Die Maan
deur François Durand
Die Aarde se Maan
Die maan is die aarde se enigste natuurlike satelliet. Al die planete in die sonnestelsel buiten Mercurius en Venus het mane, sommige het selfs meer as een. Saturnus het die meeste mane – 82, terwyl Jupiter 79 het. Selfs die mikro-planete kan mane hê. Daar is reeds meer as 200 mane in die sonnestelsel bekend en elke nou en dan word nuwe mane ontdek.
Ons Maan is die 5de grootste maan in die Sonnestelsel. Die ander mane volgens grootste na kleinste is: Ganymede (maan van Jupiter), Titan (maan van Saturnus), Callisto (maan van Jupiter) en Io (maan van Jupiter). Let op dat die grootste mane (buiten ons s’n) rondom die grootste planete wentel. Hierdie gasreuse het ook dan die grootste gravitasieaantrekkingskrag. Jupiter wat die grootste van al die planete is, het sommer vier van die sewe grootste mane in ons Sonnestelsel.
Nou hier is die interessante ding – Ganymede en Titan is beide groter as Mercurius wat die kleinste planeet in ons Sonnestelsel is. Callisto, Io, ons Maan, Europa (maan van Jupiter), Triton (maan van Neptunus) is almal groter as die mikro-planeet Pluto wat eens op ‘n tyd as een van ons planete beskou was en wat vyf mane van sy eie het!
Daar is met ander woorde geen spesifieke grootte wat ‘n maan of ‘n planeet moet wees nie. As ‘n hemelligaam rondom die son wentel is dit ‘n planeet en as ‘n hemelliggaam rondom ‘n planeet wentel (m.a.w. as dit ‘n natuurlike satelliet van daardie planeet is), beskou ons dit as ‘n maan ongeag die grootte van daardie hemelliggaam.
Waar kom mane vandaan?
Oorspronklik, met die ontstaan van ons Sonnestelsel, het die Son, Aarde, Maan en al die ander planete, mane en meeste van die asteroïede in die protoplanetêre skyf deur akkresie gevorm. Asteroïede het met mekaar gebots en groter massas gevorm en hoe groter die massa van die hemelliggaam geword het, hoe groter het sy aantrekkingskrag geword wat daartoe gelei het dat dit nog meer gas, stof, ys en asteroïede uit die ruimte daarna aangetrek geword het. So het asteroïede al groter geword, mikro-planete en planete in die protoplanetêre skyf ontstaan en mettertyd in stabiele formasie rondom die son in hulle huidige wentelbane en wentelbane ten opsigte van mekaar gevestig geraak.
Al die planete het ‘n prograde wentelbaan om die son en meeste natuurlike satelliete het ‘n prograde wentelbaan om hul planete. Met ander woorde planete wentel almal in dieselfde rigting om die son en meeste natuurlike satelliete wentel in dieselfde rigting as die rotasie van hul planete. Dit dui daarop dat amper alles in die sonnestelsel uit dieselfde oermassa wat in dieselfde rigting gekolk het, gevorm het en die hoekmomentum van die kolking van die materiaal waaruit die sonnestelsel gevorm is, behou het. Die son tol om sy eie as en hierdie beweging is ook in dieselfde rigting as die rotasie van die planete. Die planete en hul natuurlike satelliete beweeg op, of baie na aan, die sonnebaan of ekliptika wat ook dan reghoekig met die son se rotasieas is. Die sonnebaan is in dieselfde posisie as die oorspronklike afgeplatte protoplanetêre skyf en die beweging van die hemelliggame in die sonnestelsel stem grootliks ooreen met die kolkvlak en rigting van hierdie protoplanetêre skyf.
Botsings tussen hemelliggame het egter in sommige gevalle veroorsaak dat brokstukke in alle rigtings geskiet het en sal verduidelik waarom sommige kleiner hemelliggame soos Triton, een van Uranus se mane, ‘n retrograde beweging het – met ander woorde dit wentel in die teenoorgestelde rigting as die spin van Uranus. Dit dui daarop dat Triton elders gevorm het en later deur Uranus se aantrekkingskrag vasgevang is. Die Maan se wentelbaan om die Aarde kom met die sonnebaan ooreen eerder as wat dit reghoekig met die Aarde se as is wat moontlik daarop kan dui dat die aarde se as eers na die vorming van die Maan gekantel het.
