Maak jou eie wurmplaas

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Maak jou eie wurmplaas

May 12, 2020 Doen dit self 0

deur François Durand

Die eerste vraag wat jy dalk sal wil vra is: “Hoekom op aarde wil ek so iets doen?”

En dan wil ek dalk iets antwoord soos: “Omdat jy seker graag wil leef eerder as om dood te gaan.” Maar ek grap net, want wêreldwyd oorleef honderde duisende mense deur kos uit asblikke te grawe. So jy sal ‘n goeie kans staan om vir ‘n ruk lank te oorleef sonder ‘n groentetuin, ‘n komposhoop of ‘n wurmplaas.

“O,” sê die anti-wurmboer, “maar ons koop ons kos in die winkel, mens het nie ‘n wurmplaas daarvoor nodig nie.”

“Lekker man, lekker,” is my antwoord, “totdat jy of jou ouers nie meer ‘n werk het nie vanweë Corona, staatskaping en wanbestuur en die kospryse deur die dak skiet sodat mense nie meer met hulle pensioengeld, of werkloosheidsversekering of ander toelaes kos kan bekostig nie.”

Intussen kon jy reeds met jou groentetuin, komposhoop en wurmboerdery begin het in plaas daarvan om met my te stry.

Hoekom is erdwurms belangrik?

Erdwurms is uiters belangrik in die proses van grondvorming en om die gesondheid van grond te handhaaf.

Die storie begin met organiese materiaal in die vorm van hout, blare en vrugte wat van bome af kom en op die grond land.  Hierdie materiaal is dus reg daar waar plante groei en die boustowwe in die organiese materiaal weer kan benut as dit besikbaar gemaak word.

Swamme is die belangrikste afbrekers van plantmateriaal, want hulle het die vermoë om deur middel van hul ensieme die lignien van hout na sellulose, dan na polisakkaride (stysel), dan na disakkariede en laastens tot eenvoudige suikers soos glukose wat die boustof van lewe is, af te breek (lees die artikels oor swamme). Swamme is dus uiters belangrik in die proses van kompostering.

Swamme respireer en het dus suurstof nodig en die meeste Sakswamme en Steetjieswamme wat die belangrikste afbrekers op land is, is luglewend. Die miseliums van hierdie swamme kom wydverspreid in die risosfeer, net onder die grondoppervlakte, voor waar hulle in simbiose met plantwortels leef en dit is hier waar erdwurms ook voorkom.

Erdwurms maak tonnels deur die grond wat dit moontlik maak vir water en lug om in die grond in te dring.  As dit nie hiervoor was nie sou die grond verdig en water sou nie diep of maklik in die grond indring nie en die grond sou baie minder lug in gehad het en uiteindelik sou grawende diere en grondbewondende swamme en plante sukkel om daar te bestaan.

Erdwurms eet ‘n wye verskeidenheid organiese materiaal en dra by tot die verdere afbraak van organiese stowwe.  Erdwurms kan egter nie sellulose verteer nie, maar voed gulsig op die afbraakprodukte uit die plantmateriaal wat deur die swamme beskikbaar gestel is – veral die stysels en suikers. Daarbenewens voed die erdwurms op die swamme en bakterieë (soos jy wat joghurt of kaas eet) en die protiste en nematode wat in die organiese materiaal voorkom. ,Erdwurm-mis is dus ‘n kompakte bron van organiese materiaal wat minerale, organiese voedingstowwe, swamspore, protiste, nematode en bakterieë (veral aerobiese bakterieë) bevat en wat, as dit op die regte plek toegedien word, ‘n gesonde grondekologie met behulp van hierdie hele mikrokosmos van organismes kan vestig.  Daarbenewens het erdwurms ook kalkkliere in hul spysverteringstelsel waarmee hulle van die oortollige kalk (kalsiumkarbonaat) in hul liggame ontslae raak deur om dit saam met die mis uit te skei. Hierdie kalkuitskeidings help om die pH van die grond te neutraliseer omdat kompos geneig is om suur te wees weens die tanniensure wat uit verottende plantmateriaal vrygestel word.  Swamme verkies basiese tot neutrale pH en baat dus by die teenwoordigheid van erdwurms.  Erdwurms is dus ‘n baie belangrike deel van grondekologie en dra dus grootliks tot die vrugbaarheid van grond by.

