Die Geologiese Tydskaal

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Die Geologiese Tydskaal

May 6, 2020 Geologiese Tydskaal 0

deur François Durand

Die Geologiese Tydskaal is die produk van meer as ‘n eeu se samewerking tussen geoloë en paleontoloë om ‘n skaal daar te stel waarvolgens ons sedimentêre gesteentes wêreldwyd, op grond van die fossiele wat in spesifieke lae voorkom, van die oudste onder na die jongste bo, kan rangskik.

Daar was egter baie ander nuttige toepassings wat hieruit voortgespruit het.  Dieselfde fossiele wat in die gesteentes van verskillende kontinente voorkom het ons in staat gestel om Gondwanaland weer inmekaar te pas wat tot die studie van Plaattektoniek gelei het.

Voor die koms van radiometriese datering van rotse in die 20ste Eeu kon geoloë en paleontoloë fossieldraende geologiese lae in die korrekte volgorde van oudste tot jongste rangskik en ‘n idee van die relatiewe ouderdom van gesteentes kry.  Dit was die fondasie waarop die Geologiese Tydskaal gebou is.  Vandag kan ons geologiese lae met behulp van fossiele, radiometriese datering en paleomagnetisme tot verstommende vlakke van akkuraatheid dateer.

Die Geologiese Tydskaal word deurentyd hersien en verfyn soos wat nuwe inligting aan die lig kom wat ons in staat stel om die tydperke van die Geologiese Tydskaal  al hoe akkurater te dateer en al hoe fyner te kan onderverdeel.  Die Internasionale Kommissie oor Stratigrafie (IKS) is verantwoordelik vir die hersiening en opdatering van die Geologiese Tydskaal.

(‘n Nota vir die ongeïnisieërdes – mens lees ‘n Geologiese Tydskaal net soos ‘n biostratrigrafiese tabel of ‘n geologiese kaart van onder na bo – van oudste na jongste.)

Geologiese Tydskaal tabel

Geologiese Tydskaal Woordelys:

Actinopteygii – sien straalvinvisse

Agnatha – sien kaaklose visse.

Akritarge (acritarchs) is ronde mikrofossiele wat in sedimentêre rotse vanaf ongeveer 2150 miljoen jaar gelede (Mjg) voorkom.  Hulle beskermende doppe bestaan uit kerogeen.  Dis nog onseker wat die biologiese verwantskappe van akritarge is en die voorstelle wissel vanaf eiers van klein metazoa, tot groenalg-kiste, of dat verskillende akritargsoorte eintlik die verskillende lewensstadiums van die voorouers van dinoflagellate was.  Akritarge het dikwels haaragtige stekels.

Amfibieërs (amphibians) is tetrapode wat aan die Klas Amphibia hoort.  Hierdie groep, wat vanuit die lobvinvisse ontstaan het, se fossiele verskyn vir die eerste keer in die Devoon, ongeveer 390 Mjg.  Hierdie eerste landlewende werweldiere, wat ons ook die basale tetrapode noem, het waarskynlik oorspronklik net op land gekom om te jag terwyl hulle die res van die tyd in mere, moerasse en riviere geleef het.  Mettertyd het meeste van hul nasate permanent op land geleef en net na die water teruggekeer om daar voort te plant.  Hulle is dan ook die enigste tetrapode wat ‘n larwale stadium in hulle ontwikkeling het.  Amfibieërs het naakte, klierryke velle wat hulle saam met ‘n verskeidenheid van organe soos longe, kiewe (in larwes en sekere volwassene diere soos die Axalotl), mondvel vir respirasie gebruik.  Hulle het drie hartkamers om die dubbele bloedsirkulasie meer effektief te fasiliteer en sintuie wat aangepas is om buite water te funksioneer.  Hulle skelette is aangepas om hul gewig buite die water te ondersteun, hulle pote, heup- en skouergordels is aangepas vir beweging op land en hulle het ribbekaste om hul interne organe te beskerm.  Hulle is die eerste groep werweldiere wat nekke ontwikkel het.  Nekke laat kopbeweging toe.  Meeste bly in klam gebiede en het gedragspatrone ontwikkel om uitdroging te keer en om uithongering te voorkom – hulle is dus meestal naglewend en bly in gate of ander skuilplekke in die dag en hiberneer in die winter.  Amfibieërs was in die Karboon die dominante werweldiergroep op land maar was in die Perm deur die sinapsiede as dominante werweldiergroep vervang wat amfibieërdiversiteit erg geraak het – die Subklasse Anthracosauria en Temnospondyli het verdwyn en slegs die Subklas Lissamphibia (wat die moderne amfibieërs insluit) het oorgebly.  Moderne amfibieërs hoort aan die Orde Anura (paddas en skurwepaddas), die Orde Urodela en die Orde Apoda (rubberwurms).  Daar is tans ongeveer 7 000 ekstante spesies bekend.

Ammoniet (ammonite) is ‘n tipe uitgestorwe kefalopood (Subklas Ammonoidea, Orde Cephalopoda) wat vanaf die Devoon tot met die K-T uitsterwing in oseane wêreldwyd voorgekom het.  Die harde doppe versteen goed en die verskillende spesies word as indeksfossiele in biostratigrafie en geochronologie gebruik.

Amniote (amniotes) sluit die reptiele, voëls en soogdiere in.  Dit is landlewende diere (alhoewel daar soorte soos die voorouers van die Cetacea en Sirenia wat later seelewend geword het) wat eiers buite die water lê.  Die amnioot-eier het ‘n amnion membraan wat die embrio omhul.  Hierdie eiers het leeragtige of kalkagtige doppe wat die inhoud van die eier teen uitdroging beskerm en word dus buite die water gelê.  Die dooier binne die eier dien as kosbron wat die embrio onderhou.  In die geval van amfibieërs moet die larwes op ‘n baie vroeë stadium van hul ontwikkeling uitbroei om hul eie kos te vind.  Amniote het dus nie ‘n larwale stadium in hul ontwikkeling nie.  Lewendbarende amniote het eiers met ontwikkeling in ‘n baarmoeder vervang.

Angiosperme (angiosperms) – sien blomplante.

Anomalokariede (anomolocarids) – sien Radiodonta.

Archaea is ‘n groep mikroskopiese prokariote wat meestal net soos bakterieë lyk.  Oorspronklik was hulle dus ook as bakterieë geklassifiseer maar biochemiese en genetiese inligting dui daarop dat Archaea nader aan eukariote as aan bakterieë verwant is.  Archaea kom oral voor, maar is veral volop in die see.  Archaea kom selfs in omgewings voor wat gekenmerk word aan hul uiterste temperature, hoë soutkonsentrasies of giftigheid en waar geen ander organismes kan leef nie.  Sekere Archaea vorm deel van die mikrobiota van alle organismes uit en kom in die derms, mond en op die vel van diere, insluitend die mens, voor.

Argeïkum Eon (Archaean Eon) (4.54 – 2.50 Ga).  Dit is die tydperk toe die Aarde se kors begin afkoel het, kontinente begin vorm het en die eerste lewe en ‘n suurstofryke atmosfeer ontstaan het.

Arthropode (arthropods) – sien geleedpotiges.

Ascomycota – sien sakswamme.

Astrobleem (astrobleme) verwys na die verweerde oorblyfsels van ‘n meteoriet-impak.

Asthenosfeer (asthenosphere) is die beweeglike, plooibare boonste deel van die Aarde se mantel.  Dit lê onder die litosfeer op ‘n diepte van ongeveer 80-200 km.  Die asthenosfeer is amper solied, alhoewel sekere dele in ‘n gesmelte toestand mag verkeer.

Atmosferiese CO2 (atmospheric CO2) verwys na die hoeveelheid koolsuurgas daar in die atmosfeer is.  Die hoeveelheid daarvan styg en daal weens sekere invloede soos vulkanisme en uitlaatgasse.

Australopithecus afarensis is ‘n hominien wat ongeveer 2 tot 3 miljoen jaar gelede in Oos Afrika voorgekom het.  Dit is naverwant en waarskynlik die voorouer van ons eie Australopithecus africanus.

Austropithecus africanus is ‘n hominien wat ongeveer 2-3 miljoen jaar gelede in Suid-Afrika voorgekom het.  Australopithecus afarensis van Oos Afrika was waarskynlik A. africanus se voorsaat terwyl A. africanus die voorsaat van Homo habilis was.  Raymond Dart en Robert Broom het die eerste Australopithecus fossiele beskryf.

Bakterieë (bacteria) is ‘n groep prokariote en sluit van die eerste lewe op Aarde waarvan ons weet in.  Hulle lyk baie soos die Archaea maar vorm aparte taksonomiese groep.  Bakterieë is die volopste organismes op Aarde en kom in elke denkbare ekostelsel voor.  Die ekologie hang grootliks van die bestaan van bakterieë af.  Sonder bakterieë sou ander organismes, veral eukariote, nie kon bestaan het nie.  Sianobakterieë was verantwoordelik vir ons suurstofryke atmosfeer.  Bakterieë het oorsprong aan mitochondria en chloroplaste gegee.

Basale tetrapode (basal tetrapods) of stam-tetrapode (stem tetrapods) – sien amfibieërs.

Belemniet (belemnite) was ‘n inkvis-tipe kefalopood wat vanaf die Laat Trias tot die Laat Kryt bestaan het.  Die belemniete het, anders as ander weekdiere, ‘n interne keëlvormige skulp gehad wat hul liggame ondersteun het.  Fossiele van hul skulpe kom wêreldwyd in Mesosoïkum gesteentes voor.

Bennetitales is ‘n uitgestorwe saadplantorde wat in die Perm verskyn het en teen die einde van die Kryt wêreldwyd uitgesterf, buiten in Tasmanië en Oos Australië, waar hulle tot in die Oligoseen oorleef het.  Oorspronklik het mense gedink dat hulle broodbome was omdat hul blare ooreenstem met dié van broodbome maar Bennetitales het, anders as broodbome, blomagtige voortplantingsorgane gehad.

Biosone (biozone) is ‘n eenheid wat in biostratigrafie gebruik word.  ‘n Biosone word gekenmerk aan die hand van sekere fossielspesies wat daarin voorkom eerder as die litologie.  Dit verskil van ‘n litostratigrafiese eenheid wat op grond van litologiese eienskappe geïdentifiseer word.  As ‘n sekere fossielspesies tot ‘n spesifieke biostratigrafiese eenheid beperk word en dit vir die doeleindes van biostratigrafie gebruik kan word, word dit ‘n indeksfossiel genoem.  Die grens tussen twee duidelik identifiseerbare biostratigrafiese eenhede word ‘n biohorison genoem.  Die rangskikking van biostratigrafiese eenhede in ‘n opeenvolging van oud na jonk word biosonasie genoem.

Biostratigrafie (biostratigraphy) – is die rangskikking van biosones van oud (onder) na jonk (bo).

Blomplante (flowering plants) of angiosperme is plante wat met behulp van blomme voortplant.  Angiosperme (bedeksadiges) word volgens die saadlobbe in die sade in twee- of eensaadlobbiges verdeel.  Spesiegewys kom daar meer blomplante op Aarde as enige ander groep plante voor.  Meeste blomplante benodig bestuiwers, meestal insekte, om hulle te bestuif, ander is windbestuiwers.

Bosveldstollingskompleks (Bushveld Igneous Complex) is die grootste gelaagde indringing in die aarkors ter wêreld.  Dit is een van die rykste mineraalafsettings in die wêreld en bevat die wêreld se grootste konsentrasie van platinum-groep minerale wat platinum, palladium, osmium, iridium, rhodium en ruthenium insluit en op die koop toe bevat dit ook ‘n reuse hoeveelheid yster, tin, chromium, titanium en vanadium.

Brachiopood (brachiopod) behoort aan die Filum Brachiopoda.  Dit is ‘n groep filtervoeders wat twee harde skulpagtige doppe bo en onder die liggaam vir beskerming het.  Hierdie doppe lyk soos die skulpe van Tweekleppiges (Bivalvia, Mollusca) maar in meeste spesies is die boonste dop ietwat groter as die onderste een.  Hierdie doppe is aan die agterkant met ‘n skarnier aanmekaar gekoppel eerder as aan die kant soos dié van tweekleppiges.  Brachiopode word in twee groepe verdeel nl. die beweeglike groep wat hul doppe met ‘n skarnier kan oopmaak en die onbeweeglike groep wat hul doppe met ‘n komplekse stelsel van spiere en bindweefsel in plek hou.  In meeste spesies word die liggaam net ‘n steelagtige pedikel aan ‘n rots of koraalrif vasgeanker.  Hulle voed m.b.v. ‘n lofofoor wat ‘n terugtrekbare gesilieërde tentakelkroon rondom die mond is.

Bronstydperk (Bronze Age) is ‘n geskiedkundige tydperk wat vanaf ongeveer 5200 jaar gelede tot sowat 2600 jaar gelede in Europa geduur het.  Die term Bronstydperk wissel van subkontinent tot subkontinent want dit word bepaal deur die tegnologiese vaardighede wat op verskillende tydperke in verskillende kulture ontwikkel het. Die Bronstydperk word gekenmerk aan sekere kulturele mylpale soos die ontwikkeling van metallurgie, die ontstaan van skrif, landbou en stede.

Broodbome (cycads) is saadplante wat gimnosperme is.  Hulle word anders as baie ander gimnosperme nie met behulp van wind bestuif nie, maar word met spesifieke gespesialiseerde bestuiwers, meestal kewers, bestuif.  Broodbome was in die oertyd baie meer volop en divers as die 300 spesies van drie families wat tans voorkom.  Hulle het gewoonlik ‘n kort houtagtige stam met ‘n kroon van harde en stywe geveerde blare.  Hulle is eenhuisig – m.a.w. individue is of manlik, of vroulik.  Hulle groei stadig en kan baie oud word.

Bryozoa – sien mosdiertjies.

Buideldier (marsupial) hoort aan die Superorde Marsupialia (of Metatheria) van die Klas Mammalia.  Meeste van hierdie besondere soogdiere wat in die Amerikas (Superorde Ameridelphia) en Australië (Superorde Australidelphia) voorkom, het ‘n buidelsak waarin die kleintjies na geboorte verder ontwikkel voordat hulle onafhanklik van die ma kan leef.

Calymmium (Calymmian) is die eerste geologiese periode in die Mesoproterosoïese Era en het vanaf 1600 – 1400 miljoen jaar gelede geduur.  Hierdie tydperk word deur die uitbreiding van platformdekkings bo-oor gekratoniseerde fondamentgesteentes gekenmerk.  Die Superkontinent Columbia het in hierdie tydperk begin opbreek.

Chicxulub-meteorietimpakkrater (Chicxulub meteorite impact crater) is ‘n impakkrater, van ongeveer 150 km wyd en 20 km diep, wat onder die see, op die seevloer langs die Yucatán Skiereiland van Meksiko voorkom.  Dit was gevorm toe ‘n meteoriet van 10 – 15 km in deursneë die Aarde ongeveer 66 miljoen jaar gelede getref het.  Hierdie impak het ‘n geweldige effek op die Aarde se klimaat gehad en was verantwoordelik vir die einde van die Kryt Periode wat gekenmerk word aan die uitwissing van tot ongeveer 75% van alle plant en dierspesies, insluitende die reuse reptiele soos dinosauriërs, pterosaurërs en mosasauriërs verdwyn het.

Chromiste (chromists) hoort aan die Koninkryk Chromista.  Die chromiste sluit die bruinalge en hul verwante soos waterskimmels, dinoflagellate en foraminerere in.  Bruinalge was oorspronklik as plante (Koninkryk Plantae) geklassifiseer maar nou word dit as deel van ‘n aparte koninkryk beskou.  Die Chromista word in die Heterokonta, Haptophyta en Cryptomonada ingedeel.  Die Chromista word gekenmerk aan die feit dat hulle plastiede bevat wat deur vier membrane omhul is.  Hierdie plastiede is soortgelyk aan dié wat in rooialge voorkom.  Alles dui daarop dat die Chromista se plastiede verkry is deur die insluiting van enkelsellige rooialge binne die sel net soos wat die plantvoorouers, en trouens die rooialge oorspronklik, sianobakterieë binne hul selle opgeneem het.  Chromista bestaan uit eensellige tot reuse meersellige organismes wat plastiede met chlorofil c besit en gewoonlik twee flagella wat verskillend lyk besit.

Columbia wat ook as Nuna of Hudsonland bekend staan, was een van die Aarde se eerste superkontinente.  Dit het ongeveer 2 500 – 1 500 miljoen jaar gelede in die Paleoproterosoïese Era bestaan.  Columbia het uit protokratons bestaan wat vandag die kontinentkerne van Australië, Indië, Suider Afrika, Kongo, dele van Asië en dele Noord- en Suid-Amerika vorm.

Cryogenium (Cryogenian) is die geologiese periode tussen 720 – 635 miljoen jaar gelede.  Dit is die tydperk net voor die Ediakariese organismes ontstaan het.  Die Sturtiaanse en Marinoaanse Ystydperke, wat die grootste en langste ystydperke ooit was, het in hierdie tydperk plaasgevind.

Cynodonte – sien kuonodonte.

Devoon Periode (Devonian Period) (419.2-358.9 Mjg) is die tydperk waartydens die eerste sakswamme, heksapoda, tetrapode, wolfskloue, perdesterte, varings en saaddraende plante en bome verskyn.  Visse met kake – die placoderms, lobvinvisse, straalvinvisse en primitiewe haaie – heers in die see terwyl die kaaklose visse en trilobiete al minder word.

Dicroidium is ‘n uitgestorwe saadvaring-genus wat regoor Gondwanaland gedurende die Trias Periode voorgekom het.  Hul fossiele word in Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland Suid-Amerika en Antarktika gevind.  Die verspreiding van Dicroidium zuberi is een van die fossielspesies wat ons in staat gestel het om die bestaan van Gondwanaland te bevestig.