Dit is verstaanbaar dat die grootste planete die grootste en meeste mane sal hê aangesien hulle aantrekkingskrag soveel groter as dié van kleiner planete is. Meeste van die groter mane is eintlik mikro-planete wat deur die planeet se gravitasieaantrekkingskrag vasgevang is. Kleiner mane soos dié van Mars – Phobos en Deimos – is niks anders as asteroïede nie. Die wentelbaan van ‘n maan word bepaal deur die afstand tussen die maan en die planeet, die grootte (massa) van die maan en die planeet wat die aantrekkingskrag tussen die twee hemelligame sal bepaal en die snelheid waarmee die hemelliggame oorspronklik beweeg het. As enige van hierdie parameters te groot of te klein was het die kleiner hemelliggaam in die ruimte weggeskiet of in die planeet soos enige ander meteoriet gebots het.
Die ringe van Saturnus was moontlik gevorm deur ‘n botsing tussen twee mane of ‘n maan en ‘n groot meteoriet wat dit in stukke laat opbreek het wat in ‘n plat skyf rondom Saturnus uitgesprei het, of dit is dalk brokstukke wat vanaf die vorming van die sonnestelsel nooit gekonsolideer het om ‘n maan te vorm nie.
As mens na die samestelling van mane kyk dui dit daarop dat mane uit konsolidasies van ruimtepuin (“space debris”) saamgestel kan word. Sommige van die grootste mane soos Triton en Titan bestaan uit groot hoeveelhede ys wat saam met rotsbrokke saamgepers is.
Hoe het ons maan ontstaan?
Ons maan is heeltemal anders as die ander mane in ons sonnestelsel. Waarteenoor die ander mane meestal mikro-planete en asteroïede is wat deur planete se aantrekkingskrag vasgevang is, is ons maan en die aarde volgens die Reuse Impak Hipotese vanuit dieselfde massa ruimtepuin na die impak van die proto-Aarde en ‘n tweede planeet, Theia, wat omtrent so groot soos Mars was ongeveer 4.5 miljard jaar gelede ontstaan. https://www.youtube.com/watch?v=o2lRpiediP8
Die Reuse Impak Hipotese word ondersteun deur die volgende feite:
- Die spin van die Aarde en die Maan se wentelbaan het dieselfde oriëntasie wat daarop dui dat dit uit dieselfde oermassa ontstaan het en die rotasie van daardie oermasse behou het.
- Maanrotse toon aan dat die Maan se oppervlakte eens gesmelt was. Die donker vlekke op die maan se oppervlakte – die sogenaamde Mares (Latyn vir see) – is gestolde lawa-vlaktes.
- Die Maan het ‘n relatief klein ysterkern.
- Die Maan se digtheid is kleiner as dié van die Aarde terwyl die Aarde swaarder en digter is as die ander rotsagtige planete.
- Bewyse van soortgelyke impakte tussen twee hemelligame wat aan skywe ruimtepuin oorsprong gegee het, is in ander sterrestelsels ontdek.
- Botsings tussen hemelliggame is konsekwent met die teorie van die ontstaan van die Sonnestelsel.
- Die stabiel-isotoop verhoudings in Maan en Aard-rotse is identies wat daarop dui dat dit uit dieselfde oermassa op dieselfde tyd ontstaan het.
Amerikaanse en Russiese wetenskaplikes het met laser waargeneem dat die Maan stelselmatig besig is om verder en verder van die Aarde te dryf. Dit beteken dat die Maan in die oertyd baie nader aan die Aarde was.
William Hartmann en Donald Davis (Icarus, 1975) het voorgestel dat daar verskeie satelliet-grootte hemelligame was wat aan die einde van die planeetvormingstydperk in die sonnestelsel rondbeweeg het wat met planete kon bots of deur hulle as satelliete gevang geword het. Hulle het voorgestel dat een van hierdie hemelligame met die Aarde gebots het wat ruimtepuin – meestal stof en brokstukke – in die ruimte in laat skiet het. Hierdie materiaal het dan deur akkresie saamgepak om die Maan te vorm. Dit sal die unieke geologiese en geofisiese einskappe van die Maan verklaar. Alastair Cameron en William Ward (Abstracts of the Lunar and Planetary Science Conference, 1976) het voorgestel dat die hemelligaam wat met die proto-aarde gebots het so groot soos Mars was. Dit sal verklaar hoekom meeste van die buitenste silikate van die kleiner hemelliggaam sou vergas het terwyl die metaalryke kern nie sou vergas het nie en binne die proto-Aarde ingedring het en by die ysterkern van die aarde gevoeg is. Dit sal ook verklaar hoekom die Aarde die hoogste digtheid van alle planete in die Sonnestelsel het. ‘n Deel van Theia se mantelmateriaal was tydens die impak ook by die Aarde s’n gevoeg. ‘n Groot hoeveelheid van die mantel en kors van beide Theia en die Aarde sou in die ruimte ingeslinger gewees het. Die meeste van hierdie ruimtepuin wat om die Aarde begin wentel het, het binne ‘n kort tydperk – waarskynlik onder ‘n eeu – gekonsolideer om die Maan te vorm. Die ruimtepuin wat tydens die botsing sou ontstaan het sal dan min yster bevat wat sal verklaar hoekom die Maan wat uit die konsolidasie van die ruimtepuin ontstaan het, yster-arm is.