En nou die groot rede vir die hele bestaan van wurmplase wat mense jou nie vertel nie: wurmplase is nie primêr daar om erdwurms te maak nie maar om wurmtee te maak. En die hoofrede vir die maak van wurmtee is omdat dit diazotrofiese (aerobiese en nitrifiserende) bakterieë bevat, met andere woorde bakterieë wat stikstof uit die lug uit haal en dit in ammonium verander wat ander nitrifiserende bakterieë in nitriet en nitraat verander wat die plant weer kan opneem. Hierdie bakterieë het suikers as voeding nodig en kom dus in die risosfeer voor waar hulle op die suikers kan teer wat die swamme uit die kompos beskikbaar stel. Plante stel selfs suikers deur hul wortels in die grond vry om hierdie bakterieë te voed.

Jy gebruik eintlik net die wurms om vir jou daardie bakterieë in hulle mis te verskaf. Mens kan selfs hierdie bakterieë uit jou komposhoop of direk uit komposryke grond in die veld oes.  Plante het ‘n gesonde grondekologie nodig waarin swamme, erdwurms, nematode, myte, diazotrofiese archaea en bakterieë voorkom.  Ongelukkig dien by verreweg meeste boere kunsmis toe wat die chemiese balans in die grond versteur en die grondmikrobes, wat so belangrik is vir die bestaan van plante, vernietig. Die toediening van kunsmis lewer aanvanklik groot oeste, maar uiteindelik verbrak die grond en word dit steriel.  Duisende hektaar per jaar word deur hierdie waansinnige praktyk verloor. Ongelukkig is meeste mense onbewus daarvan dat dit tiene- tot honderde duisende jare neem vir grond om te vorm en die ekologie daarin te vestig en vir spesies om aan te pas om in simbiose met mekaar te leef.

Diazotrofitiese bakterieë (o.a. Azotobacter) kom in plekke voor waar daar genoeg lug is, maar dit nog steeds klam is, en die risosfeer reg onder die grondoppervlakte is ‘n ideale plek daarvoor.  Hier absorbeer die bakterieë die stikstof uit die lug – nie die suurstof nie.  Ons is so gesteld op suurstof dat ons vergeet dat daar by verre meer stikstof in die lug is as wat daar suurstof is. Hierdie aerobiese bakterieë voed op suiker wat in hope in die risosfeer voorkom waar die swamme dit deur kompostering vorm.

Stikstof is essensieël vir plante, maar vreemd genoeg het hulle nooit die vermoë ontwikkel om self stikstof uit die atmosfeer te haal soos wat hulle met koolstofdioksied doen nie. Plante het diazotrofiete soos die aerobiese bakterium Azotobacter en sekere archaea daarvoor nodig wat ammonium (NH4) uit die stikstof in die lug vervaardig. Die ammonium word dan deur nitrifiserende bakterieë in die grond eers na nitriet en dan nitraat omskep. Nitraat is die hoofbron van stikstof vir plante en waarsonder hulle nie kan bestaan nie – en dus ons ook nie.

Boer met erdwurms

Daar is talle besighede van kommersiële boerderye tot agterplaasboere wat met erdwurms boer en entrepeneurs wat wurmplase verkoop.  Mens kan wurmplase vir ‘n paar honderd Rand tot soveel as R 20 000 kry. Die sukses van jou boerdery het egter niks te doen met die prys wat jy vir jou plaas betaal het nie. Ek was al by verskeie erdwurmboere wat hulle bestaan uit erdwurms maak en ‘n swart plastiekseil met ‘n geperforeerde pyp onderin (om die loog af te tap) gebruik en glad nie die spoggerige kaste het wat op die internet geadverteer word nie.

Daar is dus geld in wurmboerdery as dit is wat jy wil doen daarmee. Dit is ‘n goeie bron van inkomste en dit bevorder selfwerksaamheid en volhoubaarheid.

Maak jou eie wurmplaas

Jy kan ‘n klaargemaakte wurmplaas koop, maar dié wat ek op die internet sien is baie duur.  Dit is moontlik om die hardeware-deel van jou eie wurmplaas vir minder as R200 te maak.

