘n duisend byspesies in Suid-Afrika maar waarvan slegs ‘n handjievol heuning maak.  Daar is natuurlik die heuningby Apis mellifera en dan sowat 10 spesies sosiale sweetbye – die sogenaamde mopanie- of mokka- bytjies (sommige mense ken hulle as mopanievliegies) wat ook neste met heuning maak.  Die res van die bye is alleenloperbye wat interessant genoeg blomme nog meer effektief bestuif as wat heuningbye dit doen.

Sommige alleenloperbye maak hul neste in ‘n groep maar elke wyfie bou haar eie nes waarin sy haar eiers lê en hulle word dus nie as eusosiale diere beskou nie.  Die meerderheid alleenloperbye leef op hul eie.  ‘n Verskeidenheid van nesboutegnieke kom in die alleenloperbye voor en dit is hier waar jy hulle kan help, of ten minstens nie te hinder nie of per ongeluk doodmaak soos om ‘n ou stomp vol neste in die vuur te gooi nie.

Sommige alleenloperbye maak hul neste in reeds bestaande holtes soos in riete, dik grasstingels of verlate gate wat in hout of takkies deur ander insekte gemaak is.  Dikwels sal hulle opportunisties hulle nes in enigiets met ‘n holte met ‘n gaatjie van die regte grootte bou, soos wat die blaarsnyerby in die foto gedoen het.  Ander soos die houtkapperbye (Anthophoridae) kou tonnels in hout in waar hulle hul eiers lê.  Blaarsnyerbye (Megachilidae) aan die ander kant maak neste van stukkies plantmateriaal, dikwels stukkies blaar, waarmee hulle hulle tonnels uitvoer.  Messelbye (Sphecidae) maak neste uit modder of hars terwyl mynerbye (Crabronidae) tonnels in die grond maak.  Sweetbye (waaraan die mopaniebye hoort) (Halictidae), maak meestal hul neste in gate in die grond.

Die alleenloperby se nes bestaan uit ‘n reeks kamertjies wat elkeen van die ander geskei is.  Elke kamertjie word deur die wyfieby met stuifmeel en nektar voorsien voor sy ‘n eier daarbinne lê.  Sy verseel dit en begin dan met die volgende kamertjie.  Wanneer die jong maaieragtige larwes uitbroei, voed hulle op hul voorraad nektar en stuifmeel.  Wanneer hulle volgroei is, vorm hulle papies wat dan gewoonlik in die lente as jong bye ontpop en met hul lewenssiklus voortgaan.  Een van die interessante verskynsels van hierdie nesmaakmetode is dat die laaste kamertjie op die buitenste punt van die nes waarin die jongste eier gelê is, eerste ontpop, en dan die een agter hom en so aan totdat die oudste eier wat eerste gelê was, laaste ontpop anders sal daar mos chaos wees.

Deesdae kry mens insekhotelle op talle plekke soos by tuinwinkels te koop.  Ongelukkig is die meerderheid hiervan niks meer as tuinornamente nie want die ontwerp is onderdag en kan dit meer skade as goed doen.

Jy wil graag die goggas wat in jou goggahotel intrek veilig huisves en nie toelaat dat dit in ‘n goggarestaurant omskep word nie.  Die gaatjies moet dus van die regte grootte wees sodat ‘n roofdier of parasitiese insek nie maklik by die eiers of jong bytjies uitkom nie.

Die plasing van jou goggahotel is daarom ook belangrik.  Hou maar die gesegde: my vyand se vyand is my vriend, in gedagte.  As die goggahotel op ‘n afgleë plek, ver van die res van die tuin geplaas word, sal ‘n roofdier daar kan feesvier sonder dat enigiets hom verwilder.  Roofdiertjies sal op hul passoppens moet wees as hulle ‘n goggahotel nader wat in die oopte in ‘n tuin geplaas is.  Die oomblik wat hulle op die goggahotel begin rondkarring sal ‘n groter roofdier – die naaste geitjie of voël op hul toesak.

Alleenloperbye hou van die son en hitte en dus bou hulle dikwels hulle neste aan die sonkant van ‘n boom, ‘n klip of die huis.  Plaas dus jou goggahotel ook teen ‘n muur of op ‘n stoep waar daar son is.

Die materiaal waarvan die goggahotel gebou word is baie belangrik.