Geologie van die Maan
Die geologie en geomorfologie van die Maan is in sekere opsigte anders as dié van die Aarde. Terwyl chemiese prosesse en die wette van fisika dieselfde bly, is daar bv. nie ‘n atmosfeer op die Maan nie – met ander woorde daar is geen erosie deur wind en reën nie. Die enigste verwering wat plaasvind is die effek van hoë energie-partikels, sonwind en mikrometeoriete. Daar is geen tektoniese prosesse nie en dus is daar nie plaattektoniek of bergvorming deur orogenese nie. Weens die Maan se kleiner massa het dit ook ‘n laer aantrekkingskrag as die Aarde en het dus vinnger as die Aarde afgekoel. Die maanoppervlakte is deur verskeie prosesse veral meteorietimpakte en vulkanisme gevorm. Die Maan het ‘n kors, mantel en kern.
Geologiese studies van die Maan was oorspronklik beperk tot teleskopiese waarnemings, later was studies met behulp van ruimtetuie gedoen en laastens was rotsmonsters en geofisiese data tydens die VSA se maanlandings tussen 1969 en 1972 versamel terwyl drie Russiese robottuie tussen 1970 en 1976 ook rotsmonsters versamel het. ‘n Paar meteoriete van die Maan is al op die Aarde gevind.
Alhoewel sekere dele van die maan geologies ondersoek is, is die grootste deel daarvan nog nie verken nie.
Die geologie van die maan kan in ses tydperke opgedeel word.
Ongeveer 4.5 miljard jaar gelede was die jong Maan in ‘n gesmelte toestand en was baie nader aan die Aarde geleë wat geweldige sterk getykragte op die Maan uitgeoefen het. Hierdie getykragte het die Maan in ‘n ellipsoïed vervorm waarvan die lang as na die Aarde gerig was.
Die eerste belangrike gebeurtenis in die geologiese evolusie van die Maan was die afkoeling en kristallisasie van die magma-oseaan wat na berekening 500 km diep of dieper was. Die eerste minerale wat in die magma-oseaan gevorm het was yster- en magnesiumsilikate soos olivien en pirokseen wat weens hulle digtheid dieper in die gesmolte massa ingesak het. Toe kristallisasie ongeveer 75% voltooi was, het ligter, minder digte anortosietise plagioklaas veldspaat gekristaliseer en op die magmaoseaan gedryf wat afgekoel het om ‘n anortosietiese kors van ongeveer 50 km te vorm.
Die grootste deel van die magma-oseaan het relatief vinnig (oor ongeveer 100 miljoen jaar of minder) gekristalliseer. Daar is egter magmas wat na die oorspronklike kristallisasie oorgebly het met minerale was nie versoenbaar was met die eerste chemiese verbindings wat gevorm het nie. Hierdie minerale sluit Kalium, Rare-aarde elemente en Fosfor in en staan bekend as KREEP (‘n akroniem vir K (Kalium), Rare Earth Elements en P (Phosphorus)). Die KREEP-ryke magma produseer en behou hitte danksy die teenwoordigheid van radioaktiewe Kalium, Uraan en Thorium en sou dus vir ‘n langer tyd in ‘n vloeibare toestand gebly het. Hierdie KREEP-ryke magmas het uiteindelik afgekoel en uitgekristalliseer oor ‘n tydperk van honderde miljoene tot een miljard jaar. Die KREEP-ryke magma het in die Oceanus Procellarum en Imbrium Kom in wat as die Procellarum KREEP Terrane bekend staan, gekonsentreer geraak.
Kort nadat die Maan se oppervlakte begin vorm het, het magmas wat deel van die Magnesium-suite noriete en troctoliete begin vorm. Hierdie Magnesium-suite plutonisme was hoofsaaklik beperk tot die Procellarum KREEP Terrane.