Jy het die volgende nodig om ‘n wurmplaas soos myne te maak:

  • Twee groot (25 liter) emmers of iets soortgelyks. Jy kan eintlik enige geskikte houers gebruik.
  • ‘n Stuk veselmat (batting), ondermat, twee stukke hondekombers of iets soortgelyk wat groot genoeg is om die bodem van die binneste emmer te bedek.
  • Gaas van plastiek of skadunet van ongeveer 300 x 300 mm breed om die ventillasiegate aan die kante van die buitenste drom te bedek.
  • Silikongom om die gaas oor die ventillasiegate vas te plak.
  • ‘n Stuk skadunet vir die sak wat binne die binneste drom kom van ongeveer 1.5 m breed x 500 mm hoog.
  • Dun nylon tou of vislyn om die sak van die skadunet te maak.
  • ‘n Lee bottel om die komposloog op te vang.
  • ‘n Paar bakstene om die emmer van die grond of vloer af te lig.

Gereedskap wat jy gaan gebruik: boor of soldeerbout, skêr, rygnaald.

Die wurms

Die tameletjie is om iewers bekostigbare erdwurms in die hande te kry. Nou die dag het ek ‘n stalletjie op die Boeremark in Pretoria raakgeloop waar hulle R200 vir ‘n bakkie vol wurms gevra het wat die duurste was wat ek tot dusver teëgekom het.

Die wurms wat wêreldwyd in wurmplase gebruik word is die “Red wriggler” (Eisenia fetida) wat ek die Rooi komposwurm noem. Die Rooi komposwurm het ‘n besondere kenmerk wat dit gepas vir wurmplase maak – hulle leef in die boonste laag van die grond en in organiese materiaal bo-op die grondoppervlakte waarteenoor meeste erdwurms dieper ondergronds leef.

Ongelukkig kom die Rooi komposwurm van Europa, maar is wetend en onwetend wêreldwyd versprei.  Dit is dus moontlik om hulle iewers in die natuur te vind as mens in die regte plek daarvoor te soek.  Ek het self nog nie die tyd gehad om dit te toets nie, maar ek vermoed dat die erdwurms wat bogronds in jou komposhoop voorkom ook geskik vir ‘n wurmplaas sal wees.  Ek is van mening dat dit beter vir die ekologie sal wees as mens inheemse spesies gebruik eerder as om ‘n uitheemse spesie te gebruik.

 

Die emmers

Jy het twee emmers nodig – sommige mense gebruik drie houers, maar ek het gevind dat twee vir my doel genoeg is. Jy kan enige houer gebruik – selfs sommer ‘n plastiekseil met jou organiese reste soos in foto van die kommersiële wurmboerdery.  Die hoofstruktuur van my wurmplaas is twee groot (25 liter) emmers.  Mens kon oorspronklik net wit emmers kry, maar deesdae maak hulle dieselfde emmers in swart wat eintlik beter is, want erdwurms leef ondergronds en hou nie van lig nie.

Boor met die boor of smelt met die soldeerbout gaatjies in jou emmers. Die gaatjies in my emmers is reghoekig omdat dit met ‘n soldeerbout gesmelt is. Dit is egter vinniger om die gaatjies te boor, maar moenie te hard druk nie, want dan bars die plastiek.  Moenie ‘n nutsmes gebruik nie, want die lem gly maklik op die plastiek en sny of jou of jou emmer stukkend.  Beide emmers moet ventillasiegate aan die kant hê sodat lug deur dit kan beweeg.  Die gate van die twee emmers moet ooreenstem omdat die lug van buite na binne moet deurvloei..

Die ventillasiegate van die buitenste emmer moet met gaas bedek word om te keer dat goggas en ander diertjies daardeur klim om by die kompos uit te kom.  Ander mense wat soortgelyke wurmplase het bedek die binneste gaatjies ook met gaas om te keer dat die wurms daardeur val, maar dit is nie nodig in my ontwerp nie aangesien ek die kompos met die wurms in binne ‘n sak van skadunet hou.

Die groot verskil tussen die twee emmers is dat jy die onderkant van die binneste emmer (links in foto) oral vol gate moet maak terwyl die buitenste emmer (regs in foto) net een gaatjie aan die kant van die bodem kry.  Hierdie gaatjies is vir die komposloog om uit te vloei.

Die deksel wat die boonste (binneste) emmer bedek moet ook gaatjies in kry.