Dennehout is goedkoop en maklik om mee te werk maar die grein is grof en dit maak splinters.  Insekte hou nie daarvan om saam met die grein hul neste te maak nie.  Let maar in die natuur op: die gaatjies wat alleenloperbye maak is reghoekig teen die grein gemaak.

Splinters, wat deur tyd en verwering loskom, kan die insekte se vlerkies verskeur as hulle saam met die grein in en uit die tonneltjies moet beweeg.

Hardehout met ‘n fyner grein as dennehout en verseker dat die wande van die gaatjies gladder en digter is en meer weerstandbiedend teen verwering is as wat die dennehoutgaatjies is.

Alleenloperbye kom in verskeie groottes – hulle het dus gate van verskillende groottes nodig.  Jy sal dus ‘n groter verskeidenheid van bye na jou goggahotel aanlok as jy gaatjies van verskillende groottes maak.

In die bygaande fotos kan mens sien dat drie van die vyf gaatjies in die ronde blokke bewoon word en slegs ses van die 47 bamboesies.

Die dennebolle agter die draad is sinnelose nonsens. Na ‘n jaar het nog niks hier ingetrek nie.  Dit laat mens dink – het jy ooit goggas in dennebolle gekry toe jy dit versamel het?  Daar word vertel dat liewenheerbesies hier sal oorwinter, maar al inligting wat mens uit so ‘n stelling kry is dat die verteller niks van liewenheerbesies weet nie.  Liewenheerbesies oorwinter in groepe.  Wanneer dit kouer word vlieg liewenheerbesies na die hoogste punt in hulle omgewing waar hulle in ‘n hoop teen aan die sonkant van ‘n klip sit.  Daar is ‘n baie mooi voorbeeld daarvan in Erik Holm se boek: Inseklopedie van Suider-Afrika.  Dit lyk niks soos ‘n dennebol agter draad nie.

Die byhotel in die Nasionale Botaniese Tuin in Pretoria daarenteen is ‘n pragtige voorbeeld van hoe dit behoort te werk.  Dit is wel onderdak en nie in die direkte son nie maar dit kyk noord en is reg langs bome, struike, blomme en gras.

Op die volgende foto het ek net ‘n deel van die hotel in die foto groter gemaak en al die gaatjies met ‘n rooi sirkel aangedui waarin daar tans nessies is (met wit sy afgeseel), of die gaatjie was tot onlangs bewoon (dié met wollerige oorblyfsels binne die opening), of waar ‘n by besig is om die gaatjie voor te berei om daarbinne haar nes te maak (houtkorrels of ‘n by sigbaar by die opening).

Duidelik werk hierdie hotel uitstekend vir alleenloperbye en moet dit inderdaad ‘n byhotel genoem word en nie ‘n insekhotel of ‘n goggahotel nie want dit is onwaarskynlik dat enige ander gogga hier plek sal kry of tuis sal voel.  Dit is alles in egter in die haak want jy hoef nie al die goggas in jou tuin in dieselde plek te akkommodeer nie.  Hulle behoeftes verskil in elk geval te veel.  Die belangrikste en beste ding wat jy kan doen is om soveel moontlike mini-habitatte vir die goggas in die tuin te skep waar hulle nie net kan oorwinter nie, maar kan oorleef.

Die rooi sirkels wys watter gaatjies gebruik word of gebruik was. Die wit geseëlde openinge is die nessies waarin larwes leef en dié wat oop is maar waarin mens sydrade kan sien is wat bewoon was.  Dié met skaafsels is wat na die behoeftes van die inwoner ingeruim en vergroot word.  Mens kan ‘n bytjie in die agste ry van links in die vierde gaatjie van bo in die foto hierbo sien werskaf. Die enigste kritiek wat ek op hierdie byhotel het is dat dit van dennehout gemaak is.  Hardehout sal langer hou en gladder tonnels hê.

Die goggahotel is slegs ‘n tydelike poging om goggas, veral alleenloperbye, te huisves totdat jy ou verottende boomstompe het wat hulle kan benut.

Ons het dus ‘n goggahotel gebou, wat vanuit ‘n insek se behoeftes gesien, die belangrikste kenmerke van ‘n ou boom naboots.

Ons het die goggahotel van dennehout gebou omdat ek baie houtafvalstukkies het wat van ander projekte oorgebly het wat ek op hierdie manier kan herwin.