Analise van maanrotse dui daarop dat ‘n groot persentasie van die Maan impakkraters in ‘n kort tydperk tussen ongeveer 4 en 3.85 miljard jaar gelede gevorm. Hierdie gebeurtenis staan as die Maankataklisme bekend.
Die Maria (meervoud vir Mare wat Latyn vir see is) van die maan verteenwoordig basaltiese vloed-uitbarstings van tussen 1 – 4.2 miljard jaar gelede. In vergeleke met terrestriële lawas het hierdie stollingsgesteentes hoër ysterinhoud, lae digtheid en sommige bevat hoë vlakke van die titaan-ryke mineraal ilmeniet.
Die mees opvallende geologiese prosesse wat tans op die Maan plaasvind is meteorietimpakte en die kranse wat weens afkoeling en die gevolglike krimping van die maan plaasvind.
Die maanoppervlakte word deur impak-kraters, hul ejekta, a paar vulkane, heuwels, lava en laagliggende gebiede wat deur gestolde magma gevul is. Die mees opvallende kenmerk van die oppervlakte van die maan is die lig en donkerkleurige gebiede. Die hooglande is ligkleurig en word terrae (enkelvoud: terra wat Latyn vir aarde is) en die laagliggende vlaktes word maria (enkelvoud: mare wat Latyn vir see is). Dit is omdat mense, duisende jare gelede tot onlangs voor moderne teleskope bestaan het, geglo dat die ligte gebiede land is en die donker gebiede oseane is. Die hooglande bestaan hoofsaaklik uit anortosiet terwyl die maria basalties is. Die hooglande is ouer as die vlaktes en het dus meer meteorietimpakkraters.
Maangrond of regoliet
Die oppervlakte van die Maan was vir miljarde jare aan impakte van beide klein en groot asteroïede blootgestel. Hierdie proses het die oppervlaktemateriaal fyngemaal en fynkorrelrige laag stof en sand gevorm wat as regoliet bekend staan. Die dikte hiervan wissel van 2 m onder die jonger maria tot 20 m dik in die oudste dele van die hooglande. Die chemiese kenmerke van die regoliet weerspieël dit van die onderliggende gesteentes maar ook spore van die ejekta van naasliggende meteorietimpakkraters. Regoliet bevat rotse, mineraalfragmente van die oorspronklike kors en glasagtige brokstukke wat tydens meteorietimpakte gevorm het.
Interne struktuur van die Maan
Seismometers is van die eerste instrumente wat op die Maan tydens die maansendings opgerig was. Die kennis wat ons het van die interne struktuur van die Maan is gegrond op data van hierdie seismometers saam met die studie van die Maan se gravitasieveld en rotasie.
Die massa van die Maan sluit die moontlikheid van holtes onder die oppervakte uit en die gevolgtrekking is dat die Maan uit soliede rots bestaan. Die betreklike lae digtheid van die rots duiop ‘n lae ysterinhoud. Die massa van die Maan en die momentum van die Maan dui daarop dat dit waarskynlik ‘n ysterkern bevat wat ‘n radius onder 450 km het. Klein variasies in die rotasie van die Maan dui daarop dat die kern van die Maan nog steeds as ‘n vloeistof voorkom. Meeste van die ander planetêre liggame groter as asteroïede het ysterkerne wat ongeveer helfte van die massa opmaak. Die Maan is dus buitengewoon omdat sy kern maar een kwart van sy radius opmaak.
Die kors van die Maan is na berekening ongeveer 50 km dik. Minerale soos olivien en pirokseen het deur die gesmolte oppervlakte afgesak om die mantel te vorm toe die magma-oseaan gekristalliseer het. Na kristallisasie ongeveer driekwart voltooi was het anortositiese plagioklaas begin om te kristalliseer en weens die lae digtheid daarvan het dit die anortositiese kors gevorm. Die KREEP-ryke magma was oorspronklik tussen die kors en mantel ingewig.
Die magneetveld van die Maan
Die Maan het ‘n baie swak eksterne magneetveld in vergeleke met die Aarde. Die Maan se magneetveld is ook nie dipolêr (‘n Noord/Suid orïentasie) soos dié van die Aarde nie want die Maan se kern vorm nie ‘n geodinamo soos dié van die Aarde nie. Die magnetisme van die oppervlakrotse van die Maan sou gevorm het toe die geodinamo van die Maan tydens sy vroeë bestaan nog aktief was.