Dier (animal) is ‘n meersellige eukariotiese heterotroof wat aan die Koninkryk Animalia hoort.  Diere se selle het ook nie selwande nie – ‘n kenmerk wat hulle van swamme onderskei.  Die oudste diere is mikroskopiese sponse.  Daar is reeds meer as 1.5 miljoen ekstante dierspesies bekend, maar daar is na berekening moontlik meer as 7 miljoen tot dusver onbekende dierspesies – veral nematode en insekte.  Diere wissel in grootte van Myxobolus shekel, ‘n parasitiese neteldier van 8.5 mikrometer, tot die blouwalvis wat 33.5 m lank word.  Die studie van diere is dierkunde.

Dinoflagellate (dinoflagellates) is eensellige lede van die Filum Miozoa van die Koninkryk Chromista wat wêreldwyd in oseane en varswater voorkom.  Talle dinoflagellate kan fotosinteer maar is inderwaarheid miksotropies wat bedoel dat hulle fotosinteer terwyl hulle ook op ander organismes kan voed.  Getallegewys is dinoflagellate die grootste groep mariene eukariote.  Dinoflagellate het twee flagella wat van mekaar verskil.

Dinosauriër (dinosaurian) is ‘n lid van die Archosauria wat tussen 240-65 miljoen jaar gelede geleef het.  Strenggesproke het dinosauriërs nie uitgesterf nie aangesien voëls ook dinosauriërs is.  Ons praat deesdae van die uitsterwing van die “nie-voël dinosauriërs” (non-avian dinosaurs) aan die einde  an die Kryt.  Die dinosauriërs is ‘n diverse groep reptiele wat in die Mesosoïkum bestaan het wat die Ordes Ornithischia en Saurischia insluit.  Dinosauriërs het in die Jura die dominante landlewende werweldiere geword.  Dinosourër fossiele kom wêreldwyd in Mesosoïkum ouderdom sedimentêre gesteentes, wat op land afgeset is, voor.  Daar is reeds meer as ‘n duisend nie-voël dinosauriër spesies bekend.  Hierdie diere het in grootte gewissel van piepklein mossie-grootte diertjies tot reuse diere waarvan sommige tot  40 m lank geword het en ander wat 18 m hoog gestaan het.  Hulle het baie terrestriële nisse beset en sommige was karnivore, insluitende die top-predatore, aasdiere, plantvreters en omivore.  Hulle kon egter nie vlieg soos die pterosauriërs of in die see swem soos die plesiosauriërs nie.  Die pterosauriërs is verlangs aan dinosauriërs verwant.

Divisie is ‘n taksonomiese vlakbenaming in die Linneaanse Klassifikasiestelsel wat twee betekenisse kan hê: Divisie in plantkunde het dieselfde betekenis as Filum wat deur die res van die biologiese wetenskappe gebruik word.  Divisie word deur dierkundiges gebruik om die taksonomiese vlak onder Infraklas en bo Kohort aan te dui.

Duisendpoot (millipede) is lang geleedpotiges wat twee paar pote op hule segmente het.  Elke segment is inderwaarheid twee saamgesmelte segmente.  Duisendpote wat van die eerste landlewende diere is, is stadigbewegende detritusvreters.

Echinoderms of stekelhuidiges, wat seediere soos seesterre, seepampoentjies, seekomkommers, seelelies ens. insluit, hoort aan die Filum Echinodermata. Echinoderms verskyn vir die eerste keer in die Vroeë Kambrium.  Hulle vyfvoudige radiale (pentaradiale) simmetrie onderskei hulle van ander diergroepe. Danksy hul kalsiumryke liggaamsdele wat maklik fossiliseer en hul wêreldwye verspreiding, word hulle as indeksfossiele in biostratigrafie gebruik.

Ectasium Periode (Ectasian Period) (1400 – 1200 Mjg) is die tweede Periode in die Mesoproterosoïese Era.  Hierdie tydperk word aan die uitbreiding van platformdekkings oor die kratoniese fondamente op land gekenmerk.  Die oudste bewys van geslagtelike voortplanting en eukariote kom in die fossielrekord aan die einde van hierdie tydperk voor.  Fossiele van die meersellige rooialg Bangiomorpha pubescens kom in die 1.2 Ga oue Hunting Formasie van Somerset Eiland in Kanada voor.  Rooialge is bekend daarvoor dat hulle geslagtelik voortplant.  Meerselligheid het saam met geslagtelike voortplanting ontstaan.

Ediacarium Periode (Ediacaran Period) (635-541 Mjg).  Die Ediacarium vorm die einde van die Proterosoïese Eon.  Die naam is van die Ediacara Heuwels in Suid-Australië afgelei.  Die eerste ediakariese biota is in die Enorama Spruit in die Flinders Berge van Suid-Australië ontdek.  Hierdie tydperk word gekenmerk aan die verspreiding van meersellige organismes en die verskyning van die eerste diere.

Ediakariese biota (Ediacaran biota) sluit die verskyning van die eerste diere in die vorm van sponse in.  Later verskyn klein trilobietagtige diertjies in die opeenvolging.  Fossiele van kwalle en talle vreemde sakagtige, skyfvormige en kwiltagtige organismes – die Ediakariese biota – verskyn wêreldwyd in sedimente van die Laat Proterosoïese Eon.  Tot dusvêr kon niemand hulle verwantskap aan lewende (ekstante) organismes bepaal nie en dit is moontlik dat hulle aan ‘n unieke meersellige Koninkryk bestaan het wat uitgesterf het.  Spoorfossiele van wurmagtige diertjies soos Trichophycus word ook in hierdie typerk gevind.

Eerste voëls (first birds) is ‘n groep vlieënde diere wat in die Jura Periode vanuit warmbloedige geveerde theropood dinosauriërs, genaamd die Paraves, ontstaan het.  Die benaming Klas Aves, wat ons vir bykans ‘n eeu gebruik het, is nie meer ‘n geldige takson nie want die voëls word reeds vir die laaste paar dekades as dinosauriërs beskou wat natuurlik aan die Klas Reptilia hoort.  Die eerste voëls het nog steeds tande, hande met kloue en lang gewerwelde sterte soos reptiele gehad.  Archaeopteryx lithographica is ‘n voorbeeld van so ‘n primitiewe voël.  Archaeopteryx het egter ook dekvere, donsvere en vlugvere net soos moderne voëls gehad.  As mens net na die vere kyk was Archaeopteryx ‘n voël, en as mens net na die skelet kyk was Archaeopteryx ‘n dinosauriër.

Eierlêende soogdiere (egg laying mammals) is die Monotremata of Prototheria.  Alhoewel hulle baie meer wydverspreid voorgekom het (monotreem fossiele is ook in Suid-Amerika gevind), kom hulle vandag slegs in Australië en Nieu-Guineë voor.  Die Monotremata verskil van die buideldiere (Marsupialia of Metatheria) en die plasentale soogdiere (Plasentalia of Eutheria) veral omdat hulle eiers lê.  Hulle het ook verskeie ander unieke anatomiese en fisiologiese kenmerke.

Ekstant (extant) bedoel bestaande.  Dit is die teenoorgestelde van uitgestorwe (extinct).  Mens moet nie ekstant met modern verwar nie.  Modern in biologiese of paleontologiese konteks bedoel om die kenmerke van moderne organismes te hê.  Daar is egter baie onlangs-uitgestorwe organismes met moderne kenmerke.

Eon (Eon / Aeon) is die hoofeenheid wat in die Geologiese Tydskaal gebruik word.  Die Eons word in volgorde, van oudste na jongste, in die: Hadeïkum, Argeïkum, Proterosoïkum en Fanerosoïkum gerangkskik.  Die Eons word in eras onderverdeel.  Hierdie onderverdelings word op grond van groot geologiese en biologiese gebeure gebaseer.  Hoe meer wydverspreid in die wêreldgeologie hierdie verskynsels voorkom, hoe meer relevant en bruikbaar word dit vir die Geologiese Tydskaal.

Eoseen Epog (Eocene Epoch) (56-33.9 Mjg) is die tweede epog van die Paleogeen Periode van die Kainosoïkum Era.  Hierdie epog word aan die grootlikse afwesigheid van yskappe op die pole en ‘n hoë seevlak gekenmerk.  Ys begin weer aan die einde van hierdie epog in Antarktika opbou.  Oersoogdiere soos kreodonte floreer, verskeie moderne soogdierfamilies ontstaan en primitiewe walvisse diversifiseer in hierdie tydperk.  Die Indiese kontinentale plaat bots met Eurasiese kontinentale plaat en die Himalajas begin vorm.

Epog is ‘n onderverdeling van ‘n Periode in die Geologiese Tydskaal.  Dit word weer in Etages onderverdeel.

Era is ‘n onderverdeling van ‘n Eon in die Geologiese Tydskaal.  Eras word weer in Periodes opverdeel.

Eukariote (eukaryotes) is organismes wat aan die Domein Eukarya hoort.  Eukariotiese organismes se selle bevat dubbelmembraanorganelle (soos mitochondria en plastiede) en ‘n kern wat uit ‘n kernmembraan wat die DNS omhul bestaan.  Eukariotiese organismes sluit eensellige organismes soos protiste en sekere lede van die bruinalge en groenalge in en meersellige organismes soos plante, diere en swamme in.

Fanerosoïkum of Fanerosoïese Eon (Phanerozoic Eon) is die huidige geologiese tydperk waarin ons bevind (ons leef natuurlik in die laaste sekonde van hierdie tydperk wat 542 miljoen jaar gelede aangebreek het).  Hierdie eon word gekenmerk aan die verskyning van diere met eksoskelette en talle dierfilums, waarvan meeste vandag nog bestaan.  Dit het in die Kambrium ongeveer 542 miljoen jaar gelede plaasgevind en word die “Kambriese Ontploffing” genoem.  Die evolusie van hierdie filums in uiteenlopende vorme, die ontwikkeling van komplekse plante, die evolusie van visse en die ontstaan van insekte en tetrapode vind in hierdie tydperk plaas. In dié tyd het al die kontinentemassas (wat nie dieselfde vorm as die huidige kontinente gehad het nie) na mekaar toe beweeg en een landmassa, Pangea, gevorm wat later weer opgebreek en so die huidige kontinente gevorm het.

Foraminifera (Foraminifera) is ‘n takson van eensellige eukariotiese organismes wat onder die Koninkryk Chromista resorteer.  Formaninifere (die algemene benaming vir die groep) is bedek met ‘n dop wat uit chitien, kalsiumkarbonaat of saamgeplakte sediment bestaan wat geredelik fossiliseer.  Die naam Foraminifera is van die een tot meervoudige openinge in hulle doppe, waardeur pseudopodia uitsteek, afgelei.  Meeste is marien waar hulle ‘n bentiese bestaan voer – m.a.w. hulle leef in of bo-op die seevloer, terwyl ander weer in die seewater ronddryf.  ‘n Klein hoeveelheid is vars- en brakwaterlewend en ‘n handjievol kom in klam grond voor.  Hulle wissel van kleiner as 1 mm tot oor die 20 cm groot (wat baie groot vir ‘n eensellige organisme is).  Meer as 50 000 spesies is bekend waarvan 10 000 ekstant is en 40 000 in die fossielrekord voorkom.

Fossiel (fossil) is die versteende oorblyfsels van organismes of dele daarvan, soos been, skulpe, eksoskelette, hout, blare, of hul produkte soos spore, tonnels, mis, boomgom, stuifmeel ens.

Fungi – sien swamme.

Furongium (Furongian) (497- 485.4 Mjg) is die vierde en laaste onderafdeling van die Kambrium.  Die onderste grens word bepaal deur die eerste verskyning van die trilobiet Glyptagnostus reticulatus 497 Mjg en die boonste grens word bepaal deur die verskyning van die konodont Iapetognathus fluctivagus 485.4 Mjg.

Ga (Ga) – giga annum, m.a.w. miljard jaar gelede.

Geartikuleerde brachiopood (articulated brachiopod) – sien brachiopood.

Gebande ystersteenformasies (banded ironstone formations, BIF) is kenmerkende Prekambriese geologiese formasies wat wêreldwyd voorkom.  ‘n Gebande ystersteenformasie bestaan uit herhalende dun lagies van ‘n paar millimeter tot ‘n paar sentimeter dik.  Die lagies bestaan uit donker persbruin tot swart magnetiet (Fe3O4) of hematiet (Fe2O3) en rooi tot wit yster-arm lagies skalie of chert.

Geleedpotiges (arthropods) behoort aan die Filum Arthropoda.  Dit is spesiegewys die mees diverse groep organismes op die planeet.  Dit sluit die honderdpote, duisendpote, krustaseë, insekte en arachniede in.  Geleedpotiges speel ‘n uiters belangrike ekologiese rol in elke denkbare omgewing op Aarde.

Geochronologie (geochronology) is die datering van gesteentes d.m.v. verskeie tegnieke, o.a. radiometriese datering, biostratigrafie (opeenvolging van fossiellae) en paleomagnitisme.

Gepanserde kaaklose vis (armoured jawless fish) of Ostracodermi het wêreldwyd in die oseane tydens die Paleosoïkum voorgekom.  Die term Ostracodermi word nie meer in moderne klassifikasie van visse gebruik nie want dit het duidelik geword dat hierdie groep parafileties of polifileties is en dus nie in klassifikasie gebruik kan word nie.  Die benaming bly egter populêr maar dit word net informeel gebruik.  Die gepanserde kaaklose visse was die eerste diere wat nie hul kiewe vir filtervoeding gebruik het nie, maar vir respirasie.  Die kop van hierdie visse was omhul met ‘n beenplaat vir beskerming en die res van die lyf was met harde beenskubbe bedek wat as beweeglike pantser gedien het.  Alhoewel die lyf buite-om met ‘n beenpantser bedek was, was daar ‘n buigbare notochoord in plek van ‘n kraakbeen of benige rugstring.  Hulle het in die Siluur ontstaan en teen die einde van die Devoon uitgesterf, waarskynlik omdat hulle nie teen die kaakvisse kon kers vashou nie.

Gepanserde kaakvis (armoured jawed fish) of Placodermi was die van eerste visse met kake.  Placodermi het, soos die Ostracodermi, vanaf die Siluur tot die Devoon in oseane wêreldwyd voorgekom.  Hulle koppe was met geartikuleerde beenplate bedek en sekere spesies het skubbe gehad terwyl ander naak was.  Gepanserde kaakvisse was die eerste visse wat pelviese vinne en tande ontwikkel het.

Gevleuelde insek (winged insect) – sien insekte.

Gimnosperme (gymnosperms) of naaksadiges is saadplante wat naakte sade in ‘n verskeidenheid van keëls of ander oop strukture dra.  Meeste word deur wind bestuif, alhoewel ander soos die broodboom deur kewers bestuif word.  Alle gimnosperme is houtagtig en meeste van hulle kom as bome voor.  Gimnosperme het in die Karboon vanuit progimnosperme ontstaan.  Die ekstante gimnospermfilums is die Cycadophyta (broodbome), Ginkgophyta (ginkos), Gnetophyta (Welwitschia en verwante) en die Pinophyta (Dennebome, Sipresse, Rooihout, Geelhout en verwante) en die uitgestorwe Pteridospermales (saadvarings) en Cordaitales.  Die gimnosperme was tydens die Mesosoïkum die dominante landplante maar is na die K-T massa-uitsterwing deur blomplante as die dominante landplante vervang.

Glossopteris was ‘n genus plante wat tydens die Perm Periode die dominante landplante was.  Hulle het gewissel in grootte vanaf struike tot bome.  Daar is twee mooi ongeveer 30 m lang fossielboomstompe wat mens kan sien – die een is voor die Transvaal Museum en die ander langs die Harrismith Stadsaal.  Die NG Kerk in Senekal is ommuur met fossielboomstompe.   Dit blyk dat hierdie stompe aan Glossopteris behoort het.  Ons groot steenkoolafsettings was gevorm toe die koolstof van miljarde tonne Glossopteris blare in daardie lae behoue gebly het.  Mens kan regdeur die noordelike deel van die Karoo Supergroep fossielblare van Glossopteris vind.

Gnathostomata verwys na werweldiere met kake.  Dit sluit alle visse, buiten kaaklose visse (lampreie en slymprikke), en amfibieërs, reptiele (insluitend voëls) en soogdiere in.

Gondwanaland (Gondwana) is die suidelike superkontinent wat vanaf 550 – 180 miljoen jaar gelede bestaan het.  Dit het uit die gekombineerde landmassas wat vandag bekend staan as Afrika, Suid-Amerika, Indië, Madagaskar, Antarktika en Australië bestaan.  Gondwanaland was in die noorde, naby die ewenaar aan die noordelike superkontinent Laurasië gekoppel om tesame die superkontinent Pangea te vorm.

Graptoliete (graptolites) is klein uitgestorwe diertjies wat as individuele sooïede in kolonies geleef het.  Hulle het aan die Subklas Graptolithina van die Klas Pterobranchia van die Filum Hemichordata gehoort.  Die harde liggaamsdele van die Graptoliete word in die fossielrekord bewaar en dit lyk soos krapmerkies op rotse – vandaar die naam van die groep (Grieks graptos = “geskryf”).  Hulle het in die Kambrium ontstaan en gediversifiseer.  Hulle wêreldwye verspreiding maak hulle baie nuttige indeksfossiele.  Geologiese lae van die Devoon en Siluur kan in verskillende biosones onderverdeel word op grond van die verskillende spesies en families van graptoliete wat daarin voorkom.  Die ystydperk aan die einde van die Ordovisium het meeste graptoliete, buiten vir die Superfamilie Neograptina, uitgewis.  Die Neograptina het tot in die Karboon oorleef.

Groot Amerikaanse Uitruiling of Groot Amerikaanse Fauna Uitruiling (Great American Interchange, Great American Faunal Interchange) was ‘n belangrike paleosoögeografiese gebeurtenis wat in die Laat Kainosoïkum, vanaf ongeveer 2.7 Mjg in die Amerikas plaasgevind het.  Hierdie gebeurtenis was voorafgegaan deur die Panama landengte wat tussen Noord- en Suid-Amerika deur orogenese en ‘n daling in die seevlak ontstaan het.  Hierdie landbrug het Noord- en Suid-Amerika gekoppel en soogdiere, reptiele, loopvoëls, amfibieërs, varswater visse en geleedpotiges kon tussen die twee kontinente migreer.  In baie gevalle het dit tot die uitwissing van die swakker nis-kompeteerders gelei.