Die ventillasiegaatjies is van uiterste belang omdat die wurms en die swamme en aerobiese bakterieë wat saam met hulle leef, suurstof moet kry.  As daar nie genoeg suurstof in jou emmer is nie word dit anoksies en die wurms en swamme sal vrek en anaerobiese bakterieë sal oorneem en jou emmer sal soos rioolwater begin stink.  Die kompos in jou emmer moet altyd ‘n gesonde grond-reuk hê en dan sal jy weet dat daar genoeg lug inkom.

Sit ‘n stuk veselmat, stukke ondermat of hondekombers onder in die emmer.  Dit is om te keer dat die vloeistof te vinnig deurvloei en mimiek die beweging van water deur die grond in die natuur.  Dit is ongesond vir die wurms en die ekologie binne jou emmer oor die algemeen as die vloeistof daarin opbou en dit anoksies word, maar as dit te vinnig deurvloei dan droog die kompos in die emmer uit en dan sal jou goeie swamme en die wurms ook vrek.  Die ventillasiegate aan die kant moet ook vir daardie rede nie te laag wees sodat die water daardeur uitloop nie.

 

 

 

 

 

 

 

Die sak

Ek gebruik ‘n sak wat ek uit skadunet gemaak het in die binneste emmer.  Mens kan ook ‘n geweefde polipropeleensak vir jou wurmplaas gebruik.  Ek dink dat die sak uniek is, want ek het dit nie in ander wurmplase gesien nie.  Die maas van die sak maak dit moontlik vir water en lug om in en uit te beweeg, maar dit hou die wurms binne en ongewenste diertjies buite.

Dit is maklik om die kompos uit die emmer te haal en die wurmgrond van die wurms en onverwerkte materiaal te skei wat mens nou en dan doen om wurmtee te maak. Dit is dan ook nie nodig om gaas oor die binneste ventillasiegate te plak om te keer dat jou wurms deur die gaatjies kruip nie.

Dit is eenvoudig om die sak te maak – jy sny ‘n reghoekige stuk van so 1.5 m wyd by 0.5 meter hoog.  Maar dit alles hang van die grootte van jou emmer of drom af.  Werk die onderkant en sykant toe met nylontou of vislyn toe.

Hierdie sak hou die wurms binne en keer dat hulle deur die gaatjies in die drom wriemel en dit hou meeste ander goggas soos kakkerlakke en miswurms buite.  Jy sal nog steeds klein goggatjies kry wat op die kompos kom voed – veral klein insekte soos vrugtevlieë sal hul eiers op die net lê en die larwes sal tot by die kos deurwoel.  Dit is nie ‘n krisis nie, want hulle help ook om die voedselreste af te breek en dit doen niks aan die erdwurms nie.  Ek hou die sak met wasgoedknippies toe.

Deur die skadunet bo toe te maak keer dit ook oormatige verdamping van die water in die boonste lae van die kompos, maar laat nog steeds lug deur.

En in ‘n japtrap is die struktuur van jou erdwurmplaas klaar.

Vul die kompossak

Vul nou die sak met bietjie grond, kompos, blare uit die tuin (moenie blare van giftige plante soos olienhout, pride of india, selonsroos ens. gebruik nie, eetbare plante soos perskes, appelkose, druiwe se blare is goed) , kombuisafval soos groenteskille, koerantpapier, eierdoppe en growwe karton soos eierdose wat opgeskeur is.

Moet nie glanspapier of papier met baie drukkersink op gebruik nie.  Die ink bestaan uit chemikalieë wat metale en ander giftige stowwe bevat waaraan jy nie jou wurms of jouself wil blootstel nie.  Skeur die plakker af wat op die eierdose geplak is en gooi dit weg voordat jy die eierdoos opskeur om in jou wurmplaas te gooi.

Ongelukkig is daar ‘n paar goed waarvan jou erdwurms nie hou nie.  Dit is goed wat mens gewoonlik nie in elk geval in ‘n komposhoop sou gooi nie soos: vleis en vet, melkprodukte, olierige goed, heel eiers, goed met gifstowwe op, glanspapier en dan ‘n paar goed wat mens andersins in ‘n komposhoop sou gooi: uie, knoffel, chillies en sitrusvrugte soos lemoene.  Hierdie vrugte en groente het chemiese verbindings of lok sekere swamme aan waarvoor die Rooi komposwurm sensitief is.