Atmosfere en water op mane
Hoe verder ‘n hemelligaam van die son is, hoe kouer is dit natuurlik op daardie hemelliggaam. Stowwe soos water wat meestal in vloeibare vorm op aarde sal voorkom, sal slegs as ys op planete soos Mars verder weg van die son voorkom. Dieselfde reël geld vir mane. Sommige van die groot mane wat rondom Jupiter, Saturnus en Neptunus wentel, is met ‘n dik laag ys bedek.
Van die groter mane het waarneembare atmosfere – dit is wanneer die molekules dig genoeg is om teen mekaar te bots. Sekere hemelliggame soos die Maan en Mercurius het ‘n eksosfeer wat dit omring. Eksosfere is die yl atmosfeeragtige laag wat planete en mane omring waar gasmolekules deur die aantrekkingskrag van die hemelliggaam naby die oppervlakte gehou word maar waar die gasmolekules is so yl versprei is dat hulle nie teenmekaar bots nie. Die buitenste deel van die atmosfeer van die aarde en ander planete met ‘n het ook ‘n eksosfeer waar die atmosfeer verdun todat dit in die ruimte in verdwyn.
Daar is ongeveer 106 molekules per cm3 in die Maan se eksosfeer terwyl die aarde se atmosfeer op grondvlak 1019 per cm3 is. Op Aarde word 106 molekules per cm3 (die atmosfeerdruk op die Maan) as ‘n redelike goeie vakuum beskou. Neem in ag dat daar ongeveer 0.1 – 103 atome per cm3 in die ruimte voorkom.
Titan se atmosfeer is digter as dié van die aarde (hoofsaaklik weens sy koue temperatuur) terwyl die ander mane se atmosfere duisende kere yler as dié van die aarde is. Die rede daarvoor is dat mane se aantrekkingskrag baie kleiner is as dié van planete wat wel atmosfere het. Hoe groter (swaarder) ‘n planeet is, hoe dikker en digter is die atmosfeer. Klein planete soos Mercurius het vir dieselfde rede net eksosfeer terwyl Mars se atmosfeer veel dunner en yler as dié van die aarde is. Die atmosfeer van ‘n rotsagtige planeet word hoofsaaklik deur vulkaniese gasse gevorm. As die aantrekkingskrag egter nie sterk genoeg is nie verloor die planeet of maan sy atmosfeer aan die ruimte. Io is ‘n goeie voorbeeld daarvan. Io het meer as 400 vulkane wat swaelgas en swaeldioksied uitspu wat ‘n yl atmosfeer vorm maar meeste daarvan gaan in die ruimte in en word deur die geweldige massa van Jupiter aangetrek. Daar is ‘n swaelryke plasma-torus rondom Jupiter danksy hierdie gasse wat van Io af kom.
Dieselfde reël geld vir vloeistowwe. Vloeistowwe verdamp as die dampdruk van die atmosfeer laag is. Talle mane soos Ganymede en Triton, bestaan uit groot persentasies ys: water-ys, metaan-ys, soliede stikstof en droeë ys. Die vloeistofdamp wat gevorm word wanneer dit verhit word: waterdamp (gasfase van water), metaangas (gasfase van metaan-ys), stikstof (gasfase van soliede stikstof) en koolsuurgas (gasfase van droeë ys) sal op dieselfde manier as die atmosfeer in die ruimte in verlore gaan.
Getye
Die Aarde en die Maan tol rondom hulle gemeenskaplike gravitasiemiddelpunt of barisentrum wat binne die aarde, ongeveer 4 671 km van die Aarde se middelpunt geleë is. Dit veroorsaak dat die kleiner hemelliggaam rondom die groter een spin terwyl die groter een effens rondom die barisentrum slinger.
Getye word deur die Aarde se rotasie en die gravitasieaantrekking van die Son en die Maan veroorsaak maar weens die Maan se nabyheid is die effek van die Maan baie groter op die getye as dié van die Son.
Die Aarde se oseane reageer op die Maan se gravitasieaantrekkingskrag deur om styg of te sak soos die Maan om die Aarde draai. ‘n Hooggety word veroorsaak as die see deur die Maan aangetrek word. Die hooggety wat aan die kant van die Aarde wat na die Maan gerig is, gevorm word, word die hoog-hoogety genoem en die hooggety wat aan die ander kant van die Aarde gevorm word, word die laag-hooggety genoem.
Daar is egter twee ander kragte wat die op die vorming van getye ‘n invloed het nl. friksie tussen die seevloer en die water in die oseaan en tweedens inersie. Dit veroorsaak dat die watervlak van die oseaan nie presies op sy hoogste direk onder die maan is nie maar dat dit effens agter die maan die maan se beweging volg.