Groenalge (green algae) is die primitiefste lede van die Koninkryk Plantae of te wel die plante.  Groenalge is see- en varswaterlewend en kan as enkel selle tot groot meersellige organismes voorkom.  Hulle word as die voorsate van landplante beskou.  Die voorsate van Groenalge het sianobakterieë in hul selle opgeneem waar dit in chloroplaste a en b verander het.

Grootape (great apes) of hominiede hoort aan die Familie Hominidae.  Die hominiede het agt ekstante spesies: die Sjimpansee (Pan troglodytes), Pigmiesjimpansee (Pan paniscus), Westelike gorilla Gorilla gorilla, Oostelike gorilla Gorilla beringei, Borneo orangoetang (Pongo pygmaeus), Tapanuli orangoetang (Pongo tapanuliensis), Sumatra orangoetang (Pongo abelii) en die mens (Homo sapiens).  Die hominiede sluit natuurlik al die uitgestorwe spesies, wat aan hulle naverwant is, in.  Die Homininae, wat onder die Hominidae val, sluit die mens, oermense en aapmense in.

Hadeïkum Eon (Hadean Eon) (4.6-4 Ga) is die oudste geologiese eon van die Geologiese Tydskaal.  Die oudste rotse op Aarde dateer uit hierdie era.

Heksapoda – is ‘n Subfilum onder die Filum Arthropoda wat al die insekte plus ‘n groep primitiewe, vluglose geleedpotiges met ses bene insluit.  Hierdie vluglose geleedpotiges is die Collembola (springsterte), Protura (keëlkoppe), Diplura (dubbelstert borselsterte), Archaeognatha (springende borselsterte) en Zygentoma (vismotte).  Hulle was oorspronklik as die Subklas Apterygota onder die Klas Insecta geklassifiseer, terwyl die insekte met vlerke (insluitende dié wat sekondêr hulle vlerke verloor het) onder die Subklas Pterygota geresorteer het.  Dit het onlangs verander en slegs die Pterygota word deesdae as die Klas Insecta beskou.

Holoseen Epog (Holocene Epoch) (11 650 jaar gelede tot vandag).  Dit is die tydperk na die laaste ystydperk.  Die Holoseen en die voorafgaande Pleistoseen vorm saam die Kwartêre Periode.  Die Holoseen word gekenmerk aan die vinnige aanwas en verspreiding van mense wêreldwyd met die gepaardgaande uitbreiding van jag, boerdery en industriële ontwikkeling.  Industriële ontwikkeling, mynbou, bosbou, landbou en visserye het tot die uitwissing van tallose spesies en talle habitatte wêreldwyd veroorsaak.

Homo erectus was ‘n groep oermense wat tydens die Pleistoseen ongeveer 2 miljoen jaar gelede in Afrika verskyn het en ongeveer 1.5 miljoen jaar gelede na Eurasië versprei het.  Hulle was die hominienspesies wat naas H. sapiens die wydste verspreiding gehad het.  Die laaste populasie H. erectus het tot ongeveer 117 000 – 108 000 jaar gelede in Java in Suidoos Asië voorgekom.  Sommige paleoantropoloë verkies om die fossiele van hierdie groep in twee spesies op te deel en dié van Afrika Homo ergaster te noem terwyl hulle dié van Eurasië Homo erectus noem.  Homo erectus fossiele word met die Acheuliese Steenwerktuigindustrie en die gebruik van vuur verbind.  H. erectus die waarskynlikste voorsaat van H. antecessor en H. floresiensis.  

Homo habilis is ‘n oermensspesie wat ongeveer 2.1 tot 1.5 miljoen jaar gelede tydens die Vroeë Pleistoseen in Oos-Afrika voorgekom het.  Hulle word met die Oldowan Steenwerktuigindustrie verbind wat na die Olduvai Ravyn in Tanzanië vernoem is.  Talle H. habilis fossiele is deur Mary en Louis Leakey in die Oldovai Ravyn ontdek en was deur Phillip Tobias beskryf en vernoem.  Daar heers ‘n debat onder paleoantropoloë of Homo habilis van Australopithecus africanus of A. afarensis gestam het.  Sommige paleoantropoloë is van mening dat H. habilis die voorsaat van H. erectus / H. ergaster was.  Alhoewel H. habilis ouer as H. ergaster is, was hulle, ook saam met Paranthropus robustus, vir ‘n tyd lank tydgenote en word hulle fossiele in lae van dieselfde ouderdom gevind.

Homo sapiens is die spesie waaraan die anatomies moderne mens behoort.  H. sapiens is die enigste oorlewende hominienspesies.  Die eerste anatomies moderne mense het ongeveer 300 000 gelede in Afrika onstaan.  Ons mees waarskynlike voorouer is Homo heidelbergensis waarvan fossiele in Europa en Afrika (insluitend Suid-Afrika) gevind is.  Ander paleoantropoloë dink dat Homo antecessor die waarskynlike voorouer van die H. sapiens mag wees.  H. sapiens is die enigste hominien wat ‘n kosmopolitaanse verspreiding het.

Ichthyosauriërs (ichthyosaurs) was mariene reptiele wat baie soos visse gelyk het – net soos dolfyne, wat soogdiere is, ook soos visse lyk.  Ichthyosauriërs het ongeveer 250 miljoen jaar gelede in die fossielrekord verskyn en het in die Mesosoïkum gediversifiseer.  Hulle was in die Jura Periode deur die Plesiosauriërs as die top-mariene predatore vervang maar ten minstens een spesies het nog tot in die Laat Kryt Periode voorgekom.

Indeksfossiel (index fossil) is ‘n fossiel van ‘n sekere spesie wat wydverspreid, maar vir ‘n beperkte tydperk, in die fossielrekord voorkom.  Die rotslaag waarin hierdie fossiele voorkom kan vir biostratigrafie doeleindes aangewend word.

Industiële CO2 (industrial CO2) is die koolsuurgas wat in die atmosfeer weens menslike aktiwiteite geplaas is, veral weens die gebruik van steenkool en olie as brandstof, ontbossing deur kap en brand en industriële ontwikkeling.

Insekte (insects) is die Klas Insecta wat saam met die vluglose heksapode aan die Subfilum Hexapoda aan die Filum Arthropoda hoort.  Hulle word gekenmerk aan ‘n eksoskelet van chitien, ses paar gelede pote, saamgestelde oë, een paar antennas en ‘n drieledige liggaamsverdeling (kop, toraks en abdomen).  Meeste insekspesies het lede met vlerke en dié wat nie vleke het nie, het dit verloor.  Daar is reeds meer as ‘n miljoen bekende spesies wat meer is as die somtotaal van al die ander spesies bekend op Aarde.  Daar word vermoed dat dit maar die oortjies van die seekoei is en dat daar van ses tot tien keer meer insekspesies op Aarde is wat net nog nie ontdek is nie.

Interglasiale tydperk (interglacial period) is die tydperk tussen twee ystydperke.  ‘n Interglasiale tydperk kan net soos ‘n ystydperk, derduisende jare duur.  Daar was reeds talle ystydperke op Aarde.  Tydens interglasiale typerke is die gemiddelde temperatuur warmer, die seevlak styg want minder water word in die vorm van ys op land gehou en die smeltwater vloei terug na die see, die poolkappe word kleiner terwyl die toendra verder noord en suid voorkom in die plekke waar daar voorheen ys was en woude die toendra vervang wat tydens die ystydperk in laer breedtegrade voorgekom het.

Invertebrate (invertebrates) of ongewerwelde diere verwys na diere wat nie skelette het nie, m.a.w. alle diere buiten die werweldiere van die Subfilum Vertebrata.  Dit is egter ‘n baie lukrake en onwetenskaplike term en is eintlik betekenisloos buiten vir werweldiere soos ons vir wie dit op subjektiewe vlak baie beteken.  Om te illustreer: daar is 36 filums diere op Aarde waarvan almal invertebrate is buiten vir een van drie subfilums binne die Filum Chordata waarvan die ander twee subfilums invertebrate bevat.  Dan moet jy nou ook in gedagte hou dat drie visklasse binne die Subfilum Vertebrata – die lampreie, slympalings en rotvisse -ten spyte daarvan dat hulle nie werwels het nie, as werweldiere geklassifiseer word.  As mens die ongeveer 70 000 werweldiere sover bekend, met die ongeveer 1.5 miljoen bekende spesies ongewerweldes vergelyk, en in gedagte hou dat daar tussen 6-10 miljoen tot dusver onontdekte insekspesies mag wees, moet mens herken dat ons eintlik maar net van diere moet praat.  Trouens, daar is meer slakspesies as werweldierspesies op Aarde – en dit is ‘n nederige gedagte.

Jellievis – sien Kwal.

Jura Periode (Jurassic Period) (201.3-145 Mjg) is die middelste tydperk van die Mesosoïkum Era.  Die tydperk begin net na die groot massa-uitsterwing wat die einde van die Trias aantoon.  Die Superkontinent Pangea het in die Jura Periode in twee landmassas begin opbreek – Laurasië in die noorde en Gondwana in die suide.  Die klimaat het wêreldwyd verander en die woestyne wat die Trias Periode gekenmerk het, was met reënwoude vervang.  Die thekodontiërs was in hierdie tydperk as dominante terrestriële karnivore met dinosauriërs vervang.  Die eerste voëls, akkedisse en plasentale soogdiere verskyn in hierdie tydperk.  Ichthyosauriërs en plesiosauriërs was die top-predatore in die oseane en pterosauriërs was die dominante vlieënde werweldiere.

Kaaklose visse (jawless fish) hoort aan die Agnatha of Cyclostomata.  Daar was talle kaaklose visse in die Ordovisium, Siluur en Devoon toe hulle hul hoogtepunt in diversiteit bereik het en in oseane regoor die Aarde voorgekom het.  Vandag word hierdie groep deur slegs sowat 120 spesies verteenwoordig – die lampreie en slympalings.  Die oudste fossiele van die kaaklose visse is in Kambriese rotse gevind.  Hierdie visse het ronde, kaaklose monde, geen aanhangsels, mae of werwels nie.  Hulle het egter ‘n notochoord en meer pare kiewe as wat kaakvisse het.  Kaaklose visse van die oertyd sluit konodonte en Ostracodermi in.

Kaakvisse (jawed fish) of gnathostomaat visse, is ‘n term wat ek vir “visse met kake” opgemaak het want dit is korter om te skryf of te sê en meer verstaanbaar as gnathostomaat-vis.  Dit klink egter vreemd want niemand het nog voorheen hierdie term gebruik nie.  Mens kan ook nie bloot die term gnathostomate losweg vir visse gebruik nie, aangesien alle werweldiere, buiten die Agnatha (die kaaklose visse), gnathostomate of “kaakdiere” is.  Kaakvisse word in die kraakbeenvisse (Chondrichthyes) en die beenvisse (Osteichthyes) verdeel.  Van die oudste kaakvisfossiele is in Siluur ouderdom gesteentes ontdek – die Placodermi en die Acanthodii.  Hierdie groepe het in die Devoon gediversifiseer en talryk geword.  Die voorouers van huidige kaakvisse het in die Laat Siluur verskyn.

Kainosoïkum Era (Cenozoic Era) (66 Mjg tot vandag) is die era van die Fanerosoïkum Eon waarin ons nou leef.  Hierdie tydperk het na die K-T massa-uitsterwing, na die Chicxulub meteoriet die Aarde getref het, aangebreek.  Die Kainosoïkum staan ook as die soogdier-tydperk bekend aangesien soogdiere, na die uitwissing van die dinosauriërs, geweldig gediversifiseer en aangewas het.  Voëls het ook na die uitsterwing van die pterosauriërs, ‘n soortgelyke diversifisering en aanwas beleef.  Die kontinente het in hierdie tydperk na die posisies waar hulle nou is beweeg.

Kambrium Periode (Cambrian Period)  (541-485.4 Mjg) was die eerste periode van die Paleosoïese Era en die Fanerosoïese Eon.  Die Kambrium word gekenmerk aan die besondere bewaring van ‘n groot diversiteit dierfossiele waarvan nie slegs die doppe en eksoskelette bewaar gebly het nie, maar in sekere gevalle ook van die sagte weefsel.  ‘n Mens kan ‘n geweldige vordering in kompleksiteit van liggaamsvorm en diversiteit van diere in die fossielrekord van die Kambrium merk.  Hierdie oënskynlik skielike verskyning van verteenwoordigers van al die bekende dierfilums plus ‘n paar vreemdes wat sonder nasate uitgesterf het, word die Kambriese Ontploffing genoem.  Alhoewel lewe tydens die Kambrium in die oseane gefloreer het, was daar benewens archaea, bakterieë en swamme op daardie tydstip geen landlewende plante of diere nie.

Karboon Periode (Carboniferous Period) (358.9-298.9 Mjg) word, veral in die Noordelike Halfrond, in die onderste Mississipium en die boonste Pennsylvanium onderverdeel.  Hierdie tydperk word gekenmerk aan die amfibieërs wat op daardie tydstip die dominante landlewende werweldiere was.  Geleedpotiges, veral insekte, het gediversifiseer en talryk geword.  Reuse woude, wat die steenkoolafsettings in die noordelike halfrond gevorm het, het die land bedek.  Die suurstofvlakke was die hoogste ooit – 35% teenoor die 21% van vandag wat veroorsaak het dat geleedpotiges besonder groot kon word.  Pangea vorm in hierdie tydperk.

Kefalopode (cephalopods) vorm die Klas Cephalopoda (“kopvoetiges”) van die Filum Mollusca.  Hierdie mariene diere word gekenmerk aan ‘n lyf, wat mense verwar met ‘n kop, en tentakels, wat mense verwar met pote, rondom die mond – vandaar die naam kefalopode of “koppotiges”.  Die tentakels is derivate van die mondrand en is dus homoloog aan ons lippe, nie pote nie.  Daar is talle weekdiere wat tentakels rondom hul monde het.  Aangesien talle kefalopode ink as verdedigingsmeganisme uitskei, word sommiges ook dikwels inkvisse genoem (hulle is natuurlik ook nie visse nie).  Verteenwoordigers van hierdie groep sluit seekatte, tjokka, nautilus en die uitgestorwe ammoniete en belemniete in.

Kerogeen afsettings (kerogen deposits) is soliede, onoplosbare, koolstofryke materiaal wat in sedimêre rotse voorkom.  Daar word bereken dat daar wêreldwyd 1016 ton koolstof in kerogeen voorkom wat dit die grootste organiese afsetting op Aarde maak.  Petroleum en natuurlike gas kan uit kerogeen verkry word.  Kerogeen was in lakustriene omgewings deur alge, in mariene ongewings deur plankton en in terrestriële omgewings deur plantmateriaal gevorm.  Kerogeen is ekonomies belangrik vir olie- en gasontginning.  Tydens kerogeenvorming word groot biopolimere soos proteïene en koolwaterstowwe gedeeltelik of heeltemal afgebreek (wat as die teenoorgestelde proses van fotosintese beskou kan word).  Hierdie afbraakprodukte kondenseer om geopolimere te vorm wat saam met sedimente soos modder, slik en sand, olieryke skalies vorm.  Die toenemende druk en temperatuur wat tydens sedimentasie plaasvind veroorsaak dat die organiese afsettings verder deur die verlies van waterstof, suurstof, stikstof, swael en ander stowwe die organiese verbindings isomeriseer en aromatiseer. Gedurende die aromatiseringsproses word die molekules in lae gerangskik wat die fisiese kenmerke van kerogeen bepaal.  Gedurende die termiese maturasieproses word kerogeen na produkte soos bitumen, olie en gas afgebreek.

Konifere (conifers) hoort aan die Divisie (wat nie-botaniste ‘n Filum sal noem) Pinophyta of Coniferae of Coniferophyta.  Daar is net een ekstante klas van hierdie groep oor – die Klas Pinosida – wat eens baie meer wydverspreid en divers was as wat hulle vandag is.  Hierdie groep is deel van die gimnosperme (naaksadiges) maar omdat hulle sade in keëls gedra word staan hulle as die konifere bekend.  Ekstante konifere kom meestal as bome en ‘n paar spesies as struike voor.  Sederbome, dennebome, geelhoutbome en die grootste bome op Aarde – die rooihoutbome – vorm deel van hierdie groep.

Konodonte (conodonts) is ‘n uitgestorwe groep klein wurmagtige mariene diertjies wat aan werweldiere verwant is.  Sommige taksonome beskou hulle as werweldiere en hulle word dus onder die Klas Conodonta in die Subfilum Vertebrata van die Filum Chordata ingedeel.  Konodont fossiele het vir die eerste keer in die Kambrium verskyn.  Konodontfossiele bestaan meestal uit getande stafies en kort gepunte elemente van kalsiumfosfaat.  Kalsiumfosfaat is die boustof van been en konodonte was dus die eerste organismes wat been gehad het.  Aangesien konodontfossiele uit been bestaan wat maklik fossiliseer en wêreldwyd in rotse van die Kambruim tot die Vroeë Jura gevind word, kan dit dus as indeksfossiele vir biostratigrafiese doeleindes gebruik word.  Buiten vir die Suid-Afrikaanse konodontfossiele, waarvan sommige elemente tot 10 mm lank is, is die res wat wêreldwyd voorkom, baie klein en wissel tussen 0.3 en 3 mm in lengte.  Hierdie getande stafies en beenelementjies wat saam met dit voorkom, was vir lank ‘n enigma en niemand kon raai hoe die eienaar van hierdie struktuurtjies gelyk het nie.  Die eerste leidraad was dat hierdie elemente soms in groepies voorgekom het wat ‘n duidelike bilaterale simmetrie getoon het – m.a.w. daar was linker- en regterkantse elemente wat as spieëlbeelde van mekaar in bondels gerangskik is.  In 1983 was die eerste konodontdier ontdek toe ‘n fossiel van ‘n 10 mm lange wurmagtige diertjie in Edinburgh in Skotland gevind is.  Die konodont apparaat was in die wande van die diertjie se farinks ingebed en was duidelik deel van sy voedingsapparaat.  Die konondont dier het ook ‘n notochoord, spierbundels, kiewe en stertvin gehad.  Konodontdiversiteit het aan die einde van die Kambrium afgeneem toe talle konodontfamilies met die Kambrium-Ordovisium massa-uitsterwing uitgesterf het.  Die laaste konodonte het nog tot aan die einde van die Trias voorgekom maar het heeltemal na die Trias-Jura massa-uitsterwing verdwyn.