Sorg dat jou wurmplaas altyd klam bly.  Die oomblik wat dit uitdroog vrek alles daarbinne buiten die mees geharde swamme en bakterieë.  Vrugte hou die kompos klam, maar as dit drogerig voel, dan moet jy dit met bietjie water nou en dan natsprinkel.  Sorg ook dat dit nooit sopperig nat word nie, want dan versuip alles weer buiten die ander geharde swamme en bakterieë wat onder daardie omstandighede kan leef.  Voeg geskeurde koerantpapier of eierkartonne by as dit te nat is.

Plasing van die wurmplaas

Plaas jou wurmplaas in die skaduwee.  Erdwurms kan nie in die son leef, te warm word of uitdroog nie.  ‘n Afdak aan die suidekant van die huis is ‘n goeie plek om jou wurmplaas te hou, veral as dit naby die kombuis is sodat jy die groente- en vrugteskille en vrot groente en vrugte daarin kan gooi.  Jy kan dit selfs in jou garage of op jou woonstelbalkon aanhou mits dit nie te warm word nie.

Sit die wurmplaas bo-op bakstene sodat jy die bottel vir die loog onder die dreineringsgaatjie in die bodem van die buitenste emmer kan kry.

Sorg dat die emmer effens oorhel in die rigting van die onderste gaatjie en die bottel anders dam die vloeistof aan die agterkant van die emmer op en dreineer nie uit nie.

Die produkte van ‘n wurmplaas

Die loog wat onder die emmer uittap vang ek in hierdie bottel op.  Dit is nodig om die loog af te tap anders bou die vloeistof in jou wurmplaas op en dan word dit anoksies en dit bevoordeel anaerobiese bakterieë en dan begin jou wurmplaas vrot en stink en jou wurms sal vrek.

Dit is donkerbruin en het ‘n organiese reuk, maar dit stink nie solank jy dit weekliks uitgooi nie.  Ek gooi dit oor my komposhoop, want dit is vol archaea, bakterieë, swamspore en protiste wat met kompostering help. Dit is te sterk om groeiende plante te bevoordeel en dit bevat talle baterieë en fitotoksiene wat nie goed vir hulle is nie, maar die mikroörganismes daarbinne is heeltemal bruikbaar om plantmateriaal op te breek.  Wurmloog is nie wurmtee nie, maak nie saak wat mense sê nie. Ongelukkig is dit hier waar meeste misverstande inkom.  Jy sal mense op vlooimarkte en skoue kry wat sogenaamde wurmtee ten duurste verkoop, maar ongelukkig is dit meestal verdunde wurmplaasloog.

Dit is hoe die wurmgrond lyk wat uit die wurmplaas kom.  Dit is vol erdwurm-mis wat propvol voedingstowwe en mikrobes is.  Mens weet dat dit reg is om te gebruik as die oorspronklike materiaal soos die eierdoppe, koerantpapier, groenteskille, karton en blare nie meer herkenbaar is nie en dit ‘n klam, bruin, krummelrige struktuur het.  Dit ruik ook soos grond.

Gooi die wurmgrond op ‘n plat oppervlakte uit en sorteer deur dit om sodoende die wurms te red sodat hulle nie versuip wanneer jy die wurmtee voorberei nie.

Omdat die wurmgrond uitstekende voedingstof vir plante is, werk mense dikwels dit direk in die grond in soos kompos.  Ek is egter skepties oor hierdie gebruik, want die Rooi komposwurm (Eisenia foetida), wat oorspronkik uit Europa kom, is uitheems en as dit uitheems is, is dit net so ‘n indringer-dier as Indiese spreeus of die Vraatsige Koeëlgatboorder-kewers (Euwallacea fornicatus), veral as dit suksesvol kompeteer met ons inheemse erdwurms of enige van die organismes wat van die inheemse erdwurms afhanklik is, benadeel.

Maak jou eie wurmtee

Wurmtee is die uiteindelike produk wat jy wil hê om jou plante te bemes. Mens gebruik hierdie wurmgrond om wurmtee te maak.