Die gravitasieaantrekkingskrag van die Maan het natuurlik nie net ‘n effek op die oseane nie, maar ook op die Aardkors. Die gravitasieaantrekkingskrag van die Aarde het ‘n nog veel groter effek op die Maan as die Maan op die Aarde. Die Aarde se gravitasieaantrekkingskrag veroorsaak ‘n gety op die Maan – die maangety – waar die oppervlakte naaste aan die Aarde ‘n bult van ongeveer 50 cm hoog vorm, met ‘n soortgelyke bult aan die ander kant van die Maan. NASA se Gravity Recovery and Interior Laboratory satellite het die hoogte van 350 000 punte op die oppervlakte van die Maan waargeneem en aangesien die Maan stadig in sy baan om die Aarde slinger, kon hulle waarneem hoe die bult op die kant wat na die Aarde toe wys stadig oor die oppervlakte van die Maan beweeg.
Hoekom wys net een kant van die Maan na die Aarde?
Dit lyk van die Aarde af asof die Maan nie om sy eie as roteer nie omdat mens altyd dieselfde kant van die Maan van die Aarde af kan sien. Maar dis nie waar nie – as mens vanaf die buitenste ruimte na die Maan kyk sal mens sien dat die Maan, terwyl dit een keer rondom die barisentrum, wat dit met die Aarde deel, wentel, die Maan een keer om sy eie as roteer. Dit is hoogs waarskynlik dat die Maan se oorspronklike rotasie nie gesinchroniseerd met sy wenteling om die Aarde was nie. Dit is waarskynlik dat die effek van die gravitasieaantrekkingskrag van die hooggety van die Aarde se oseaan oor miljarde jare heen die Maan se rotasie gerem het totdat die rotasie van die Maan om sy eie as met sy wenteling om die Aarde gesinchroniseer geraak het.
Is die Maan ‘n maan of ‘n suster-planeet?
Nou vra jouself die volgende vraag: hoe groot sou die ysige mane van Jupiter, Saturnus en Uranus gewees het as hulle nader aan die son geleë was? As hulle nader aan die son was, sou die ys gesmelt het en die vloeistof sou uiteindelik verdamp het en die damp sou in die ruimte verlore geraak het en sou die rotsagtige deel van die mane aansienlik kleiner gewees het as wat dit nou is. M.a.w. as Gaymede (waarvan ongeveer helfte ys is) in ‘n wentelbaan om die Aarde gewees het, sou dit baie kleiner gewees het as wat dit nou is. En in die lig daarvan is die Aarde se Maan besonder groot vir ‘n maan.
Ganymede het ongeveer 0,0078% van Jupiter se massa, Titan is ongeveer 0.024% van Saturnus se massa en Triton is ongeveer 0,021% van Neptunus se massa terwyl die Maan egter ongeveer 1.2% van die Aarde se massa is. Met ander woorde as mens na die grootste mane in die sonnestelsel kyk is die grooteverskil tussen die Aarde en sy satelliet die kleinste van al die mane en hulle planete (‘n 1:81 verhouding). Die enigste ander mane wat om die binneste rotsplanete van die sonnestelsel wentel is Phobos en Deimos wat om Mars wentel want Venus en Mercurius het mos nie mane nie. Maar Phobos en Deimos is niks anders as asteroïede wat deur Mars se gravitasieveld vasgevang is nie.
As mens al hierdie inligting in ag neem saam met die feit dat die Aarde en die Maan uit dieselfde oermassa gevorm het, lyk dit asof die Maan nie ‘n maan is nie, maar eerder as ‘n susterplaneet van die Aarde beskou moet word.
Lees meer oor die maan in Afrikaans:
Ensiklopedie Afrikana (1982). Maan. Wêreldspektrum Vol. 17, pp. 193-203.
Maan https://af.wikipedia.org/wiki/Maan
Van Zyl, J.E. (1993). Ontsluier die heelal – ‘n inleiding tot sterrekunde. J.E. van Zyl. Posbus 35571, Northcliff, 2115.
WOORDELYS:
Akkresie (accretion): is die akkumulasie (versameling) van materie (gas, stof, rotse, ys) deur gravitasieaantrekkingskrag waaruit hemelliggame soos asteroïede, mane, mikro-planete, planete en sterre vorm.
Asteroïed (asteroid) is ‘n voorwerp in die ruimte wat wissel tussen rotse van 1 m in deursneë tot die dwergplaneet Ceres wat 1000 m in deursneë is. Asteroïede bestaan hoofsaaklik uit koolstof, silikate of metaal. As dit hoofsaaklik uit ys bestaan word dit as ‘n komeet beskou.