Korale (corals) is poliepe wat aan die Klas Anthozoa van die Filum Cnidaria hoort.  Lede van die Anthozoa kom meestal in tropiese oseane in kompakte kolonies voor.  Hulle bou koraalriwwe d.m.v. die kalkryke buise wat hulle rondom hulle liggame, of poliepe, afskei. Elke poliep is ‘n sakvormige diertjie wat soos hidras en kwalle slegs een opening vir voeding en uitskeiding besit. Die Zooxanthellae is lede van hierdie klas wat simbioties met eensellige alge, wat in hul liggame voorkom, saamleef.

Kosmopolitaanse verspreiding (cosmopolitan distribution) verwys na ‘n wêreldwye verspreiding.

Kraton (craton) is ‘n ou en stabiele deel van die aardkors wat deel van die kontinentale litosfeer opmaak.  Kratons, wat langer as ander dele van die kors erosie en tektoniese verwerking weerstaan het, kom dikwels binne tektoniese plate voor.  Kratons bestaan gewoonlik uit baie ou kristallyne fondasierots met ‘n dik kors bo-oor.  Die onderste dele van kratons kan tot honderde kilometer in die Aarde se mantel gewortel wees.  Die Kaapvaal Kraton van Suid-Afrika is ‘n voorbeeld hiervan.

Kriptosoïkum (Cryptozoic) Era staan ook as die Prekambriese tydperk bekend.  Dit is die tydperk wat die Fanerosoïkum voorafgaan.  Voor die ontdekking van fossiele in hierdie baie ou lae, het die term verwys na geologiese lae wat volgens die beskikbare inligting bekend in daardie tyd, sonder fossiele was.  Die Kriptosoïkum is natuurlik vol fossiele maar dit is hoofsaaklik in die vorm van kerogeen en fossiele van bakterieë en stromatoliete.  Die eerste meersellige organismes, waarvan die Ediacara fossiele die bekendste is, verskyn aan die einde van hierdie era.   Die Kriptosoïkum verteenwoordig 88% van die geologiese geskiedenis van die Aarde.

Krokodille (crocodiles) hoort aan die Orde Crocodilia van die Klas Reptilia.  Hierdie semi-akwatiese groep predatore het ongeveer 95 Mjg in die Laat Kryt verskyn.  Hulle is, na die uitsterwing van die theropood dinosauriërs, die naaste lewende verwante aan voëls.  Krokodille en voëls het verskeie kenmerke in gemeen wat hulle van hul gemeenskaplike archosauriër voorsaat geërf het.  Beide het bv. ‘n mandibulêre opening en ‘n vierkamer-hart.  Die Pseudosuchia, wat die krokodille en hul uitgestorwe verwante insluit, het ongeveer 250 Mjg in die Vroeë Trias ontstaan en gediversifiseer en oorsprong aan die Phytosauria, die Ornithosuchidae en die Suchia gegee.  Die Orde Crocodilia sluit al die ware krokodille (Familie Crocodylidae), die alligators (Familie Alligatoridae) en die gharial (Familie Gavialidae) in.  Alhoewel meeste moderne krokodille semi-akwatiese varswater reptiele is, is daar ook mariene spesies.  In die oertyd was daar egter verskeie krokodilspesies wat op land gejag het en lang agterbene gehad het om vinnig te kan hardloop.  Die lede van die moderne krokodille behoort aan die Subfamilie Crocodylinae van die Familie Crocodylidae van die Orde Crocodilia en kom hoofsaaklik in tropiese gebiede voor.

Kryt Periode (Cretaceous Period) (145 – 66 Mjg) is die laaste tydperk van die Mesosoïkum Era.  Hierdie tydperk was gekenmerk aan ‘n relatiewe hoë temperatuur en hoë seevlakke en talle vlak binnelandse seë bo-op kontinente.  Die oseane en seë was deur bevolkings van uitgestorwe mariene reptiele, ammoniete en rudistiese tweekleppiges bewoon terwyl dinosauriërs steeds die land en pterosauriërs die lug oorheers het.  Blomplante het in hierdie tydperk ontstaan en soogdiere en voëls het begin diversifiseer.  Hierdie tydperk eindig met die K-T massa-uitsterwing toe die Chichilub-meteoriet die Aarde getref het.

K-T massa-uitsterwing (K-T extinction event) staan ook as die Kryt-Paleoseen massa-uitsterwing bekend.  K-T is die afkorting vir Kreide-Tertiär wat die Duitse uitrukking vir Kryt-Tersiêr is.  Dit verwys na die massa-uitsterwing ongeveer 66 miljoen jaar gelede, toe die reuse Chicxulub-meteoriet die Aarde getref het.  Hierdie meteoriet wat tussen 10-15 km in deursneë was, het die Atlantiese kus van Noord Amerika getref en ‘n impakkrater van 150 km wyd en 20 km diep op die seevloer langs die Yucatán Skiereiland van Meksiko nagelaat.  Die impak van die meteorietbotsing, die giftige iridium stof wat oor die Aarde neergesak het, die duisternis wat gevolg het weens die stof in die atmosfeer wat die son vir lank verdoof het, en die gevolglike klimaatsverandering, het tot die uitwissing van driekwart van plant- en dierspesies insluitende die dinosauriërs, pterosourërs en plesiosauriërs gelei.  Met die uitsondering van seeskilpaaie en die krokodil, het geen tetrapode swaarder as 25 kg hierdie massa-uitsterwing oorleef nie.  Hierdie gebeurtenis lui die einde van die Mesosoïkum en die aanvang van die Kainosoïkum in.  Die Die einde van die Kryt word in die geologiese rekord as ‘n dun iridiumryke moddersteen wêreldwyd aangetref.  Iridium is skaars in die oppervlakte van die Aarde maar volop in asteroïede.

Kuonodonte (cynodonts) is lede van die Cynodontia.  Mens hoort eintlik hierdie naam as Kuonodont uit te spreek omdat die naam van die Grieks κύων (kúōn, “hond”) en ὀδόντος (odóntos, “tand”) kom.  Dit is dus allesbehalwe “Sinodont” soos Engelse dit uitspreek.  Die Kuonodonte was gevorderde Therapsiede wat in die Laat Perm Periode ongeveer 260 miljoen jaar gelede ontstaan het.  Hierdie groep, wat die moderne soogdiere insluit, het reeds vanaf die Trias Periode regoor Pangea versprei.

Kwal of jellievis (jellyfish) is die medusa-vorm van die Subfilum Medusazoa van die Filum Cnidaria.  Die diere van hierdie filum is radiaal simmetries en het ‘n onvolledige spysverteringstelsel – m.a.w. die spysverteringstelsel het net een opening.  Hulle kan eenhuisig (hermafrodities) of tweehuisig (geslagte geskei) wees.  Lede van die Medusazoa het ‘n lewenskiklus wat uit ‘n medusastadium en ‘n hidrastadium bestaan.  Die medusa is meestal ‘n vrylewende jellieagtige ronde skyf met tentakels rodom die rand wat geslagtelik m.b.v. sperms en eierselle voortplant.  Sommige spesies se medusas is egter m.b.v. stele aan die seevloer vasgeheg.  ‘n Planula larwe vorm na bevrugting en heg aan ‘n substraat vas (m.a.w. hulle is sessiel) om ‘n poliepkolonie te begin. Die hidra stadium plant ongeslagtelik voort deur om m.b.v. afknopping klein medusatjies (efiras) te vorm.  Die medusas groei en word volwasse en plant dan weer geslagtelik voort.  In sekere spesies is die hidrastadium die dominante lewensvorm, terwyl in ander die medusa die dominante lewensvorm is.  Die oudste fossiele van kwalle is ongeveer 500 miljoen jaar oud maar hulle kon reeds ongeveer 700 Mjg ontstaan het wat hulle die oudste diere met orgaanstelsels maak.

Kwartêr (Quaternary) (2.588 Mjg – hede).  Die Kwartêr word in twee epogge verdeel: die Pleistoseen (2.588 miljoen tot 11 700 jaar gelede) en die Holoseen (11 700 tot hede).

Lakustrien (lacustrine) verwys na meer-omgewings.

Laurasië (Laurasia)  is die noordelike superkontinent wat in die Mesosoïkum bestaan het.  Dit was op sy suidpunt aan die suidelike superkontinent Gondwanaland vasgeheg.  Laurasië het saam met Gondwanaland Pangea opgemaak.  Laurasië het 215 tot 175 miljoen jaar gelede opgebreek en oorsprong aan Noord Amerika en Eurasië gegee.

Linnaeaanse klassifikasiestelsel (Linnaean classification system) is die hiërargiese onderverdeling van organismes op grond van hul fisiese kenmerke.  Organismes word dat in spesie, Genus, Familie, Orde, Klas, Filum, Koninkryk en Domein volgens hulle verwantskappe verdeel.  Die binomeniale nomenklatuur is een van die mees bekende aspekte van hierdie klassifikasiestelsel.  Hierdie klassifikasiestelsel is reeds in die 18 eeu deur Carolus Linnaeus (Charl von Linné) ontwerp en alhoewel dit deur die eeue hersien is en voordurend aangepas en bygewerk word, bly dit steeds een van die nuttigste stelsels waarmee ons organismes taksonomies en filogeneties sorteer.

Litologie (lithology) verwys na die studie van die fisiese eienskappe van gesteentes – dit sluit die kleur, tekstuur, korrelgrootte en samestelling van die gesteente in.

Litosfeer (lithosphere) verwys na die harde buitenste kors van ‘n planeet.  Op Aarde bestaan die litosfeer uit die kors en die boonste laag van die mantel.  Die litosfeer word onderlê deur die astenosfeer.

Lobvinvisse (lobe-finned fish) hoort aan die Subklas Sarcopterygii van die Klas Osteichthyes.  Die lobvinvisse het vlesige, gelobde vinne met spiere en bene in teenstelling met die straalvinvisse (Subklas Actinopterygii) wat dun stafies van been en kraakbeen in hulle vinne het.  Lobvinvisse het ook ‘n difiserkale stert waarin die ruggraat tot agter in die stertvin voorkom eerder as wat dit soos in straalvinvisse in ‘n kaudale pedunkel eindig waaraan die stertvin vasgeheg is.  Die pektorale vin in die lobvinvisse is met ‘n enkele been (die humerus) proksimaal aan die skedel vasgeheg en die pelviese vin is met ‘n enkele been (die femur) proksimaal aan die liggaam vasgeheg.  Die humerus is distaal aan twee bene – die ulna en radius – vasgeheg wat om die beurt distaal aan beenelemente wat verder in die pektorale vin uitsprei, vasgeheg is.  Die femur is distaal aan twee elemente – die tibia en fibula – vasgeheg wat om die beurt distaal aan beelelemente wat verder in die pelviese vin uitsprei, vasgeheg is.  Die skeletelemente in die basale tetrapode se aanhangsels het vanuit dié van die lobvinvisse ontwikkel.  Lobvinvisse het twee dorsale vinne teenoor die een wat in straalvinvisse voorkom.  Die oudste lobvinvisfossiele kom in die boonste lae van die Siluur, wat ongeveer 416 Mjg oud is, voor.  Lobvinvisse het in die Vroeë tot Middel Devoon (416-385 Mjg) in varswaterhabitatte gevestig geraak terwyl die gepanserde kaakvisse die oseane as top-predatore oorheers het.  Die vroeë lobvinvisse het tydens die Vroeë Devoon (385-299 Mjg) aan twee hoofgroepe, die selekante en die rhipidistiërs, oorsprong gegee.  Die rhipidistiërs sluit twee hoofgroepe in: die Poroleptiformes en die Dipnoi.  Die Poroleptiformes het aan die tetrapode oorsprong gegee terwyl die Dipnoi aan die longvisse oorsprong gegee het.  Die diversiteit van lobvinvisse het na die Mesosoïkum afgeneem en daar is vandag slegs twee selekantspesies en ses longvisspesies oor.

Marien (marine) verwys na oseane.

Marsupialia – sien buideldier.

Meersellig (multicellular) verwys na organismes wat uit meer as een sel bestaan.  Die teenoorgestelde hiervan is eensellig.

Megafauna is ‘n algemene term wat gebruik word om na besondere groot oerdiere te verwys, veral as hulle groter as moderne diere is – bv. mammoete, oerbere, reuse luidiere, reuse bewer, dinosauriërs, reuse lopende roofvoëls.

Mesosoïkum Era (Mesozoic Era)  (252 – 66 Mjg) word ook soms die Tydperk van Dinosauriërs of die Tydperk van keëlplante genoem.  Die Mesosoïkum word in drie dele van oudste na jongste: die Trias, Jura en Kryt Periodes verdeel.  Die Mesosoïkum volg op die Perm-Trias massa-uitsterwing en eindig met die K-T massa-uitsterwing.  Gondwanaland het in hierdie tydperk opgebreek.  Dinosauriërs, plesiosauriërs, ichthyosauriërs, mosasauriërs, pterosauriërs, voëls, soogdiere en blomplante het in hierdie tydperk ontstaan.

Metamorfiese gesteente (metamorphic rocks) vorm vanuit bestaande rotse d.m.v. ‘n proses van metamorfose.  Die proses vind gewoonlik plaas deur die verhitting van gesteentes tot temperature hoër as 150°-200°C en verhoogde druk (100 megapascals of meer).  Metamorfose vind ook plaas wanneer lawa bogronds of magma ondergronds in ander gesteentes indring.  Hierdie verhoogde druk en temperatuur verander die fisiese en chemiese aard van die gesteente – hetsy sedimentêre, stollings- of metamorfe gesteente.  Metamorfe gesteentes vorm ongeveer 12% van die Aarde se oppervlakte.  Gneiss, skalie, marmer, skis en kwartsiet is voorbeelde van metamorfe gesteentes.

Mioseen Epog (Miocene Epoch) (23.03 – 5.333 Mjg).  Die naam is afgelei van die Grieks μείων (meiōn, “minder”) en καινός (kainos, “nuut”) wat bedoel minder nuut omdat hierdie biostratigrafiese eenheid 18% minder fossiele van moderne seediere as die Plioseen het.  Die Himalajas het in hierdie tydperk nog hoër geword wat ‘n effek op die klimaat gehad het en wat die verskynsel van monsoenreëns veroorsaak het.  Die monsoenreëns het weer veroorsaak dat die Aarde begin afkoel het wat uiteindelik tot die daaropvolgende ystydperke sou lei.  Grasvelde het wêreldwyd uitgebrei terwyl woude se verspreiding verder gekrimp het.  Die ape het gedurende hierdie tydperk gediversifiseer en het wydverspreid oor die Ou Wêreld (Afrika & Eurasië) voorgekom.  Kelpwoude het vir die eerste keer in die see verskyn.

Mississippium (Mississippian) Epog of Subperiode (358.9 – 323.2 Mjg) staan ook as die Vroeë Karboon bekend.  Die tipe-vindplek van hierdie geologiese biostratigrafiese eenheid is in die Mississippi Riviervallei.  In ander lande soos Europa is die oorgang van die lae van see na land meer gelykmatig en die verskille tussen die sedimentêre lae van die twee opeenvolgings is nie so duidelik soos in Noord Amerika nie en dus word hierdie sisteem nie dikwels buite Noord Amerika gebruik nie.  Gedurende die Mississipium het vlak seë dele van Noord Amerika bedek het en meeste van die fossiele in die Mississipium is dié van seediere en diere wat in riviermondings en moerasse geleef het.

Mjg (Mya) – Miljoen jaar gelede.  Dit word soms as Ma vir Mega annum aangedui, maar dit is te verwarrend om Ma in Afrikaans te gebruik en dus verkies ek om Mjg te gebruik.

Molluske (molluscs) – sien weekdiere.

Monotremate – sien eierlêende soogdiere.

Mos (moss) hoort aan die Filum (Divisie volgens plantkundige klassifikasie) Bryophyta.  Mosse is klein vaatlose landplantjies wat tussen 0.2 mm – 50 cm in lengte wissel.  Mosse vorm die evolusionêre skakel tussen primitiewe Briophyta soos wolfskloue en varings.  Soos die res van die Briophyta het mosse ‘n dominante haploïede gametofietgenerasie en ‘n diploïede sporofietgenerasie wat verskil van vaatplante soos varings en saadplante waar die diploïede sporofietgenerasie dominant is.  ‘n Mosplantjie bestaan gewoonlik uit ‘n stingeltjie waaraan klein enkel-sellaag blaartjies gekoppel is.  Die stingel het vate wat water en voedingstowwe vervoer maar dit is nie in die vorm van gespesialiseerde vaatweefsel soos wat in vaatplante voorkom nie.  Die sporofiet vervaardig spore wat ontkiem om nuwe gametofiete te vorm.  Die gametofiete vorm sperms wat eierselle bevrug om nuwe sporofiete te vorm.

Mosasauriërs (mosasaurs) is ‘n groep uitgestorwe mariene reptiele wat aan akkedisse verwant was.  Na die uitsterwing van die ichthyosauriërs en die pliosauriërs het die mosasauriërs as top mariene werweldiere oorgeneem.  Die mosasauriërs verskyn in die fossielrekord van die Laat Kryt en sterf uit met die K-T massa-uitsterwing.  Die mosasauriërs se ledemate het soos dié van die plesiosauriërs in vinne verander.

Mosdiertjies hoort aan die Filum Bryozoa.   Hierdie akwatiese invertebrate bestaan uit klein diertjies wat sooïede vorm wat elk ongeveer ‘n halwe millimeter lank is.  Buiten vir een spesie, kom sooïede in kolonies voor.  Hulle voed m.b.v. ‘n lofofoor wat ‘n terugtrekbare gesilieërde tentakelkroon rondom die mond is.  Meeste mariene spesies kom in tropiese waters voor maar sommige kom tot in die diep oseaantrôe en ander tot in die poolstreke voor en nog ander kom in brakwater en in varswater voor.  Mosdiertjies het ook eens as Endoprocta, Ectoprocta en Polyzoa bekend gestaan.  Sekere spesies produseer gemineraliseerde eksoskelette wat korse oor oppervlaktes vorm en tot koraalriwwe kan bydra.