Jy benodig:

  • Wurmgrond
  • Ou sykous
  • Melasse
  • Groot emmer
  • Akwarium lugpompie en lugsteentjie (as jy nie reeds ‘n akwarium met ‘n lugpompie en lugsteentjie het wat jy vir ‘n paar dae kan gebruik nie, sal dit jou duurste uitgawe vir die wurmtee-makery wees. Alles behoort jou nie meer as R200 te kos nie).
  • Munisipale water wat ‘n ruk gestaan het, reënwater of boorgatwater.

Metode:

Vul die emmer met munisipale water wat vir ‘n dag of twee gestaan het, reënwater uit jou watertenk of boorgatwater.  Moenie kraanwater net so gebruik nie, want die chloor daarin sal die mikrobes in die wurmgrond laat vrek.

Stop die wurmgrond in die ou sykous en knoop dit toe.  Jy kan die kous maar bo die knoop afsny.

Sit die volgestopte sykous binne die emmer met water in en laat dit vir ‘n dag week sodat die mikrobes in die sykous in die water kom.

Sit die lugsteentjie in die emmer vol water en laat die lug deur die water borrel.

Gooi ‘n desertlepel melasse of bruin suiker in ‘n koppie met warm water en roer dit tot dit ‘n loperige dun stropie word.  Laat dit bietjie afkoel en gooi dit dan as dit louwarm is in die water in die emmer.  Herhaal dit twee tot drie keer deur die dag vir die volgende twee dae.  Mens doen dit om die goeie aerobiese bakterieë te voed terwyl dit die anaerobiese bakterieë, wat jy nie wil hê nie, laat vrek.

Na drie dae het die water ‘n donker goue kleur.  Nou dit is die eintlike wurmtee wat jy vir jou plante gee.  Sommige mense spuit die wurmtee sommer bo-oor die plant, want hulle glo die “vloeibare goud” het benewens die voedsame eienskappe ook anti-bakteriële en anti-swam eienskappe.

Jy moet die wurmtee dadelik gebruik, want dit word al hoe minder lewenskragtig hoe langer dit staan.  Die hele rede vir al hierdie werk is om lewendige stikstofbinende bakterieë in die grond te sit om jou plante te baat.  As daar genoeg voedingstof vir hulle in die grond is sal hulle voortgaan om stikstofryke molekules uit die lug te maak wat jou plante benodig.  Moenie wurmtee in bottels by mense koop nie – hoe lank dink jy het dit daar in die bottel gestaan terwyl die aerobiese bakterieë nie lug of kos gekry het nie?

Die wurmplaas is werklik ‘n uitstekende bate vir enige huishouding wat ‘n groentetuin en ‘n komposhoop het.  Dit is egter so kompak dat mense met ‘n balkontuintjie of klein tuintjie of selfs net potplante dit, in plaas van ‘n komposhoop, kan gebruik.  Wurmtee het dalk nie die veselmassa van kompos en die gepaardgaande swamme wat goed vir die grond is nie, maar dit is propvol mikrobes soos archaea en bakterieë (veral die aerobiese stikstofbindende en die nitrifiserende bakterieë wat jy soek), protiste, swamspore, skadelose nematode en voedingstowwe wat uitstekend vir plante en die grondekologie oor die algemeen is.

Die wurmplaas help mens ook om op ‘n volhoubare manier van organiese materiaal ontslae te raak sonder dat dit in die kombuisasblik vir dae ophoop en begin stink.  Die wurms en swamme in die wurmplaas is so fluks dat hulle al die plantaardige kombuisafval (buiten uie, knoffel, sitrus en chillies natuurlik), eierdoppe en eierkartonne so vinnig en effektief verwerk dat ons 25 liter emmer eers na ‘n jaar tot bo vol was.  As mens die wurmgrond egter gereeld (sê nou maar maandeliks) uithaal, sal dit nog langer neem vir die emmer om vol te word.  En as jou familie soveel groente- en vrugteafval genereer dat die emmer vinnig vol word, is dit dalk ‘n aanduiding dat jy ‘n groter wurmplaas of ‘n tweede wurmplaas moet begin.

Sommige mense spuit die wurmtee met ‘n spuitbottel oor hul groentetuin.  Ek sit dit in ‘n gieter en giet die wurmtee in die grond by elke plantjie uit en het tot dusvêr net goeie resultate gehad.

 

 

 

error: Content is protected !!