Barisentrum (barycentre): is die middelpunt van massa van twee of meer hemelliggame wat rondom mekaar wentel.
Ekliptiek (ecliptic) – sien Sonnebaan
Eksosfeer (exosphere): is ‘n yl gravitasiegebonde laag atome en molekules wat rondom ‘n planeet of maan voorkom. Op ‘n planeet met ‘n atmosfeer soos die aarde kom die eksosfeer tussen die atmosfeer en die ruimte voor. Op mane sonder ‘n atmosfeer kom dit op die oppervlakte voor, soms ook net wanneer die oppervlakte waar vlugtige materiale soos water, droeë ys of soliede metaan voorkom, verdamp wanneer dit deur die son verhit word. Die deeltjies van ‘n eksosfeer is so yl versprei dat hulle nie met mekaar bots nie en dus nie as ‘n gas geklassifiseer kan word nie.
Gasreuse (gas giants) is die vier grootste planete in ons Sonnestelsel: Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus.
Geodinamo (geodynamo) die roterende, konvekterende en elektries-geleidende vloeistof binne ‘n hemelliggaam wat ‘n magneetveld rondom die hemelliggaam (soos die Aarde, Mercurius, die gasreuse en die son) vorm.
Gravitasiegebonde (gravitationally bound): wanneer een hemelliggaam deur die gravitasieaantrekkingskrag van ‘n ander aangetrek word. Die maan is gravitasiegebonde aan die aarde en die planete is gravitasiegebonde aan die son.
Hemelliggaam (celestial object): ‘n natuurlike voorwerp soos ‘n ster, planeet, natuurlike satelliet, asteroïed, komeet, die Maan of die Son.
Lawa (lava): is gesmelte rots wat deur geotermiese energie gevorm word en deur skeure in ‘n planeet of maan se kors of deur ‘n vulkaniese uitbarstings op die oppervlakte uitvloei. Lawa het gewoonlik ‘n temperatuur van 700 – 1200°C. Die afgekoelde rots wat gevorm word, word soms ook soms lawa genoem. Ondergrondse magma word lawa sodra dit bogronds kom.
Maan (moon): ‘n natuurlike satelliet wat rondom ‘n planeet wentel.
Magma (magma): is die gesmelte of semi-gesmelte materiaal waaruit alle stollingsgesteentes gevorm word. Magma kom onder die oppervlakte van planete en mane voor. Die temperatuur van magma is gewoonlik tussen 700 – 1300°C.
Natuurlike satelliet (natural satellite): ‘n hemelliggaam soos ‘n maan wat ‘n gevestige wentelbaan rondom ‘n planteet het.
Olivien (olivine): is ‘n magnesium yster silikaat met die formule (Mg²⁺, Fe²⁺)₂SiO₄. Dit is die hoofbestandeel van die boonste mantel van rotsagtige planete en mane en verweer vinnig op die oppervlakte.
Orogenie (orogeny): is ‘n gebeurtenis wat die aarde se kors en boonste deel van die mantel vervorm en hul samestelling verander. Dit gebeur gewoonlik wanneer kontinentale plate teen mekaar bots en ‘n orogeniese strook ontstaan waar bergreekse vorm.
Pirokseen (pyroxene): is ‘n belangrike rotsvormende mineraal wat algemeen in metamorfe en stollingsgesteentes voorkom. Piroksene het die algemene formule van XY(Si,Al)2O6, waar X kalsium, natrium, yster (II) of magnesium en soms, maar selde, sink, mangaan of litium verteenwoordig. Y verteenwoordig chroom, aluminium, yster (III), magnesium, kobalt, mangaan, scandium, titaan, vanadium of yster (II).
Plagioklaas (plagioclase): is een van die veldspaat-minerale. Plagioklaas het ‘n chemiese samestelling tussen NaAlSi3O8 (noriet) en CaAl2Si2O8 (anotiet), m.a.w. (Na,Ca)(Al,Si)4O8. Plagioklaas is saam met kwarts een van die mees algemene rotsvormende minerale.
Planeet (planet): ‘n hemelliggaam wat groter as 1000km in deursneë is en wat om die son wentel.
Plasma-torus (plasma torus): ‘n Gas-torus is ‘n ring van gas wat rondom ‘n maan ontstaan wanneer die maan se atmosfeer deur die gravitasieaantrekkingskrag van die naburige planeet aangetrek word. Wanneer hierdie gas ge-ioniseer word, word dit ‘n plasma torus genoem.