Nautiloïede (nautiloids) hoort aan ‘n groot en diverse groep van mariene koppotiges – die Subklas Nautiloidea van die Cephalopoda van die Filum Mollusca.  Hulle skulpe kom vanaf die Laat Kambrium in die fossielrekord voor.  Hulle het in die Vroeë Palaeosoïkum gediversifiseer en gedy – en word saam met ammoniete goed in die fossielrekord verteenwoordig.  Anders as die ammoniete het die nautiloïede die K-T massa-uitsterwing oorleef, maar hulle getalle en diversiteit het deur die Mioseen en Plioseen afgeneem.  Daar is ongeveer 2 500 nautiloïed-fossielspesies bekend terwyl daar net ‘n handjievol spesies van die genusse Nautilus en Allonautilus vandag nog bestaan.

Neogeen Periode (Neogene Period) (23.03 – 2.58 Mjg).  Dit is die tydperk net voor die Kwartêr en word in twee epogs verdeel: die Mioseen en die Plioseen.  Soogdiere en voëls het in hierdie tyd hulle moderne vorms begin aanneem en die eerste hominiene het in Afrika verskyn.  Die landengte van Panama wat Noord- en Suid-Amerika koppel het in hierdie tydperk gevorm wat die warm seestrome van die Stille Oseaan na die Atlantiese Oseaan afgesny het.  Dit het ‘n groot impak op die klimaat aan die einde van daardie tydperk gehad wat tot die ystydperke in Kwartêr gelei het.

Neteldiere (cnidarians) hoort aan die Filum Cnidaria.  Hierdie groep sluit hidras, kwalle en seeanemone in.  Van die 11 000 spesies bekend is meeste seelewend maar daar is ook spesies wat in varswater voorkom en dan die Myxozoa wat parasities is.  Die Myxozoa is van die kleinste diere bekend omdat van hulle tipies maar 10-300μm lank word.  Daar is meer as 2 000 spesies Myxozoa bekend, maar daar word vermoed dat daar dalk soveel as 30 000 spesies mag wees.  Die name Cnidaria en neteldiere is afgelei van die feit dat hulle netelselle of knidosiste in die buitenste sellaag het.  Neteldiere is naas sponse die mees primitiewe diere op Aarde en van die eerste diere wat ontstaan het.  Ongelukkig is almal van hulle, buiten die korale, swak in die fossielrekord verteenwoordig omdat hulle sagte liggame nie maklik fossiliseer nie.

Nothosauriër (nothosaur) hoort aan die Orde Nothosauroidea van die Klas Reptilia.  Nothosauriërs was mariene reptiele wat in die Trias geleef het.  Hulle het in die oseane gejag maar kon nes robbe op land kom.  Hulle het ongeveer 3 m lank geword en het ‘n gewebde pote en ‘n lang liggaam en stert gehad.

Oligoseen (Oligocene) (33.9 – 23 Mjg).  Die klimaat van die Oligoseen toon ‘n oorgang vanaf die tropiese toestande wat in die Mioseen geheers het tot die  klimaatstoestande van vandag.  ‘n Yskap vorm oor Antarktika.  Die grasvelde brei uit terwyl woude na ekwatoriale gebiede terugskuif.  Soogdiere en moderne blomplante diversifiseer en versprei.

Ongeartikuleerde brachiopood (non-articulated brachiopod) – sien brachiopood.

Ordovisium Period (Ordovician Period) (485.4 – 443.8 Mjg).  In hierdie tydperk was weekdiere en geleedpotiges die dominante diere in die oseane terwyl visse verder ontwikkel het.  Die einde van die Ordovisium word gekenmerk aan die Ordovisium – Siluur massa-uitsterwing.

Orogenese (orogenesis) is die proses van bergbouing.  Dit gebeur tipes wanneer twee tektoniese plate teen mekaar druk.  Die drukking veroorsaak dat die plate naby die kontaksone opfrommel wat bergreekse laat vorm.  Die Andes, Rockies en Himalajas is voorbeelde hiervan.

Orosirium Period (Orosirian Period) (2.05 – 1.8 Ga). Die twee grootste bekende meteorietimpakte op Aarde – die Vredefort en Sudbury impakte – het in hierdie tydperk plaasgevind.

Ostracodermi – sien gepanserde kaaklose visse.

Ostrakood (ostracod) vorm die Klas Ostracoda van die Subfilum Crustacea van die Filum Arthropoda.  Daar is reeds ongeveer 70 000 spesies ontdek waarvan 13 000 spesies ekstant is en die res fossiele van uitgestorwe spesies is.  Hulle is gewoonlik omtrent 1 mm lank, maar kan van 0.2 mm – 30 mm in grootte wissel.  Hulle is skyfvorming met ‘n chitien of kalkagtige eksoskelet wat die rede is hoekom hulle so algemeen in die fossielrekord voorkom.  Hulle is meestal seelewend en kan deel van die soöplankton vorm terwyl ander deel van die bentiese organismes in die seevloer vorm, ander spesies is varswaterlewend en daar is selfs spesies wat in klam grond in die oerwoude van Suid-Afrika, Australië en Nieu Seëland voorkom.  Hulle kan karnivore, herbivore, aasdiere of filtervoeders wees.

Paleogeen Periode (Palaeogene Period) (66 – 23.03 Mjg) staan ook as die Vroeë Tertiêr bekend.  Alhoewel die term Tertiêr algemeen gebruik word, word nie meer formeel gebruik nie.  Soogdiere en voëls diversifiseer in die Palaeogeen na die uitsterwing van die dinosauriërs en pterosauriërs.   Die diversifisering van soogdiere sluit die ontwikkeling van vlug met die ontstaan van vlêrmuise in.  Dolfyne, walvisse en Sirenia is groepe soogdiere wat dit bemeester het om ‘n permanente akwatiese bestaan te voer.  Die terrestriële nisse van top-predatore en megaherbivore word ook deur soogdiere gevul.  Meeste van die moderne plantgroepe, insluitende gras verskyn in hierdie tydperk.

Paleomagnetisme (palaeomagnetism) is die studie van die magneetveld in gesteentes, sediment en selfs argeologiese voorwerpe.  Die magneetveld van die Aarde magnetiseer sekere stowwe wanneer hulle vorm.  Hierdie magnetisme dien as rekord van die rigting en die krag van die magneetveld van ‘n spesifieke streek, gedurende ‘n spesifieke tydperk.  Hierdie intligting word gebruik om die beweging en rotasie van kontinentale brokstukke of terrane, die sprei van die seevloer en die oriëntasie van kontinente in die oertyd te bepaal.

Paleoseen Epog (Palaeocene Epog) (66 – 56 Mjg) is die oudste epog van die Kainosoïkum.  Hierdie epog volg na die K-T massa-uitsterwing.  Alhoewel Laurasië en Gondwanaland besig was om op te breek, was daar tydens hierdie tydperk nog steeds landbrue tussen die noordelike kontinente asook tussen die suidelike kontinente wat plante en diere toegelaat het om nog heen en weer tussen die landmassas te versprei.  Noord- en Suid-Amerika was nog nie gekoppel nie en Indië het toe pas met Eurasië gebots.  Die klimaat het warmer na die K-T impak geword en die poolkappe het gesmelt en gevolglik was daar woude regoor die wêreld tot selfs by die pole.  Soogdiere diversifiseer en die marsupiale en plasentale soogdiere ontstaan in hierdie tydperk.  Straalvinvisse word die dominante werweldiergroep in die oseane.

Paleosoïkum Era (Palaeozoic Era) (541 – 251.902 Mjg) is die eerste van die drie geologiese eras wat die Fanerosoïkum opmaak.  Dit word, van oud na jonk, in die Kambrium, die Ordovisium, Siluur, Devoon, Karboon en Perm verdeel.  Meersellige lewe het gediversifiseer en al die dierfilums het in hierdie tydperk ontstaan.  Lewe het van see tot op land versprei en teen die einde van hierdie tydperk was daar amfibieërs en reptiele, groot insekdiversiteit en woude op land.  Die Paleosoïkum eindig met die grootste uitwissing van lewensvorme op Aarde wat veroorsaak het dat diversiteit van terrestriële organismes eers 30 miljoen later herstel het.

Pangea beteken “alle Aarde” in Grieks.  Dit is die naam wat ons vir die superkontinent gee wat vanaf 335 miljoen tot 175 miljoen jaar gelede bestaan het toe al die huidige kontinente in een landmassa saamgesnoer was.

Pelikosauriërs (pelycosaurs) was die eerste soogdieragtige reptiele of sinapsiede.  Soogdieragtige reptiele was die eerste groep reptiele wat in die Laat Karboon van die stamreptiele gestam het en het verskeie baie primitiewe kenmerke behou soos ‘n klierryke vel en ‘n lae, wydsbeen-stand soortgelyk aan wat ons in amfibieërs vind.  Die pelikosauriërs het die amfibieërs as die dominante werweldiere op land in die Laat Karboon en Vroeë Perm verplaas.  Teen die Laat Perm was die pelikosauriërs deur hul nasate die therapsiede as dominante landlewende werweldiere verplaas.  Pelikosouriërfossiele word in die noordelike kontinente gevind wat te verwagte is aangesien Gondwanaland tydens die Karboon baie ver suid geleë was en Suid-Afrika, as deel van die suidelike deel van Gondwanaland, was reg op die suidpool geleë.  ‘n Groot yskap het dus ‘n groot deel van Gondwanaland tydens die Karboon bedek.  Die noordelike deel van Pangea was op die ekwator geleë en die pelikosauriërs het in die tropiese woude daar voorgekom.  Ten spyte van hulle relatiewe primitiewe aard, het pelikosauriërs sekere soogdieragtige kenmerke gehad soos die enkele temporale venster in die slaapwyk van die skedel en sommige karnivoriese pelikosauriërs het ‘n vergroting van die tweede tand op die maksilla waar die soogdierslagtand later sal voorkom.

Pennsylvanium (Pennsylvanian) (323.2 – 298.9 Mjg) staan ook as die Laat Karboon bekend en is ‘n nuttige biostratigrafiese eenheid waarmee die Karboon in die Noordelike Halfrond onderverdeel word.  Die Pennsylvanium bestaan hoofsaaklik uit terrestriële afsettings en het verskeie geologiese strata met plantfossiele en steenkool.

Perdesterte (horsetails) is plante wat aan die genus Equisetum hoort wat lede van die Familie Equisetaceae is.  Die perdesterte is die enigste oorlewende genus van die Orde Equisetales.  Die Equisetales was ‘n ekologies belangrike groep in die Devoon en van die spesies het as groot bome in woude voorgekom.  Die stamme van hierdie oer-perdesterte het lengtelopende ribbes vir versterking gehad net soos wat mens op die ekstante perdestertstingels vind.

Periode (Period) is ‘n geologiese tydperk wat in die Geologiese Tydskaal gebruik word.  Eras word in periodes verdeel terwyl periodes in epogge verdeel word.  Die rotsformasies wat tydens ‘n periode gevorm word, word ‘n sisteem in stratigrafie genoem.

Perm Periode (Permian Period) (251.9 – 251,9 Mjg) is die tydperk wat na die Karboon Ystydperk volg en wat met die uitsterwing van 95% van alle plant- en dierspesies op Aarde eindig.  Dit was die grootste uitwissing van lewe ooit.  Die tipiese plante wat tydens die Karboon Periode op land geheers het, word nou deur keëldraende gimnosperme (die eerste ware saadplante) en eerste ware mosse verplaas.  Brachiopode, tweekleppiges, foraminifere en ammoniete kom volop in die oseane voor.  Vlieë en kewers verskyn.  Parareptiele, temnospondiele en soogdieragtige reptiele kom wydverspreid op die superkontinent Pangea voor.

Parareptiele (parareptiles) hoort aan die Subklas Parareptilia van die Klas Reptilia.  Oorspronlik was hierdie groep die Subklas Anapsida genoem.  Hierdie groep sluit talle uitgestorwe primitiewe reptiele en die skilpaaie in.  Die eerste parareptielfossiele kom in die gesteentes van die Laat Karboon voor.  Al die parareptielgroepe buiten die Procolophonoidea en die voorouers van die moderne skilpaaie het tydens die massa-uitsterwing aan die einde van die Perm verdwyn.  Die Procolophonoidea het teen die Laat Trias ook uitgesterf.

Plaattektoniek (plate techtonics) is die studie van die beweging van die sewe groot en talle kleiner tektoniese plate wat die aardkors opmaak.  Die teorie van plaattektoniek het op die teorie van kontinentale verskuiwing voortgebou.  Plaattektoniek verklaar die beweging van kontinente, orogenese, vulkanisme, aardbewings, die ontstaan van oseaanriwwe en die sprei van die seevloer.

Placodermi – sien gepanserde kaakvis.

Plante (plants) hoort aan die Koninkryk Plantae wat enkel of meersellige eukariotiese en fotosintetiese organismes insluit.  Plante sluit die groenalge (Charophyta), geel-groen alge (Chlorophyta), horingblad (Anthocerotophyta), lewermosse (Marchantiophyta), wolfskloue (Lycopodiophyta), mosse (Bryophyta), varings (Pteridophyta), gimnosperme soos broodbome (Cycadophyta), die gingko (Ginkgophyta), Welwitschia (Gnetophyta) en denne, sipresse, geelhoutbome (Pinophyta) en die angiosperme of blomplante (Magnoliophyta) in.  Rooi- en bruinalge word nie meer as plante beskou nie.  Buiten vir parasitiese spesies verkry die oorgrote meerderheid plante hul energie en vervaardig suiker deur fotosintese met behulp van chloroplaste a en b.  Chloroplaste het vanuit sianobakterieë ontstaan.  Plante se selwande bevat sellulose.  Plante word ook gekenmerk aan die feit dat hulle geslagtelik voortplant met ‘n afwisseling van ‘n sporofiet en gametofiet generasies.  Sommige plante kan ook vegetatief voortplant.  Plante speel as primêre produsente ‘n allerbelangrike rol in die ekologie.  Dit blyk dat vroeë meersellige fotosintetiserende organismes reeds ‘n miljard jaar gelede in varswaterhabitatte op land teenwoordig was.  Die eerste bewys van embriofitiese landplante dateer van die Middel Ordovisium (ongeveer 470 Mjg).  Teen die Middel Devoon (ongeveer 390 Mjg) het plante strukture soos blare en wortels ontwikkel wat vergelykbaar met dié van ekstante plante is.  Teen die Laat Devoon (ongeveer 370 Mjg) het sekere van die spoordraende plante sekondêre houtagtige vaatweefsel gehad en het as bome in woude voorgekom.  Die eerste bekende saadvormende plante – die saadvarings – verskyn teen die Laat Devoon.  Die eerste blomplante verskyn in die Trias ongeveer 200 Mjg en diversifiseer in die Kryt en die Paleogeen.  Grasse was die laaste groep plante wat verskyn het.  Grasse, wat aangepas is om onder lae koolsuurgasvlakke en warm en droeë toestande te leef, het van ongeveer 40 miljoen jaar gelede ekologies dominant geraak.  Fossielblare, -hout, -stuifmeel en -spore kom algemeen in die fossielrekord voor en word vir litostratigrafiese doeleindes aangewend.

Plasentale soogdiere (placental mammals) hoort aan die Superorde Placentalia van die Klas Mammalia.  Die plasentale soogdiere verskil van die ander soogdiersuperordes Marsupialia en Monotremata omdat hulle embrios slegs in die plasenta ontwikkel terwyl die ander buidelsakke en eiers gebruik.  Die fetus van plasentale soogdiere word tot op die finale stadium van embrionale ontwikkeling in die plasenta gedra terwyl die marsupiale hul fetusse ook in plasentas dra, maar net tot op ‘n baie vroeë ontwikkelingsvlak, waarna dit gebore word.  Die marsupiaalbaba moet self sy weg na die buidel vind om daar die res van sy ontwikkeling te voltooi.  Die plasentale soogdiere het waarskynlik in die Laat Kryt, ongeveer 90 Mjg verskyn maar die oudste fossiele dateer van die Vroeë Paleoseen ongeveer 66 Mjg.  Die plasentale soogdiere het in die Paleoseen in die verskillende moderne vorme gediversifiseer om die ekologiese nisse, wat deur die uitgestorwe dinosauriërs nagelaat is, te vul.  Soogdierfossiele is nuttig om die vorming en verdwyning van landbrue, wat hulle interkontinentale verspreiding moontlik maak of verhoed, te bestudeer.

Platformdekking (platform cover) is ‘n deel van ‘n kontinent wat uit lae van hoofsaaklik sedimentêre oorsprong bestaan wat bo-oor ‘n baie ouer fondament van stollings- en/of metamorfe gesteentes afgeset is.

Pleistoseen Epog (Pleistocene Epoch) (2 580 000 – 11 700 jaar gelede), hieridie epog staan ook as die Paleolitiese tydperk in argeologie bekend en word gekenmerk aan ‘n reeks ystydperke wat op mekaar gevolg het.  Tydens die Pleistoseen was tot 30% van die Aarde se oppervlakte met ys bedek wat in sommige plekke ‘n dikte van tot meer as 3 km gehad het.  Aangesien soveel water op land as ys versamel het en nie gesmelt het en dus na die see teruggevloei het nie, was die seevlak ongeveer 100 m laer as vandag.  Die diere van die Pleistoseen het grotendeels aan dieselfde families en genusse as die ekstante diere behoort alhoewel hulle meestal deur verskillende spesies as die huidige spesies verteenwoordig was.  Daar was ook baie meer megafauna soos mammoete, mastodons, aurochs, kortsnoetbere, reuse luidiere, reuse predatoriese voëls in die Pleistoseen as vandag.  Die erge klimaatsveranderings wat tydens die ystydperke plaasgevind het, het ‘n reuse impak op die ontstaan en verspreiding van nuwe spesies en die uitsterwing van ander gehad soos wat kos en ruimte minder geword het en die temperatuur gedaal het.  Groot dele van die noordelike kontinente het heeltemal onbewoon geraak soos plante en diere se verspreiding al hoe meer suidwaarts geneig het sodat hulle van die koue en honger kon ontsnap.  Die ystydperke het ook ‘n groot impak op die verpreiding van oermense gehad.  Die moderne mens (Homo sapiens) het aan die einde van hierdie tydperk in Afrika ontstaan en van daar na ysvrye gebiede wêreldwyd versprei en daar met van die oermense wat buite Afrika onstaan het, soos Homo neanderthalensis en Denisovians, ondertrou.