Ons het meranti vir die gaatjies gekies omdat dit ‘n hardehout is wat algemeen beskikbaar is.  ‘n Hardehout het ‘n digter grein as sagtehout en die gaatjies wat mens daarin boor het gladde kante.  Ons het gaatjies van verskillende groottes (2 mm, 2.5 mm, 3 mm en 3.5 mm) in die hout geboor.  Mens kan seker ook groter gaatjies in die hout boor as jy wil.

Bamboes werk goed mits mens ‘n verskeidenheid van groottes gebruik, sodat bye en ander organismes die gaatjie kan uitsoek wat hulle pas.  Sekere insekte verkies om hul neste in vertikale stingels en grashalms te bou.  Mens kan dus eksperimenteer om te sien of vertikale stukkies dun bamboes in of om jou goggahotel deur sekere insekte as nesplekke verkies word.

Die onderste hokkie van ons goggahotel het witstinkhout bas in.  Witstinkhout is ‘n inheemse boom is wat volop voorkom en talle insekte huisves.  Hopelik sal die reuk van witstinkhout eerder goggas aanlok as wat dit as wat waarskynlik die geval is met die terpenoïede wat in die hars in die dennekeëls is of die feit dat die dele van die keël te ver uitmekaar staan om behoorlik beskerming aan die goggas te verleen.  Die bas is agter draadmaas om die goggas wat daarin bly van roofdiere soos voëls en akkedisse te beskerm.  Moet asseblief nie bas van lewendige bome afstroop om dit in ‘n goggahotel te gebruik nie.  Ek het die bas van droë takke, wat ek ‘n paar maande vroeêr moes afsaag, gekry.  Ek is seker dat bas van ander inheemse bome soos soetdoring en karee ook sal werk.

Heel bo het ons kleipotjies onderstebo opgehang.  Messelaarbytjies hou daarvan om hul neste op bakstene, klip of gebakte klei te bou.  Sommige goggahotel-bouers gebruik kleiteëls met gaatjies in wat spesiaal vir die goggahotelle gebak word.  Ander mense gebruik stukke gebreekte dakteëls in groter goggahotelle.  Ons hoop dat spinnekoppe die holtes van die potjies sal ontdek en daar intrek en die inwoners wat onder hulle woon tot ‘n mate teen nuuskierige roofinsekte. wat by die goggahotel kom karring, sal beskerm.

Ons het geen vernis, verf of stopverf op die goggahotel gebruik nie omdat dit net nog meer chemikalieë is wat mens sodoende in die natuur vrystel en daarbenewens dink ek dat die reuk van die chemikalieë eerder die goggas sal afstoot as verwelkom.  Al vergaan die goggahotel mettertyd is dit mos net deel van die afbraak wat normaal in die natuur voorkom en ek sal wat ek kan herwin, weer gebruik vir ‘n nuwe een.

Ons bestaan op die planeet is direk gekoppel aan die voortbestaan van ander organismes.  Sonder bye sal mense beswaarlik kan voortbestaan.  Elke pampoen, ertjie, boontjie, tamatie, perske, appel, pere, papajas en nog tonne ander goed bestaan slegs danksy die feit dat blomme deur insekte bestuif word.

As insekte, maar veral bye verdwyn, sal die mens verdwyn.  Hierdie goggahotel gee vir jou die geleentheid om iets daadwerklik te doen om die uitwissing van bye te keer.

– o O o –

 

NS: Al die diere (buiten die blouwangbyvreter) wat in die artikel uitgebeeld word, kom in ons tuin voor.  Dis egter net ‘n handjievol van die diere wat wel in ons tuin bly.  Daar is onder andere ongeveer 25 voëlspesies wat in ons tuin bly en broei of kom eet.  Lees volgende keer die artikel Die eetbare tuin om te sien hoe ons ons stadstuin in ‘n natuurtuin met ‘n groentetuin verander het.

Lees meer oor insekte in Afrikaans in die Inseklopedie van Suider-Afrika deur Prof. Erik Holm (uitgegee deur Lapa in 2008).

Lees meer oor goggahotelle en wat werk en wat nie werk nie in: Naturgarten van Werner David by: https://www.naturgartenfreude.de/wildbienen/nisthilfen/schautafeln

Lees meer oor alleenloperbye in: Being there: the diversity of solitary bees deur Carol by: https://naturebackin.com/2018/11/15/being-there-the-diversity-of-solitary-bees/

 

 

error: Content is protected !!