Primêre (primary) (dit staan ook bekend as die primêre liggaam of sentrale liggaam) is die grootste fisiese hemelliggaam van ‘n gravitasie-gebonde multi-liggaam sisteem. Die primêre bevat die grootste deel van die sisteem se massa en sal gewoonlik naby op op die sisteem se barisentrum geleë wees. In die Sonnestelsel is die Son die primêre en in die geval van natuurlike satelliete vorm die planeet waarom hulle wentel die primêre.
Prograde beweging (prograde movement) is die beweging van ‘n hemelliggaam wat met die rotasie van die primêre ooreenstem.
Protoplanetêre skyf (protoplanetary disk): ‘n afgeplatte ronde skyf van materie (hoofsaaklik digte gas en stof) wat rondom ‘n nuutgevormde jong ster draai. Die planete, mane, meteoriete en komete sal uit die materie van hierdie protoplanetêre skyf ontstaan.
Regoliet (regolith): die oppervlakkige heterogene laag wat soliede rots op mane, rotsagtige planete en sommige asteroïede bedek. Dit bestaan uit stof, grond, gebreekte rots en ander materiale.
Retrograde beweging (retrograde movement) is die beweging van ‘n hemelligaam in die teenoorgestelde rigting as die rotasie van sy primêre.
Rotasie (rotation): is die spin van ‘n maan of planeet rondom sy eie as.
Ruimtepuin (space debris): Dit is gas, stof, ys en rotse wat in die ruimte dryf. Dit kan ontstaan wanneer twee hemelligame in mekaar bots of wanneer die puin van planete, mane, asteroïede en die oorblyfsels van die ster self in die ruimte geslinger word wanneer ‘n ster ontplof.
Ruimterommel (space junk): Sommige skrywers gebruik die term ruimterommel wanneer hulle na “space debris” verwys. Ongelukkig was daardie boeke lank voor die wesenlike probleem van rommel wat deur mense in die ruimte agtergelaat is, geskryf. Vandag is daar regtig rommel in die ruimte wat goed soos verfvlokkies, stukke metaal, verlate ruimteskepe, vuurpylonderdele ens. insluit. Ek verkies om hierna as ruimterommel te verwys. https://www.youtube.com/watch?reload=9&v= HVov8o9x0yI
Seismometer (seismometer): is ‘n instrument wat die beweging binne die aarde soos aardbewings, vulkaniese uitbarstings en ontploffings meet. Die interne struktuur van die aarde en die maan word met seismometers bestudeer.
Sonnebaan (ecliptic) of ekliptiek is die vlak waarin die Aarde om die Son wentel. Die wentelbane van die planete lê op of baie na aan die Sonnebaan. Die sonnebaan stem ooreen met die vlak waarin die protoplanetêre skyf geleë was.
Sonnestelsel (Solar System): dit is die son en al die planete en hul mane, asteroïede en komete wat gravitasiegebonde ten opsige van die son is.
Tektoniese prosesse (tectonic processes): is die prosesse wat in die kors van ‘n rotsagtige planeet of ‘n maan met ‘n vloeibare mantel plaasvind. Tektoniese prosesse vind hoofsaaklik rondom die kante van die tektoniese plate wat die kors opmaak plaas. Tektoniese prosesse beheer die struktuur en vorm en eienskappe van die kors van rotsagtige hemelliggame. Dit sluit die vorming en herwerking van tektoniese plate in, bergvorming, kontinentale beweging in. Tektoniese prosesse sluit ook vulkaniese aktiwiteit, tsunamis en aardbewings in.
Terrane (terrane) dit verwys na ‘n brokstuk wat van ‘n tektoniese plaat in die kors van ‘n hemelliggaam afgebreek het en na die herstolling van die oppervlakte met sy eie unieke chemiese en strukturele samestelling behoue gebly het. Die grense van ‘n terrane is gewoonlik as verskuiwings of berge op die kors sigbaar.
Veldspaat (feldspar): die groep minerale wat ortoklaas KalSi3O8 en plagioklaas (Na,Ca)(Al,Si)4O8 insluit. Veldspaat is van die belangrikste rotsvormende minerale in die Sonnestelsel. Ongeveer 41% van die aarde se kors bestaan uit veldspaat. Veldspaat is stollingsgesteentes wat vanuit magma kristalliseer maar kom ook in metamorfe gesteentes voor.
Wentel (orbit): die beweging van ‘n planeet in ‘n sirkel- of ellipsvorminge baan rondom die son, of die beweging van ‘n natuurlike satelliet rondom ‘n planeet.