Plesiosauriër (plesiosaur) hoort aan die Orde Plesiosauria van die Superorde Sauropterygia van die Klas Reptilia.  Plesiosauriërs verskyn in die fossielrekord in die boonste deel van die Laat Trias, ongeveer 203 Mjg en het baie volop in die Jura geword.  Hulle was nog volop tot die einde van die Kryt maar het toe saam met die res van die reuse reptiele tydens die K-T massa-uitsterwing verdwyn.  Plesiosauriërs het ‘n breë plat lyf gehad met ledemate wat in vier groot en sterk verlengde vinne verander het.  Sommige plesiosauriërs het besondere lang nekke en klein koppe gehad terwyl ander – die pliosauriërs – korter nekke en groter koppe gehad het.  Die pliosauriërs wat vinnig kon swem, was die top-predatore in die see en het tot 17 m lank geword.

Plioseen Epog (Pliocene Epoch) (5.333 – 2.58 Mjg) vorm die tweede en jongste epog van die Neogeen Periode van die Kainosoïkum Era.  Die organismes van daardie tydperk is baie soortgelyk aan dié van vandag, alhoewel ietwat meer primitief.  Die eerste hominiene – die aapmense – verskyn in Afrika gedurende hierdie tydperk.  Die botsing van kontinente veroorsaak orogenese wat o.a. die Panama Landengte vorm wat Noord- en Suid-Amerika verbind wat die Groot Amerikaanse Uitruiling van soogdiere bemoontlik het.  Die Panama Landengte sny die warm seestrome van die Stille Oseaan na die Atlantiese Oseaan af wat daartoe gelei het dat die Aarde begin afkoel het en wat die ystydperke van die Kwartêr veroorsaak het.

Prekambrium – sien Kriptosoïkum.

Primêre produsent (primary producer) verwys na ‘n organisme wat kan fotosintetiseer.  Dit sluit plante, sianobakterieë, rooialge en sekere chromiste in.

Primitiewe haaie (primitive sharks) het ongeveer 450 Mjg verskyn.  Terwyl ander visse soos die kaaklose visse en die gepanserde visse se diversiteit toegeneem en afgeneem tot hul verdwyn het, het haaispesies in hul duisende vir amper ‘n halfmiljard jaar bestaan.  Die eerste haaie het tydens die Siluur vanuit die Acanthodiërs of stekelhaaie ontstaan toe die oseane reeds met beenvisse gevul was.  Haaie het geen dermale bene in hulle skedels nie en hulle het kraakbeenskelette.  Oerhaaie het teen die Devoon meer soos moderne haaie begin lyk.

Primitiewe voëls (primitive birds) is voëls wat in die Mesosoïkum bestaan het.  Hulle was die eerste voëls en het soos dinosauriërs steeds vingers met kloue op en tande gehad.  Sommige soos Archaeopteryx het ook nog lang gewerwelde sterte soos dinosauriërs s’n gehad.  Hierdie groep het in die Kainosoïkum, na die uitsterwing van die pterosauriërs, geradieër en aan die moderne voëls oorsprong gegee.

Progimnosperme (progymnosperms) is ‘n uitgestorwe groep houtagtige spoordraende vaatplante met veervormige blare van die Klas Progymnospermopsida of in ander klassifikasies die Divisie (die plantkundige taksonomiese sinoniem vir Filum) Progymnospermophyta.  Die progimnosperme het in die Middel Devoon verskyn.  Progimnosperme het as struike en bome, waarvan sommige tot 12 m lank was, voorgekom.  Die saadvarings het in die Laat Devoon vanuit hierdie groep ontstaan en in die Karboon het die gimnosperme uit hierdie groep ontwikkel.

Prokariote (procaryote) is mikroskopiese eensellige organismes wat geen selkern of dubbelmembraan organelle bevat nie – die genetiese materiaal dryf in stringe los in die sitoplasma rond en in die afwesigheid van organel-membrane vind meeste biochemiese reaksies op die selmembraan plaas.  Die prokariote is die oudste en primitiefste organismes op Aarde en sluit die Domeine (of Superryke) Archaea en Bacteria in.

Proterosoïkum Eon (Proterozoic Eon) (2500 – 541 Mjg) is die typerk tussen die verskyning van suurstof in die Aarde se atmosfeer tot net voor die diversifisering van diere soos korale en trilobiete.  Meersellige organismes soos plante, swamme en diere en die Ediacara organismes het aam die einde van hierdie Eon verskyn.

Protiste (protists) behoort aan die Filum Protista.  Protiste is eensellige eukariotiese organismes.  Plante, diere en swamme het uit protist-voorouers ontstaan.  In sommige klassifikasies word protiste soos Chlamydomonas in die Koninkryk Plantae en eensellige gisse in die Koninkryk Fungi ingedeel.  Aan die ander kant van die enkelsel/meersellige spektrum word rooialge en slymswamme in die Protista ingedeel alhoewel kolonies van hierdie eensellige organismes makroskopiese strukture vorm.

Pterosauriërs (pterosaurs) hoort aan die uitgestorwe Orde Pterosauria wat vanaf die Laat Trias tot aan die einde van die Kryt bestaan het.  Hulle was die eerste vlieënde werweldiere waarvan ons weet.  Hulle skelette was liggewig en hulle het enorme vlerke in verhouding tot hul liggaamvolume gehad.  Die vierde vinger, wat ongeveer twee derdes van die voorste raam van die vlerk gevorm het, was uitermate vergroot en verleng.  Die vlerk het uit ‘n  membraan bestaan wat aan die vierde vinger, die binneste rand van die arm, langs die torso en aan die kant van die been vasgeheg was.  Meeste pterosauriërs het groot, langwerpige skedels gehad.  Pterosauriërs het eerder gesweef as om hulle vlerke te klap want hulle het nie soos voëls besondere groot borsspiere gehad nie.

Radiodonte (radiodonts) of anomalokariede (anomolocarids) behoort aan die Orde Radiodonta van die Filum Arthropoda.  Hulle was deel van die groot verskeidenheid mariene diere wat in die Burgess Skalies in Kanada ontdek is.  Die radiodonte, wat wêreldwyd in Kambriese fossielryke gesteentes voorkom, was die eerste groot predatore op Aarde.

Radiometriese datering (radiometric dating) is ‘n tegniek waar die tempo van radioaktiewe verval van radioisotope gebruik word om die ouderdom van ‘n voorwerp of ‘n geologiese laag te dateer.  Radiometriese datering word saam met biostratigrafie, sedimentologie en paleomagnetisme gebruik om die Geologiese Tydskaal saam te stel.  Die verhouding van ‘n radioaktiewe element in die gesteente of voorwerp tot die dogterproduk wat deur radioaktiewe verval gevorm word, word bepaal.  Aangesien die tempo van radioaktiewe verval konstant is, kan hierdie verhouding gebruik word om die ouderdom van die voorwerp of gesteente te bepaal.

Reptiele (reptiles) hoort aan die Klas Reptilia van die Subfilum Vertebrata van die Filum Chordata.  Die moderne reptiele (skilpaaie, akkedisse, slange, krokodille, wurmslange en die Tuatara) en verskeie uitgestorwe reptielgroepe (pterosauriërs, plesiosauriërs, ichthyosauriërs, dinosauriërs en die res van die nie-skilpad parareptiele, sinapsiede en stamreptiele) hoort aan hierdie groep.  Volgens kladististiese beginsels moet al die nasate van reptiel-voorouers ook in hierdie groep ingesluit word en dit sluit dus soogdiere in wat van die sinapsiede ontstaan het en die voëls wat uit die dinosauriërs ontstaan het.  Sommige werweldierkenners is van mening dat die woord reptiel sy taksonomiese betekenis verloor het en dat ons eerder na die amniote moet verwys om hulle van die nie-amniotiese tetrapode – die amfibieërs te onderskei.  Die reptiele is die grootste groep landlewende werweldiere en alhoewel hulle op land ontstaan het en vir meer as 300 miljoen jaar die dominante werweldiere op land was, het hulle ook die lug as pterosauriërs en die see in die vorm van ichthyosauriërs, plesiosauriërs en mosasauriërs oorheers.  Reptieldiversiteit het sy hoogtepunt in die Mesosoïkum bereik toe reptiele die mees diverse vorms en groottes bereik het en diverse habitatte bewoon het.  Selfs vandag na die K-T massa-uitsterwing is daar steeds amper twee keer meer ekstante reptielspesies (10 700) as soogdierspesies (5 400), en as jy die ongeveer 10 000 spesies voëls, as die nasate van dinosauriërs by tel, is soogdiere as een vyfde van die amniote en glad nie meer die dominante groep werweldiere op land nie.  Die eerste reptiele het ongeveer 312 Mjg in die Karboon uit reptieliomorfe tetrapode ontstaan (sien stamreptiele).  Die amnioneier was die belangrikste evolusionêre innovasie wat werweldiere van hul afhanklikheid van water gespeen het.  Die reptieliomorfe tetrapode was reeds goed vir lewe op land aangepas en was amper identies in liggaamsvorm en gedrag aan reptiele buiten vir hul afhanklikheid van water vir voortplanting wat hulle dan as amfibieërs klassifiseer.  Die openinge in die slaapwyk van die reptielskedel word gebruik om reptiele as Anapsiede, Sinapsiede en Diapsiede en Eurapsiede te klassifiseer.

Rhyacium (Rhyacian) (2300 – 2050 Mjg).  Die Bosveldstollingskompleks vorm in hierdie tydperk.  ‘n Ystydperk wat vir 100 miljoen jaar duur vind plaas gedurende hierdie tydperk.

Rodinia was ‘n superkontinent wat in die Steniaum Periode in die Proteroïkum bestaan het.  Dit het 1.1 – 0.9 miljard jaar gelede gevorm en teen 750-633 Mjg in die  Cryogenium Periode opgebreek.  Navorsers was oorspronklik onder die indruk dat rotse van Rodinia herkoms aan Pangea gehoort het, maar navorsing het gewys dat Rodina uit brokstukke van die nog ouer Superkontinent Columbia saamgestel is.

Rudistiese tweekleppiges (Rudist bivalves) hoort aan die Orde Hippuritida wat in die Laat Jura ontstaan het. Hierdie groep het in die Kryt gediversifiseer en ‘n belangrike rol in rifbou tot hul uitsterwing aan die einde van die Kryt, gespeel.  Anders as meeste tweekleppiges, het rudistiese tweekleppiges twee skulpe met verskillende vorms gehad – die een skulp het ‘n deksel gevorm terwyl die ander skulp ‘n verlengde keëlvormige buis van ‘n paar sentimeter tot oor ‘n meter lank gevorm het.

Saadplante (seed plants) word ook die spermatofiete of Spermatophyta genoem.  Daar is vyf filums (of divisies as jy ‘n plantkundige is) van ekstante saadplante.  Hulle is die: gimosperme of naaksadiges – Cycadophyta (broodbome), Ginkgophyta (ginkgo), Pinophyta (denne, sipresse en verwante), die Gnetophyta (Wilwitschia en verwante) en die Magnoliaphyta (angiosperme of blomplante).  Die fossielrekord van saadplante dateer van ongeveer 360 Mjg maar hulle was klein plantjies wat aanvanklik ‘n klein ekologiese rol in die woude van die Devoon en Karboon gespeel het.  Saadplante het eers in die Perm, toe die klimaat droeër geword het, die dominante plantgroep geword.  Verskeie uitgestorwe saadplantgroepe word in die fossielrekord gevind.  Die uitgestorwe saadvarings (Pteridospermae) was een van die eerste suksesvolle groepe landplante wat in woude in die Laat Paleosoïkum voorgekom het.  Glossopteris, ‘n saadvaring-genus, was die dominante plantgroep in Gondwanaland en het reuse woude van bome en struike in die Perm Periode gevorm.  Die saadvarings het grotendeels in ekologiese belangrikheid teen die Trias Periode afgeneem en was ekologies deur perdesterte en sekere gimnosperme vervang.  Moderne gimnosperme het gediversifiseer en was dominant tot teen die einde van die Kryt waarna die blomplante gediversifiseer en dominant geword het. Saadplante word van primitiewe spoorvormende plantgroepe onderskei op grond van hul vermoë om sade te vorm. ‘n Saad is ‘n embrio wat deur voedingsweefsel omring is en deur ‘n saadomhulsel omring is.  Die embrio is ‘n diploïede sporofiet wat uit die sigoot ontwikkel het terwyl ‘n spoor ‘n haploïede sel is wat aan ‘n gametofiet oorsprong gaan gee.

Saadvaring (seed fern) is ‘n lid van die Pteridospermatophyta wat bestaan uit verskeie groepe plante wat sade gevorm het maar soos varings gelyk het.  Die vroegste bewyse vir saadvarings kom uit die Devoon (ongeveer 400 Mjg).  Hulle het gediversifiseer en gedurende die Karboon tot die Perm gedy en alhoewel hulle grootliks teen die einde van die Kryt (ongeveer 65 miljoen jaar gelede) uitgesterf het, was daar nog ‘n oorblyfsel van hulle wat op die eiland van Tasmanië tot in die Eoseen (ongeveer 56 – 34 Mjg) oorleef het.

Sakswamme (sac fungi) hoort aan die Filum Ascomycota.  Bekende voorbeelde van sakswamme is bakkersgis, brouersgis en knolswamme (truffels) en die swamme wat penisillien vervaardig.  Die kenmerkende eienskap van hierdie groep is die askus wat askospore vorm.

Sarcopterygii – sien lobvinvisse.

Sedimentêre gesteentes (sedimentary rocks) of afsettingsgesteentes is gesteentes wat uit sediment onstaan het wat oorspronklik in die vorm van modder, slik, sand, gruis of organiese materiaal in laagliggende gebiede op land of onder water afgeset is.  Gesteentes wat vorm uit vulkaniese as of uit minerale wat uit oplossing op die seevloer presipiteer word ook as sedimentêre gesteentes geag.  Sediment word gevorm deur die verwering van die moederrots, wat uit stollings-, metamorfe of sedimentêre gesteetes bestaan.  Verwering vind deur chemiese, fisiese of biologiese prosesse plaas.  Die sediment word dan deur water, wind, ys of gravitasie na die plek van afsetting vervoer.  In die afwesigheid van ‘n atmosfeer (en dus wind en presipitasie) is gravitasie een van die belangrikste natuurkragte op die maan wat vir die vervoer van sedimente soos regoliet verantwoordelik is.  Sedimentêre rotse vorm deur die kompaktering en sementering van hierdie afgesette sedimente oor miljoene jare.  Sedimentêre gesteentes vorm ‘n dun laag wat oor stollings- en metamorfe gesteentes afgeset is en wat ongeveer 73% van die Aarde se landoppervlakte bedek.  Sedimentêre gesteentes is die belangrikste bron van inligting oor die vormingsgeskiedenis van die aardoppervlakte, biostratigrafie, paleoklimatologie, paleogeografie, paleontologie en evolusie.  Sedimentêre gesteentes is ook die bron van steenkool, olie, aardgas en drinkwater.

Seelelies (sea lilies, crinoids) behoort aan die Klas Crinoidea van die Filum Echinodermata (die stekelhuidiges).  Die Crinoidea wat m.b.v. ‘n steel aan die onderliggende substraat vasgeheg is, word seelelies genoem tewyl die wat sonder stele in die water ronddryf veersterre genoem word.  Crinoidea, het soos die res van die echinodermate, ‘n vyfvoudige (pentaradiale) simmetrie maar hulle het tentakels in veelvoude van vyf m.a.w. tien of meer veeragtige tentakels.  Seelelies was baie volop in die oertyd en fossiele van hul stele is wêreldwyd in die fossielrekord teenwoordig.  Sekere kalksteenafsettings wat uit die Middel tot Laat Paleosoïkum dateer, bestaan slegs uit seeleliesteelbrokstukke.

Seepampoentjies (sea urchins) behoort aan die Klas Echinoidea van die Filum Echinodermata.  Seepampoenties is gewoonlik ronde diertjies met stekels rondom.  Hulle kom in alle oseane en op alle dieptes (tot 5 000 m onder seevlak) voor.  Hul lywe is omhul deur ‘n harde kalkagtige test met gaatjies in vir die buisvoetjies om deur te steek.  Hierdie gaatjies kom in rye voor wat in vyf groepe gerangskik is wat van die orale (aan die kant van die mond) na die aborale (die teenoorstelde kant van die mond) kante van die test strek.  Hulle beweeg stadig m.b.v. die buisvoetjies en soms ook met hul stekels.  Seepampoentjies voed hoofsaaklik op alge maar soms ook op stadigbewegende of sessiele diertjies.  Hulle fossiele verskyn vir die eerste keer in die Ordovisium ongeveer 450 Mjg.

Seesterre (sea stars) behoort aan die Klas Asteroidea van die Filum Echinodermata.  Seesterre toon soos die res van die echinodermate vyfvoudige simmetrie (pentaradiale simmetrie) maar word gekenmerk aan hul vyf vlesige tentakels.  Mense sluit dikwels die slangsterre (Klas Ophiuroidea) by die seesterre in as hulle oor die algemeen na seesterre verwys.  Seesterre kom in alle oseane van die pole tot die trope voor.  Hulle het gewoonlik ‘n sentrale skyf waaraan die vyf vlesige arms gekoppel is.  Seesterre het, soos al die ander echinodermate, nie ‘n brein nie en die aborale (boonste, of aan die teenoorgestelde kant van die mond) oppervlakte kan glad, korrelagtig of stekelrig wees.  Soos ander echinodermate het hulle ‘n buisvoetstelsel waarmee hulle beweeg.  In die geval van seesterre kom die buisvoete in rye aan die onderkant (orale kant, of aan dieselfde kant as die mond) van die tentakels voor.  Hulle is opportunistiese voeders en is meestal predatore van bentiese diertjies.  Fossiele van seesterre verskyn in die fossielrekord tydens die Ordovisium ongeveer 450 Mjg.

Sefalopode – sien Kefalopode.

Sianobakterie (cyanobacteria) of blougroen bakterieë is fotosintetiserende bakterieë wat saam met plastiede aan die Filum Cyanophyta hoort.  Sianobakterieë kom as vrylewende organismes in die see, vars water en nat grond voor.  Sommige kom in ligene as simbionte saam met swamme voor. Sianobakterieë was wêreld se eerste fotosinterende organismes wat die vermoë ontwikkel het om suiker (glukose) uit koolsuurgas en water deur middel van sonlig te vervaardig.

Siderium Periode (Siderian Period) (2500 –  2300 Mjg). ‘n Toename in die afsetting van gebande ystersteen formasies vind in hierdie tydperk plaas.  Dit was veroorsaak deur die suurstof wat sianobakterieë as neweproduk van fotosintese in hierdie tydperk vrygestel het.  Hierdie suurstof het met yster in die oseane verbind om magnetiet (Fe3O4) te vorm wat in lagies op die seebodem neergelê is.  Dit word vermoed dat toe daar uiteindelik nie meer yster oor was om met die suurstof in die water te verbind nie, die suurstof uit die water in die atmosfeer ontsnap het en so het ons suurstofryke atmosfeer gevorm.

Siluur Periode (Silurian Period) (443.8 – 419.2 Mjg) was deel van die Paleosoïkum.  Die onderste grens van die Siluur word bepaal deur die reeks uitsterwings aan die einde van die voorafgaande Ordovisium Periode waartydens ongeveer 60% van seediergenusse verdwyn het.  Die Siluur word gekenmerk aan die diversifisering van kaakvisse en beenvisse.  Meersellige lewe word op land gevestig.  Die eerste landplante verskyn – hierdie klein mosagtige plantjies groei langs mere, strome en strande.  Geleedpotiges verskyn in hierdie tydperk ook op land.

Sinapsied (synapsid) of te wel die soogdieragtige reptiele, word as die evolusionêre brug tussen reptiele en soogdiere beskou omdat hulle beide soogdieragtige en reptielagtige eienskappe het. Oor ‘n 100 miljoen jaar verander hulle vanaf diere met baie primitiewe reptielagtige kenmerke tot diere wat mens beswaarlik van ‘n soogdier kan onderskei en uiteindelik gee hulle oorsprong aan soogdiere.  Strenggesproke is soogdiere volgens kladistiese beginsels steeds deel van die sinapsiede.

Skaalbome (scale trees) behoort aan die uitgestorwe Lepidodendron genus wat boomagtige vaatplante was.  Hulle was aan die wolfskloue verwant.  Hulle het in die  Karboon gedy en het in woude voorgekom waar verteenwoordigers van hierdie genus tot oor die 30 m lank geword het.  Hierdie plante het ‘n belangrike deel van die ekologie gevorm tot en met die Laat Trias ongeveer 205 Mjg, toe hulle uitgesterf het.

Soogdiere (mammals) hoort aan die Klas Mammalia van die Subfilum Vertebrata van die Filum Chordata.  Die eerste soogdiere het in die Laat Trias ongeveer 227-201 Mjg ontstaan.  Daar was oorspronklik verskeie groepe soogdiere waarvan meeste (o.a. Morganucodonta, Docodonta, Kuehneotheria, Symmetrodonta, Multituberculata) uitgesterf het tot net drie groepe die plasentale, marsupiale en eierlêende soogdiere oorgebly het.  Soogdiere word van die ander sinapsiede onderskei op grond van die feit dat alle soogdiere drie oorbeentjies (hamer, aambeeld & stiebeuel) in die middeloor het.  Soogdiere het ook ‘n geslote verhemelte wat die mondholte van die neusholte skei, ‘n kakebeen wat uit twee dentale bene bestaan (die oorspronklike reptielkaak bestaan uit tot soveel as 14 bene) en dat die dentale been met die skwamosum been van die skedel artikuleer, die breinkaswand is verbeen en nie meer kraakbeen nie, hulle het ‘n diafragma en daarom het hulle nie buikribbes nie en hulle het twee oksipitale knobbels waarmee die skedel met die ruggraat artikuleer.  Dit is ‘n hele klomp kenmerke wat jy nie op skool geleer word nie – op skool leer mens dat soogdiere gekenmerk word aan warmbloedigheid, lewendbarendheid, soging, uitwendige oorskulpe en hare.  Ongelukkig is dit amper alles nonsens of ten minstens baie misleidend.  Wanneer mens kenmerkende eienskappe vir ‘n groep organismes uitsoek dan moet al die organismes daardie kenmerk hê en dit moet uniek aan daardie groep wees.  Voëls is nie slegs warmbloedig nie maar handhaaf ‘n meer konstante temperatuur en teen hoër temperature as soogdiere.  Daar is eierleêende soogdiere en lewendbarende nie-soogdiere.  Dolfyne en walvisse het grootliks (buiten vir gespesialiseerde snorbaardjies op die snoet as tassintuie) hul hare verloor terwyl pterosauriërs met hare bedek was.  Talle soogdiere soos dolfyne en walvisse, molle, echidnas, eendbekdiere en walrusse het nie uitwende oorskulpe nie.  Maar soogdiere en slegs soogdiere soog – vandaar die naam soogdier.  Ongelukkig fossiliseer melkkliere nie en kan dit nie in die fossielrekord opgespoor word nie.  Aangesien soogdiere in die oertyd ontstaan het is dit baie beter om skeletkenmerke as kenmerkende eienskappe te kies wanneer ons moet besluit of mens van soogdiere praat aldan nie.  Daar is ongeveer 5 400 ekstante soogdierspesies bekend.

Sooïede (zooids) is ‘n enkele diertjie wat deel van ‘n kolonie vorm.  Daar is verkeie Filums waarvan sommige spesies soos korale, bloublasies, mosdiertjies om maar ‘n paar te noem, kolonies van sooïede vorm.

Sponse (sponges) behoort aan die Filum Porifera.  Sponse is die primitiefste diere wat bestaan en hulle was die eerste diere wat in die Ediacarium verskyn.  Hulle is meersellig maar hulle liggame bevat geen weefsel nie en bestaan uit massas saamgepakte selle.  Daar is porieë en kanale wat deur die liggaam strek waardeur water met kospartikels en klein organismes vloei waarop die spons voed.

Spoorfossiel (trace fossil) of ignofossiele (ichnofossil) van die Grieks ἴχνος (“ignos”) wat “spoor” beteken, is ‘n tipe fossiel wat deur ‘n organisme agtergelaat is wat nie oorblyfsels van die dier of plant self is nie.  Dit sluit gefossiliseerde tonnels, vreetmerke op fossielblare, -bene of -hout, spore en mis in.  Spoorfossiele gee mens baie inligting oor die gedrag van organismes – hoe hulle beweeg het, waar hulle geskuil het, hoe hulle gevoed en ontlas het.  Mens kry dikwels spore van ‘n groter verskeidenheid diere in versteende oeroppervlaktes as beenfossiele in dieselfde lae van die diere wat die spore gemaak het.  Spoorfossiele kan ook vir biostratigrafiese doeleindes gebruik word, bv. die verskyning van spoorfossiele van Treptichnus pedum dui die begin van die Kambrium aan.

Stamreptiele (stem reptiles) staan ook as stam amniote, basale amniote of protoreptiele bekend.  Stamreptiele was die heel eerste amniote wat ongeveer 312 Mjg uit die reptielagtige amfibieërs (ook bekend as reptiliomorfe tetrapode) soos Seymauria ontstaan het.  Stamreptiele het ‘n mengsel van plesiomorfiese (primitiewe) basale tetrapood en nuwe reptielagtige kenmerke gehad en was so goed vir lewe op land aangepas dat hulle waarskynlik net na die water teruggekeer het om daar voor te plant.  Soos wat mens kan verwag met oorgangsvorme, is dit is baie moeilik om te bepaal watter diere reptielagtige amfibieërs is en watter amfibieëragtige reptiele is.  Aanvanklik het ons gedink dat Seymauria ‘n stamreptiel was totdat daar bewys is dat Discosauriscus eintlik Seymauria-larwes is, en dat hulle dus, ten spyte van die volwassenes se reptielagtige voorkoms, amfibieërs moet wees.  Van hierdie reptielagtige amfibieërs soos Westlothiana lyk soveel soos moderne akkedisse dat mens na die skedelelemente moet kyk om te bevestig dat hulle eintlik amfibieërs is.  Dit is natuurlik ontmoontlik om te bepaal wanneer die eerste tetrapode eiers op land gelê het en wie dit gelê het aangesien die eerste eierdoppe sag en leeragtig soos dié van akkedisse was i.p.v. kalkagtig soos voëls en dinosauriërs s’n was en dus nie maklik gefossiliseer het nie.  Die oudste amnioot kan moontlik Casineria wees, wat nog steeds ‘n temnospondiel was en dus die fisiese kenmerke van ‘n reptiliomorfe amfibieër gehad het maar eiers op land kon lê.  Dit is soos om te probeer bepaal wie die eerste Afrikaner is – was dit die molesmaker Hendrik Biebouw wat in 1707 (in Hollands) geskree het: “ik bin een Afrikaander”, of is dit Imam Abdul-Kahhar ibn Abdul-Malik wat in 1868 die eerste Afrikaans geskrif (in Arabiese skrif) vir Afrikaansprekendes geskryf het voor enigiemand anders Afrikaans geskryf het?  Die oudste onbetwisbare reptiel (en dus amnioot) waarvan ons weet is Hylonomus wie se spore in 315 miljoen jaar oue Karboon lae in Nova Scotia in die VSA ontdek is.  Die skelet van Hylonomus dui daarop dat hierdie akkedisagtige diertjie insekte gevreet het.

Stam-tetrapood (stem tetrapod) sien amfibieërs.

Statherium Period (Statherian Period) (1800-1600 Mjg) Die eerste eukariotiese eensellige organismes (protiste) ontstaan.  Die eerste superkontinent Columbia vorm.

Steenkool (coal) is ‘n brandbare swart tot bruinswart sedimentêre gesteente wat in lae in die litosfeer voorkom.  Steenkool vorm deur die verkoling (karbonisasie) van plantmateriaal wat in die oertyd onder water neergeset is.  In die noordelike halfrond is die steenkool hoofsaaklik van die plantreste van gimnospermwoude wat in die Karboon Periode afgeset is afkomstig.  In die suidelike halfrond is die steenkool hoofsaaklik van blare van Glossopteris-woude wat in die Perm Periode afgeset is afkomstig.  Veen vorm in klam afsettingsomgewings vanuit hierdie plantreste.  Wanneer nog plantmateriaal en sedimente die lae ondertoe bedek, neem die druk en hitte in die onderste lae toe.  Dit veroorsaak dat  water, koolstofdioksied en metaan uit die veen afgedryf word terwyl baie van die oorspronklike koolstof agterbly en die veen oor miljoene jare in bruinkool verander.    Soos die druk en hitte oor mijoene jare toeneem en die koolstofinhoud nog verder gekonsentreerd raak verander die bruinkool in steenkool en mettertyd in antrasiet.

Steniaum Periode (Stenian Period) (1 200 – 1 000 Mjg).  Die Superkontinent Rodinia het in hierdie tydperk gevorm.

Stollingsgesteentes (igneous rocks) is gesteentes wat vorm wanneer lawa of magma afkoel.  Magma kom binne ‘n planeet se kors of mantel voor en vorm deur ‘n verhoging in temperatuur en druk of ‘n verandering in samestelling.  Wanneer die magma ondergronds stol dan word dit ‘n intrusie genoem en wanneer dit as lawa bogronds stol dan word dit ‘n ekstrusie genoem.  Stollingsgesteentes kom in ‘n wye verskeidenheid van geologiese omgewings voor – dit vorm ongeveer 90-95% van die aardkors en die grootste deel van oseaanvloere.  Ongeveer driekwart van hierdie stollingsgesteentes op land word deur ‘n dun lagie sedimentêre gesteentes bedek.  Stollingsgesteentes is belangrik vir geochronologie aangesien dit die hoofbron van radioaktiewe elemente is wat vir radiometriese datering gebruik word.  Stollingsgesteentes is ‘n belangrike bron van minerale wat ontgin word.

Straalvinvisse (ray-finned fish) hoort aan die Subklas Actinopterygii van die Klas Osteichthyes van die Subfilum Vertebrata van die Filum Chordata.  Dit is die grootste groep werweldiere met meer as 27 000 ekstante spesies.  Actinopterygii word in twee subklasse – die Chondrostei en Neopterygii verdeel.  Die Neopterygii word verder in die infraklasse Holostei en Teleostei verdeel waarvan laasgenoemde meer as 26 000 spesies bevat wat dit die grootste werweldiergroep maak.  Die dun beenpenne wat die vinne van binne ondersteun onderskei hulle van ander visgroepe.  Hulle kom in alle oseane en in baie varswaterhabitatte voor.  Die straalvinvisse het in die Laat Siluur ongeveer 420 Mjg ontstaan.

Stromatoliet (stromatolite) is ‘n sedimentêre struktuur wat dikwels met kalksteen en dolomiet geassosieër is.  Dit was deur sianobakterieë-matte op die seevloer gevorm.  Dit vorm wanneer fyn sediment op die seevloer neersif en die bakterieë, wat in stringe voorkom, deur die sedimetêre lagie na die lig te beur om weer bo-op dit te leef en fotosintetiseer.  In die proses word die sedimente in mikroskopiese lagies gekompakteer en gesementeer en so dra dit tot die vertikale groei van die sedimentêre stuktuur by.

Superkontinent (supercontinent) is die reuse kontinentale massa wat vorm  wanneer twee of meer kontinente, teen mekaar vasgedruk word.

Suurstofkatastrofe (oxygen catastrophe) staan ook as die “Great Oxidation Event (GOE)” bekend.  Dit verwys na die tydperk (2.4 Ga) toe die Aarde se atmosfeer en die vlak oseane van destyds met ‘n reuse hoeveelheid suurstof verryk is.  Suurstof in die vorm van die molekule O2 het die Aarde se atmosfeer van ‘n reduserende tot ‘n oksiderende atmosfeer verander.  Hierdie gebeurtenis word gekenmerk aan  die verskyning van geoksideerde minerale, veral yster in die form yster(III)oksied, in rotsformasies (sien gebande ystersteenformasies) .  Hierdie suurstof word as ‘n neweproduk van fotosintese vrygestel.  Die organismes wat hiervoor verantwoordelik was, was die sianobakterieë, wat in daardie tydperk ontstaan het en in die oseane wêreldwyd versprei het.  Aangesien suurstof giftig is, het lewe, wat op daardie tydstip net uit anaerobiese prokariote bestaan het, wêreldwyd grootliks bykans uitgesterf.

Swam of skimmel (fungus or mould) is ‘n organisme wat aan die Koninkryk Fungi behoort.  Hierdie een- tot meersellige eukariotiese heterotrofiese organisme het chitien in die selwande en het meestal haploïede kerne.  Swamme bestaan uit ‘n wye verskeidenheid organismes wat wissel van eensellige tot meersellige organismes wat gis, muf, skimmel, roes, rakswamme en paddastoele en nog verskeie ander insluit.  Dit is onbekend hoeveel swamspesies daar werklik is – volgens ‘n konservatiewe skatting is daar dalk soveel as 1.5 miljoen swamspesies waarvan slegs sowat 5% geïdentifiseer en geklassifiseer is.  Swamme kom in groot getalle in die grond, lug en water, en trouens in amper elke denkbare ekostelsel, voor.

Takson (taxon) verwys na ‘n groep organismes wat nie ‘n spesifieke taksonomiese vlakbenaming soos Genus, Familie, Orde, Klas of Filum in die Linneaanse Klassifikasiestelsel het nie.

Teleost (teleost) hoort aan die Infraklas Teleostei wat die grootste groep van die Klas Actinopterygii (die Straalvinvisse) bevat.  Ongeveer 96% van alle lewende visspesies, m.a.w. ongeveer 26 000 spesies, is teleoste.  Dit is die grootste groep werweldiere op Aarde en kom van pool tot pool in alle oseane en in talle brakwater en varswater-habitatte op land voor.  Een van die grootste verskille tussen teleost visse en ander beenvisgroepe is die aanpassings in die spiere en die artikulasie van hul bokake wat hulle in staat stel om effektief te voed.  Een van die tegnieke wat talle visse gebruik is om hul bo- en onderkake vinnig vorentoe na hul prooi te beweeg en in die proses ‘n vakuum in die mond te vorm wat die kos in die mondholte insuig wanneer hulle hul monde oopmaak.

Temnospondiele (temnospondyls) behoort aan die Orde Temnospondyli.  Hierdie utigestorwe groep primitiewe amfibieërs het wêreldwyd tydens die Karboon, Perm en Trias voorgekom.  ‘n Paar spesies het tot in die Kryt Periode voorgekom waarna hulle finaal verdwyn.  Volgens hul fossiele en die sedimentêre gesteentes waarin hul fossiele voorkom kan mens aflei dat hulle vir lewe in varswater, terrestriële en mariene omstandighede aangepas was.  Temnospondiele verskil van gewone amfibieërs omdat hulle kloue, skubbe en sommiges selfs panseragtige beenplate vir beskerming gehad het.

Terrestrieël (terrestrial) verwys na land en landlewend.

Tersiêre Periode (Tertiary Period) verwys na die geologiese tydperk (66 – 2.6 Mgj.) wat op die Mioseen volg en die Kwartêr voorafgaan.  Alhoewel die term nog algemeen gebruik word, word dit nie meer formeel gebruik nie.  Die term Tersiêre Periode is deur die term Neogeen vervang.

Tetrapode (tetrapods) vorm die Superklas Tetrapoda wat die landlewende werweldiere met vier bene insluit.  Dit sluit die amfibieërs, reptiele (en dus dinosauriërs, en dus voëls) en soogdiere in.  Alhoewel dolfyne en walvisse hul agterbene en slange hul bene verloor het, is hulle steeds lede van die tetrapode aangesien hulle vanuit die tetrapode ontstaan het.  Tetrapoodfossiele ontwikkel vanuit die lobvinvisse en hul fossiele verskyn vir die eerste keer in die Devoon, ongeveer 390 Mjg.  Benewens vier bene, het daar verskeie nuwe kenmerke in die tetrapode verskyn – dit sluit die vervanging van kiewe met longe, drie hartkamers om die dubbele bloedsirkulasie meer effektief te fasiliteer en sintuie wat aangepas is om buite water te funksioneer.

Thekodontiërs (thecodonts) was reptiele wat in die Trias Periode geleef het.  Hulle was voorouers van die krokodille en dinosauriërs en dus ook van voëls en ‘n paar ander uitgestorwe groepe.  Een van hulle kenmerkende eienskappe is die feit dat hulle tande in tandkaste in die kake vasgeheg is – vandaar hulle naam.  Talle van die kenmerke wat mens in archosauriërs soos dinosauriërs, pterosauriërs, krokodille en voëls aantref, het in die thekodontiërs ontstaan.

Therapsied (therapsid) vorm die grootste en meer evolusionêr gevorderde groep Soogdieragtige reptiele het ongeveer 275 Mjg in die Vroeë Perm uit die primitiewe pelikosauriërs ontstaan en het hulle as dominante terrestriële werweldiere verplaas.  Soogdiere vorm deel van hierdie groep.  Die naam is afgelei van die Grieks “therio” wat gedierte beteken en “aps” wat boog beteken.  Die boog verwys na die jukboog in die skedel wat die temporale venster van die skedel se onderste deel vorm.  Baie van die kenmerke wat ons met soogdiere assosieër het reeds in die therapsiede ontstaan.  Die archosauriërs het grootliks die therapsiede as die dominante landlewende werweldiere in die Trias vervang maar gelukkig nie voordat die soogdiere vanuit die gevorderde therapsiede – die kuenodonte – ontstaan het nie.  Die laaste oorlewende therapsiede het in die Vroeë Kryt, ongeveer 100 Mjg uitgesterf.

Trias Periode (Triassic Period) (251,9 – 201,3 Mjg) was ‘n geologiese tydperk in die Mesosoïkum.  In hierdie tydperk diversifiseer die archosauriërs wat in die Perm ontstaan het.  Primitiewe archosauriërs, die thekodontiërs, vervang die karnivoriese sinapsiede as top-predatore op land en gee later oorsprong aan die krokodille en dinosauriërs wat belangrike nisse op land oorneem en aan pterosourërs wat die lug oorheers.  Ander reptielgroepe wat in hierdie tydperk ontstaan en diversifiseer, is die ichthyosauriërs en nothosauriërs wat die top-predatore in die see word.  Ammoniete kom in al die oseane voor.  Die karnivoriese soogdieragtige reptiele word al hoe kleiner en meer soogdieragtig in hierdie tydperk totdat die eerste soogdiere verskyn.  Groot temnospondiele (primitiewe amfibieërs) en Dicroidium saadvarings kom wydverspreid voor. Moderne korale, teleost visse en meeste isekordes verskyn ook in hierdie tydperk.  Aan die einde van hierdie tydperk begin Pangea om op te breek.  Die ekologiese ontwrigting wat met die massa-uitsterwing aan die einde van die Trias plaasgevind het, het veroorsaak dat talle spesies verdwyn wat die weg vir die dinosauriërs gebaan het en hulle die geleentheid gegee het om nog groter en meer gediversifiseerd te word.  Die naam Trias is afgelei van die feit dat hierdie geologiese stratigrafiese eenheid in drie duidelike lae in Europa verteenwoordig word – rooi rotslae onder, mariene kalsteen in die middel en ‘n laag van modder en sandsteenlae bo dit.

Trilobiete (trilobites) is ‘n uitgestorwe groep seediertjies van die Klas Trilobita van die Filum Arthropoda.  Hulle naam is afgelei van die feit dat dit lyk asof hulle liggame uit drie lengtelopende lobbe bestaan.  Trilobiete was die heel eerste groep geleedpotiges wat ontstaan het en hul verskyning in die fossielrekord word gebruik as die merker waarvolgens die aanvang van die Kambriese Periode 521 Mjg bepaal word.  Trilobiete het gedurende die Vroeë Paleosoïkum gediversifiseer en het wêreldwyd voorgekom.  Hulle eksoskelette fossiliseer maklik en hulle word goed in die fossielrekord wêreldwyd verteenwoordig.  Verskeie trilobietspesies word as indeksfossiele gebruik.  Al die trilobietordes buiten een – die Proetidae – het in die Devoon uitgesterf en dié het tydens die massa-uitsterwing aan die einde van die Perm Periode ook verdwyn.  Trilobiete het dus vir amper 300 miljoen jaar bestaan en kan dus as een van die mees suksesvolle dierklasse ooit beskou word.  Sommige spesies het in die seevloer vir kos gesoek terwyl ander in die see rondgeswem het om op plankton te voed.  Sommige was filtervoeders terwyl ander predatore en ander aasdiere was.

Tweekleppiges (bivalves) is weekdiere van die Klas Bivalvia van die Filum Mollusca.  Tweekleppiges kom hoofsaaklik in mariene omgewings voor, maar daar is ook varswaterlewende spesies.  Hulle het afgeplatte liggame wat weerskante deur skulpe (ook kleppe genoem) bedek is.  Die tweekleppiges is filtervoeders en hul skulpe is met ‘n skanier van buigbare bindweefsel aanmekaar gekoppel sodat dit oop en toe gemaak kan word om hulle in staat te stel om te voed.  Die kiewe word vir respirasie maar ook as ‘n sif vir voeding gebruik.  Meeste tweekleppiges sement hulself aan ‘n substraat vas, of begrawe hulself in die sand, of wig hul voet in die substraat in, maar daar is sommiges wat deur die water kan beweeg en sommige wat selfs kan swem.  Van die bekende verteenwoordigers van hierdie groep sluit mossels en oesters in.  Tweekleppiges het in die Vroeë Kambrium, meer as 500 jaar gelede, ontstaan.  Die Klas Bivalvia is die tweede grootste taksonomiese groep van die Filum Mollusca naas die Klas Gastropoda.

Vaatplante (vascular plants) of tracheofiete of Hoër Plante is organismes wat aan die Koninkryk Plantae hoort.  Hierdie plante besit vate vir die vervoer van water en minerale van die wortels af en metaboliete (hoofsaaklik suiker wat deur fotosintese gevorm is) van die blare af.  Vaatplante sluit wolfskloue, varings, naaksadiges en blomplante in.

Varings (ferns) hoort aan die Divisie (nie-plantkundiges sal die vlakbenaming Filum hiervoor gebruik) Pteridophyta (Polypodiopsida of Polypodiophyta).  Varings is spoorvormende vaatplante.  Geslagswisseling kom in varings voor met ‘n dominante sporofietgenerasie (die varing soos wat jy hom ken) wat spore vorm en ‘n gametofietgenerasie wat uit ‘n klein tallus (3-10 mm) bestaan waarin geslagtelike voortplanting plaasvind.  Varings besit veervormige blare met die sporangia wat op die onderste oppervlakte voorkom.  Varings het ongeveer 360 miljoen jaar in die middel van die Devoon Periode verskyn.

Vertebrate (vertebrates) of werweldiere hoort aan die Subfilum Vertebrata van die Filum Chordata.  Meeste van hierdie diere het werwels,  Die kaaklose visse of Agnatha (lampreie en slympalings) en die rotvisse van die Klas Holocephali wat aan die Vertebrata hoort het egter nie werwels het nie maar ‘n notochoord wat die liggaam ondersteun.  Hulle het egter kraakbeenelemente in die kop en kiewe wat as skelette beskou word.  Die Vertebrata bevat die kaaklose visse, kraakbeenvisse, beenvisse, amfibieërs, reptiele (insluitende die voëls) en soogdiere.  Daar is na beraming meer as 66 000 werweldierspesies.

Vredefort impakkrater (Vredefort impact crater) is die grootste astrobleem op Aarde wat in die Vrystaat rondom Vredefort suid van die Vaalrivier voorkom.  Dit was oorspronklik meer as 300 km in deursneë met ‘n kraterrand van oor die 5 km hoog.  Vandag, na meer as 2 miljard jaar se erosie, is slegs ‘n deursnit van die sentrale koepel, wat tydens die impak gevorm het, oor.  Hierdie sentrale koepel is ongeveer 70 km in deursneë en die meer erosie-bestande gesteentes het as ‘n reeks sirkelvormige randjies uitverweer.  Die Vredefortkoepel is so groot dat dit uit die buitenste ruimte gesien kan word.  Die koepel is gevorm toe ‘n meteoriet, van ongeveer 10-15 km in deursneë, die Aarde ongeveer 2 023 miljard jaar gelede getref het.  Die mantelmateriaal het teruggebons en ‘n koepel van 40 km hoog gevorm (Berg Everest is ongeveer 8.85 km bo seëspieel in vergeleke).

Weekdiere (mollusc) hoort aan die Filum Mollusca.  Weekdiere sluit die slakke of gastropode of buikpotiges (Klas Gastropoda), tweekleppiges (Klas Bivalvia), kefalopode of koppotiges (Klas Cephalopoda), tandskulpe (Klas Scaphopoda), solenogasters of wurmslakke en die Caudofoveata (Aplacophora), kewerslakke of chitons (Polyplacophora) en Monoplacophora in.  Die Klas Rostroconchia en Klas Helcionelloida is uitgestorwe groepe weekdiere.  Mollusca het in die Kambriese Periode ontstaan en gediversifiseer.  Danksy hulle skulpe word hulle goed in die fossielrekord verteenwoordig en verkeie spesies word vir biostratigrafiese doeleindes gebruik.  Weekdiere is die grootste mariene filum met ongeveer 93 000 bekende spesies.

Werweldiere (vertebrates) – sien Vertebrate.

Wolfskloue (hornworts) is vaatlose landlewende plante van die Filum (Plantkundiges gebruik die taksonomiese vlakbenaming Divisie) Anthocerotophyta.  Die sporofiet van die wolfskloue is langwerpig terwyl die gametofiet ‘n plat tallus vorm.  Wolfskloue groei in klam areas.

Ystydperk (ice age) is ‘n tydperk van duisende jare waartydens die termperatuur wêreldwyd daal en yskappe suidwaarts van die Noordpool en noordwaarts van die Suidpool oor die oseane en kontinente uitbrei.

 

 

 

Taalnotas:

Die gebruik van hoofletters

Dit is vir my moeilik om te besluit of ek groepe se name met ‘n hoofletter moet skryf of nie.  Waneer mens na leeus en tiere verwys gebruik mens uiteraard kleinletters want alle leeus is lede van Panthera leo en alle tiere is lede van Panthera tigris en niemand kan deurmekaar raak nie.  Wanneer ek na Ursus arctos in leketaal wil verwys, verkies ek om Bruinbeer te skryf eerder as bruinbeer wat mense met ‘n bruin beer kan verwar.  Ek skryf Sakswamme met ‘n hoofletter om vir die leser aan te dui dat ek na die Ascomycota verwys eerder as na ‘n sak swamme.

Genusname word altyd met hoofletters geskryf en spesiename word altyd met kleinletters geskryf.  Daar is geen uitsondering nie.  Genus en spesiename word altyd kursief geskryf (getik) maar as jy met die hand skryf, moet jy dit onderstreep om dit van die res van die skrif te onderskei.  Mens kan nooit net die spesienaam gebruik nie, mens moet die genusnaam saam met die spesienaam gebruik.  Die enigste konsessie wat gemaak word is dat mens, nadat jy die genusnaam en spesienaam, soos Homo sapiens, voluit geskryf het, jy die genus na die eerste letter kan afkort (met ‘n punt) in die res van die opstel, taak, paragraaf of wat ook al, soos dit: H. sapiens.  Hierdie letter is altyd ‘n hoofletter en die spesienaam wat daarop volg is altyd nog steeds met ‘n kleinletter geskryf al volg dit op ‘n punt.  Wanneer jy dit hardop lees, sê jy egter nie “H. sapiens” nie, maar “Homo sapiens”.

Anders as wat konvensie bepaal, gebruik ek hoofletters vir geologiese tydperke soos Eon, Era, Periode, Epog ens. net soos wat ek Berg met ‘n hoofletter skryf wanneer ek dit aan ‘n eienaam koppel soos Berg Everest.  Die geologiese tydperke moet, volgens my, as eiename beskou word.

Dieselfde geld vir die gebruik van genus, familie, orde, klas en filum.  Almal skryf dit met kleinletters wat dit baie moeilik maak vir mens om tussen die algemene gebruik van die woorde en die klassifikasierang van ‘n spesifieke groep te onderskei.  Ek voel dat dit baie meer sin maak om ‘n kleinletter te gebruik in ‘n sin soos: “Verskeie families voëls word in die vleiland verteenwoordig”.  Terwyl ek die woord met ‘n hoofletter wil skryf in die sin: “Familievoëls hoort aan die Familie Passeridae” vir dieselfde rede wat ek Berg Everest wil skryf omdat die Berg ‘n eienaam beskou word as dit met Everest gekoppel word.

Die uitgang –“iër” i.p.v. “us”.

Dinosaurus (enkelvoud), Dinosauria (meervoud) is die Latynse woorde vir dinosauriër/dinosauriërs.  Die “us” is die Latynse agtervoegsel vir een ding, “i” is die agtervoegsel vir die meervoud en “ia” is die agtervoegsel vir groep.  Die Engelse weergawe is “-ian”.  Die “-iër” is die Afrikaanse agtervoegsel (Nederlands: “-iër”, Duits: -“ier”) om die meervoud of ‘n groep aan te dui.  Dit is dieselfde rede hoekom mens amfibieërs, thekodontiërs en rhipidistiërs ook so skryf.

Die gebruik van K i.p.v. C.

Ek vertaal die Afrikaanse algemene benamings uit die oorspronklike Grieks en Latyn eerder as wat ek slaafs agter die Engelse konvensie aanloop.  Die beste voorbeeld om te illustreer hoe onnosel dit is om die konvensie te volg is die volgende: oorspronklik het die Hollanders die witrenoster die “wyd-lip renoster” genoem om dit van die “dun-lip renoster” te onderskei.  Toe die Engelse aan die Kaap kom hoor hulle dit en vertaal dit toe na “white rhino”.  Die Kaap-Hollanders glo toe dat die Engelse seker beter weet en noem dit toe slaafs agter hulle aan “wit renoster” en as die een wit is dan moet die ander renoster seker swart wees.

Kyk na die woord cephalopods wat die Engelse as sefalopods uitspreek.  Wel dit is hulle probleem en jy hoef defnitief nie met hierdie slegte gewoonte aan te gaan nie.  Die regte uitspraak wat die Griekse en Latynse konvensie volg is kefalopode. Ek weet wat sekere lesers gaan dink –“Regtig?  Hoekom maar nie “soos almal” (wat in S.A. gewoonlik maar soos die Engelse bedoel) dit as “sefalopode” uitspreek nie?”  Wel, vir dieselfde rede hoekom jy nie insekgif “soos almal” moet gebruik nie en hoekom jy ‘n groentetuin in jou agterjaart moet hê i.p.v. ‘n grasperk “soos almal”.  As almal sê die keiser het klere aan, gaan jy ook?  Engelse het nog nooit kon besluit hoe hulle C uitspreek nie – kyk maar na die woorde circle en concert – nou moet jy vra “regtig?”

Bioloë het nog altyd biologiese name op Griekse en Latynse woorde gegrond.  Dikwels word Griekse woorde verlatiniseer en dan word die K in Grieks na C in Latyn vertaal.  Maar C in Latyn word altyd as K uitgespreek en aangesien Afrikaans ‘n fonetiese taal is (ons skryf soos ons praat) hoef ons regtig nie agter mense aan te loop wat nie weet hoe om Griekse en Latynse woorde uit te spreek nie.

Nog ‘n voorbeeld om te wys in watter moeilikheid jy kom as mens die Engelse C-verwarring voortsit: die gebruik van die woorde Eoseen, Holoseen, Mioseen, Oligoseen, Paleoseen en Plioseen wat van die Engelse uitspraak van Eocene, Holocene, Miocene, Oligocene, Paleocene en Pliocene afgelei is.  Die “-cene” (in Engels), of “-seen” (in Afrikaans) agtervoegsel in Paleoseen, Mioseen, Eoseen ens. is ‘n waninterpretasie van die gelatiniseerde weergawe van die oorspronklike Grieks wat “kainos” is.  “Kainos” was verlatiniseer na “-cene”, maar i.p.v. om dit “-kene” of “-keen” uit te spreek soos wat Latynsprekendes dit sou doen, was dit as “-sien” deur Engelse uitgespreek  – en net soos met die witrenoster-verwarring het Afrikaanssprekendes gedink dat die Engelse seker beter weet en het ons al wispelende agter hulle aangeloop.

Aangesien ek nie wetenskaplike benamings radikaal kan verander nie moet ek, so bitter as wat dit is, ongelukkig met hierdie verwarring voortgaan todat Afrikaanse taal- en vakkundiges my punt ondersteun en die terme na Miokeen, Paleokeen, Eokeen ens. verander.  Ek verheug my in die feit dat ons darem dit reggekry het om Kainosoïkum (wat van dieselfde Griekse woord “kainos” afgelei is) so te skryf en uit te spreek eerder as wat ons met die uitgediende verengelsde term Senosoïkum voortgaan.

Laaste gedagte

Ongelukkig kan een mens nie die taalreëls van ‘n taal maak of handhaaf nie.  Maar vir my klink dit net so erg as: “he runned to his mô because he seed a snake” wanneer iemand moreel vir moraal, agterlosig vir agtelosig, uitgesterfde vir uitgestorwe, verwerfde vir verworwe, uitbreking vir uitbraak, of doos vir iets wat nie van plantmateriaal gemaak is nie, gebruik.  En ek voel dat as almal anders kan praat (of skryf) nes hul wil, kan ek seker ook.

 

error: Content is protected !!